Maar wag! Dit hoef nie so te wees nie. Huisgenoot het gesels met Aseema Kazi, beeldkonsultant en direkteur en stigter van The Style Factor, oor hoe om te verhoed dat inkopies jou begroting se grootste vyand word.

Hier is vyf inkopiewenke om jou minder te laat uitgee:

1. Kontant is koning

Wanneer jy kontant gebruik, is jy geneig om minder geld uit te gee – soms selfs die helfte minder as wanneer jy kaarte gebruik.

Daar is in navorsing bevind dis pynliker om met kontant as plastiek te betaal.

MRB-skanderings van mense wat moes besluit hoe om vir iets te betaal, het gewys die pynsentrums in die brein word geaktiveer wanneer hulle hoë pryse sien, terwyl die gebruik van ’n kredietkaart daardie respons afstomp.

2. Lig loop vir uitverkopings, afslag en aanlyn koopbewyse

Dis ’n algemene fout. 

Daar skort niks met items op uitverkoping koop nie, maar moenie daarvoor val nie, behalwe as jy reeds beplan het om die item te koop voor dit op uitverkoping gegaan het.

Dit klink eenvoudig, maar ons brein kan gou op hol raak.

Ons verlaat die winkel met vier hemde omdat jy een verniet kry as jy twee koop, en gee eintlik dan meer uit as wat ons op een sou uitgee, wat al was wat ons in die eerste plek benodig het.

Ons dink dus ons bespaar geld, maar eintlik is dit die teenoorgestelde.

3. Moenie met koopslawe inkopies doen nie

Makliker gesê as gedaan.

Daar is in navorsing bevestig ons vriende beïnvloed ons gewig, of ons rook en waar ons uiteet, so hoekom nie ons besteding nie? Baie mense voel die druk om by te hou by hul vriende as dit kom by geld uitgee op uiteet, toestelle en klere.

Die oplossing is nie om jou skuldbelaaide vriende af te skud nie, maar net om nie inkopies saam met hulle te doen nie. 


4.Moenie jou sintuie vertrou nie

Het jy geweet daar is gespesialiseerde maatskappye wat “stemmingsgeure” skep, oftewel aromas wat op klante gemik is, vir kleinhandelaars en ander ondernemings?

’n Roomyswinkel het byvoorbeeld ’n maatskappy gehuur om die geur van suikerkoekies aan die bopunt van die trap te laat luier en wafelhorinkies onder om die klante na die roomyswinkel op die onderste verdieping te lok.

Winkels gebruik parfuum, beligting en musiek om ’n atmosfeer te skep wat jou wil laat koop. Daar is al bevind klassieke musiek laat kopers duurder goed koop.

5.Verbreed jou inkopie-heelal

Pleks van om na jou gunstelingwinkel of die een naaste aan jou te gaan, oorweeg dit om te koop by ’n winkel wat beter waarde vir geld bied.

Talle groot winkels het verskeie handelsname onder een dak.

Hierdie winkels het gewoonlik groot afslag aan die einde van die maand of uitverkopings aan die einde van die seisoen, en jy staan ’n groter kans om items teen halfprys te kry as by ’n handelsnaam-winkel.