DIE BLOMMEVERSPREIDING

Blomme
Foto: Misha Jordaan

’n Goeie alternatief vir al jou blomme in een vaas sit is om die bos in verskeie vase of glasflesse uit te sprei. Hier het ons ’n mengsel van tweedehandse glasbottels en nuwe vase gebruik om bloemistebloekom, chelone, groen krisante en wit kantblom te vertoon.

Die enkele groen vaas vang die oog en vul die kleur van die blare aan. 

DIE GROENTEVAAS

Blomme
Foto: Misha Jordaan

Die insluiting van vrugte en groente uit die tuin of kombuis skep ’n kleurvolle en interessante rangskikking.

WENK: Wanneer jy ’n vaas met ’n wye bek gebruik, maak ’n rooster oor die bokant met kleef-band. Dit sal al die blomme regop en in posisie hou.

Ons het pere, suurlemoene, kool en groen en pers krulkool tussen die pienk sewejaartjies (Syncarpha canescens), geelbos (Leucadendron microcephalum) en lisianthus-blomme (Eustoma grandiflorum) ingedruk.

vaas
Foto: Misha Jordaan en Shelly Bergh

DIE ONTBLOTE BOL

Blomme
Foto: Misha Jordaan

Of jy blomme met ontblote bolle of wortels koop en of dit uit jou tuin kom, dis glad nie nodig om die onderste stukke af te knip nie.

Dit werk goed om visuele interessantheid by ’n deurskynende vaas te voeg, soos met hierdie uitstalling van anthuriums – veral as dit saam met ander mooi goed uitgestal word.

DIE VIGNET

blomme
Foto: Misha Jordaan en Shelly Bergh

Voeg dekorstukke by ’n blommerangskikking om ’n vignet te skep. ’n Versameling items in onewe getalle werk die beste in ’n fokuspunt soos dié een waar ons krismisrose gebruik het, solank die hoogtes en vorms wissel.

DIE BLIKVERSAMELING

blomme
Foto: Misha Jordaan en Shelly Bergh

Stof die houers af wat jy weggebêre het of koop tweedehandse ou flesse om mooi blomme in uit te stal soos ons met hierdie dahlias gemaak het. Die versameling kan bakke vir goetertjies of sleutels insluit en gee lieflike karakter aan ’n fokuspunt. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe