1. Bottels

Hou wyn veilig en bespaar ruimte in jou sak deur die bottels in jou skoene te bêre. Plaas bloot ’n skoen (verkieslik ’n tekkie) oor elke punt van die bottel en druk dit in jou sak in.

2. Muskiete

As julle las van muskiete het, voeg bondels salie by ’n kampvuur om hulle weg te hou terwyl julle laat­aand lekker langs die vuur kuier.

3. Lig

Omskep ’n ondeursigtige 2 L-melkbottel in ’n kampeerlig deur ’n koplamp daarom te bind en die lamp inwaarts te draai om die lig te versprei.

WENK: Is jou kinders verveeld? Hou hulle besig deur hulle op ’n skattejag te stuur. Maak ’n lysie met dinge wat hulle in die omgewing kan kry. Laat hulle kyk hoe vinnig hulle dit kan opspoor en afmerk.

4. Eiers

Dis baie moeite om breekbare rou eiers te vervoer. Breek dit bloot oop en giet dit in ’n deurskynende bottel. Hou dit net koud en gebruik die eiers binne ’n dag of twee.

5. Seep

Gebruik ’n aartappelskiller om ’n enkele koekie seep in ’n ­houer “seepblare” te verander. Sodoende vat die kinders ’n blaar wanneer hulle gaan stort pleks van die hele koekie.

6. Organiseer

Verander ’n skoenesak in ’n buitemuurse kombuisorganiseerder wat aan die tent gehang kan word. Vul die sakke met eet- en kookgerei en voorraad vir wanneer jy kos maak.

Koel selfdoenprojek

Dis heel maklik om koel te bly wanneer jy in die gerief van jou eie huis is, maar hoe gemaak as jy buite is?

’n Batteryaangedrewe waaier, ys, ’n polistireenkoelboks en ’n paar ­algemene stukkies gereedskap kan ’n slim draagbare lugverkoeler word wat jou die hele somer sal koel hou.  

Benodigdhede

  • Polistireenboks (R190 vir ’n 650 x 300 x 230 mm-boks by merrypak.co.za)
  • Waaier (battery- of kragaangedrewe)
  • 2 x PVC-elmboogpype, 5 cm-deursnee
  • Ys

Stap 1

Stap 1.
Stap 1.

Sny ’n gat in die deksel van die boks en maak seker die waaier pas perfek daarin. Plaas die waaier voorkant na onder in die gat sodat die lug in die boks inblaas.

Stap 2

Stap 2.
Stap 2.

Sny twee gate in die deksel vir die PVC-elmboogpype en sorg dat dit styf pas. Plaas dan die pype in die gate en draai dit in die rigting waarin jy wil hê die koel lug moet blaas.

Stap 3

Vul die boks met ys, skakel die waaier aan, en siedaar!

BRONNE: YOUTUBE.COM, BUZZFEED.COM, LIFEHACK.ORG

ONS DOEN ONS BES OM GOEIE RAAD SAAM TE STEL, MAAR JY beproef DIÉ WENKE OP JOU EIE RISIKO. HUISGENOOT AANVAAR NIE VERANTWOORDELIKHEID VIR ENIGE SKADE OF BESERING WAT DAARDEUR VEROORSAAK IS NIE.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.