Foto: Skermgreep
Foto: Skermgreep

Tóé was dit maar nog net ’n droom om saans die kospotte – en jouself – ’n ruskans te gee en eerder ’n vars bereide maaltyd by jou voordeur te laat aflewer. Of om ná werk jou skoene uit te skop en op die bank te gaan lê terwyl iemand anders jou inkopies vir jou doen . . .

Ja, wêreldwyd word die een ná die ander app ontwikkel om jou lewe makliker te maak. Suid-Afrika bly nie agter nie. Hier is agt nuttige apps wat deur Suid-Afrikaners – en vir Suid-Afrikaners – ontwikkel is.

NUTSMANTAKIES

Jobbie

Foto: Jobbie
Foto: Jobbie

Jobbie verbind jou met gekwalifiseerde, betroubare nutsmanne vir takies in en om die huis: ’n lekkende waterpyp, verfwerk en vullisverwydering – byna enigiets denkbaar.

Eugene Coetzee en Jan Vosloo van Kaapstad het die app in 2017 ontwikkel. “Die idee het ontstaan vanuit ons eie frustrasie om gekwalifiseerde nutsmanne op te spoor om alledaagse takies in en om die huis te doen,” verduidelik Eugene.

“Met voltydse werke is daar dinge waarvoor ons almal soms nie tyd het nie. En in sekere gevalle het ’n mens eenvoudig nie die kundigheid nie.”

Hoe dit werk: Jy laai die app af en plaas ’n versoek vir jou “los werkie”. Heg skermgrepe daarvan aan. Hierna sal ’n aantal nutsmanne met jou in aanraking kom en jou kwoteer – jy kies self ’n nutsman. Elkeen se verwysings word versigting nagegaan, en jy gee agterna ’n gradering.

’n Swak gradering beteken die betrokke nutsman sal nie meer gekontrakteer word nie.

Koste Gratis.

Toestel Android en iOS.

Huisgenoot se gradering 4/5

Jobbie het meer as 5 000 aflaaie op Android en byna 2 000 vir iOS. Die app is gebruikersvriendelik en die aflaaigrootte is klein (5 MB). Maak seker al jou besonderhede is verskaf, anders word jy nie geverifieer nie.

Dis ’n tydbesparende manier om dringende takies deur betroubare nutsmanne gedoen te kry. Daar is slegte nuus: Jobbie word tans nog net in Kaapstad en sy noordelike voorstede bedryf.

‘Daar’s dinge waarvoor ons soms net nie tyd het nie’

INKOPIES

Zulzi

Zulzi. Foto: Skermgreep
Zulzi. Foto: Skermgreep

Zulzi is in 2014 deur Michael Netshipise en Donald Valoyi van Johannesburg gestig. Dit was eers ’n app vir e-handel – en het handel gedryf met onder meer elektronika.

Maar in 2016, nadat die stigters ’n “gaping in die mark raakgesien” het, het hulle die e-handel-platform vernuwe met ’n hernude fokus: aanlyn inkopies.

“Ons het aanvanklik daaraan gedink om op wegneemetes te fokus, maar dieselfde vraag het heeltyd by ons bly opkom: Wat onderskei ons dan van ander gewilde apps wat reeds dieselfde doen?” vertel Donald. Die oplossing was ’n app wat gebruikers in staat stel om inkopies van die huis af te doen – en dit dan binne ’n kwessie van ’n uur by hul voordeur afgelewer te kry.

“Die doel was om ’n alledaagse takie vir mense stresvry te maak,” sê Donald. Deesdae kan gebruikers inkopies doen by meer as 100 winkels wat Woolworths, Spar, Pick n Pay, Dis-chem en Clicks insluit.

Koste Gratis.

Toestel Android en iOS.

Huisgenoot se gradering 3,5/5

Die app is gebruikersvriendelik en maklik verstaanbaar – daar is ’n rede waarom dit deur meer as 100 000 mense gebruik word. Die kommunikasie tussen die koper en die drywer is tops.

Jy kan selfs jou winkelkaarte se lojaliteitspunte gebruik! Maar daar is ook slegte nuus: ’n Diensfooi van sowat 7,5% van jou mandjie se koste word bygevoeg – en afhangend van hoe duur jou aankope is, kan die diensfooi sommer gou-gou verby R100 skiet. Zulzi dryf tans net handel in Johannesburg en Kaapstad.

’Die doel was om ’n alledaagse takie vir mense stresvry te maak’

SKOONMAAK

SweepSouth

Sweepsouth. Foto: Skermgreep
Sweepsouth. Foto: Skermgreep

SweepSouth word beskryf as die “Uber vir huiswerkers”. Dit skep deeltydse werk vir meer as 20 000 huiswerkers wat deur middel van die app besprekings aanvaar en jou huis of kantoor teen ’n tarief skoonmaak.

“(Die stigters) Alan Ribic en Aisha Pandor wou ’n verskil in die samelewing maak. Dís waar die idee van so ’n diens gebore is,” verduidelik Dean Hopf, SweepSouth se hoof van bemarking. Die idee het ontstaan nadat die egpaar in 2013 gesukkel het om ’n huiswerker op te spoor wat vir net ’n dag of twee in en om die huis kon help. Hulle het die app in 2014 ontwikkel.

“Deesdae kry ons tot en met 60 000 besprekings per maand – en dit verskaf werk en ’n inkomste aan duisende werklose mense,” sê Dean. Jy voer inligting in soos hoe groot jou huis is, na watter diens jy soek en vir hoeveel uur jy iemand wil bespreek. Die app verwerk jou versoek en bepaal die tarief en stuur dan ’n skoonmaker na jou huis.

Koste Gratis.

Toestel Android en iOS.

Huisgenoot se gradering 5/5

SweepSouth is uitstekend ontwerp. Jou skoonmaakplan kan in die fynste detail gebeur: van wat presies van die skoonmaker verwag word tot hoeveel vertrekke jou huis het. Skoonmakers is ervare en hul agtergrond is nagegaan.

En dis eenvoudig om ’n bespreking aan te pas of te herskeduleer. Jy kan dieselfde skoonmaker weekliks bespreek en jy kan maklik met haar kontak maak deur middel van die app. Die tariewe is billik.

PAMPERLANG

Prim-U

Prim-U
Prim-U

Met dié app kan jy reël vir ’n skoonheidsbehandeling by jou huis – van masserings en gesigbehande- lings tot ’n baardknip of haar- stilering. Prim-U verbind diensver- skaffers in die skoonheidsbedryf met mense oor die hele land.

Die app is in 2018 deur Thuli Hlongwane van Kaapstad ontwikkel.

“Ek is mal daaroor om gepamperlang te word en het aanvanklik daaraan gedink om my agtergrond in inligtingstegnologie daarmee te kombineer,” sê Thuli, ’n voormalige inligtingstegnologie-ontwikkelaar. “Die app was die perfekte oplossing.” Die app kan ook gebruik word om besprekings by ’n hotel of spa te maak.

Koste Gratis.

Toestel Android en iOS.

Huisgenoot se gradering 4/5

Die app vra jou nie persoonlike inligting nie – ’n pluspunt. Prim-U identifiseer jou ligging sommer gou-gou en bied dan vir jou opsies van skoonheidsterapeute of salonne naby jou. Dis werklik maklik en effektief. In kleiner gebiede is daar nie ’n legio opsies soos in die stede nie.

Die app vra jou nie persoonlike inligting nie

Trek

Droppa

Droppa. Foto: Skermgreep
Droppa. Foto: Skermgreep

Trek – moeiteloos? Dis amper te moeilik om te glo . . .

Khathutshelo Mufamadi van Johannesburg het Droppa in 2013 ontwikkel. Hy het destyds ’n vloot bakkies gehad – en wou die vloot inspan om trekke oor die hele land te doen. Jy gebruik die app om jou trek te reël: die grootte, die tipe voertuig wat jy benodig en die hoeveelheid mannekrag.

Daar is vyf opsies – van ’n minibus tot ’n agttonvragmotor.

“Ons almal weet hoe frustrerend dit kan wees om rond te bel op soek na betroubare hulp om jou meubels en kosbare besittings te trek,” sê Khathu. “Die app is juis ontwikkel om trek stresvry te maak. Ons mense is betroubaar, hulle het verwysings en werk vinnig.”

Die koste word bepaal deur die afstand tussen die oplaaiplek en die bestemming, die grootte van die huurvoertuig en die arbeid. Daar is ook ’n Express-opsie met ’n vaste tarief van R75: Dis ’n koerierdiens waar enige klein item binne 24 uur by jou voordeur afgelewer word. Droppa is beskikbaar in stede oor die hele land.

Koste Gratis.

Toestel Android en iOS.

Huisgenoot se gradering 3,5/5

Die Droppa-app sal waarskynlik op sy beste vir jou werk wanneer jy in die knyp is en nie dae of weke het om ’n trek te beplan nie. Dis maklik om ’n bestuurder en voertuig te bespreek – maar die tarief kan dalk jou bankrekening leegtap.

’n Trek van sowat 60 km tussen Johannesburg en Centurion met ’n viertonvragmotor, met plek vir waarskynlik nie veel meer as ’n eenslaapkamerwoonstel se meubels nie, sal meer as R3 000 kos.

BEURTKRAGHULP

EskomSePush

Foto: Eskom se Push
Foto: Eskom se Push

Vir die ontwikkelaars van die app, Herman Maritz van Berlyn en Dan Wells van Kaapstad, was daar net een ding erger as beurtkrag: die onaangename verrassing van ongeskeduleerde beurtkrag. Die app is in 2014 ontwikkel en was ’n onmiddellike sukses, met twee groot MTN-pryse in 2015.

EskomSePush gee jou toegang tot beurtkragskedules in jou area – en stel jou in kennis as daar ongeskeduleerde beurtkrag plaasvind.

“Niemand hou van beurtkrag nie – so ons wou ’n naam en etos skep wat mense sal aanmoedig om ’n bietjie te lag, selfs al gaan die ligte al weer af,” het Herman aan IOL verduidelik. Dis verreweg een van die gewildste apps op Android en iOS en het tans meer as 2 miljoen gebruikers.

Koste Gratis.

Toestel Android en iOS.

Huisgenoot se gradering 4,5/5

Jy gaan dalk sukkel om die tong-in-die-kies naam aan jou ma of ouma te verduidelik. Maar die app doen wat jy van hom verwag: Die gebruiker kies sy ligging en EskomSePush stuur aan jou ’n kennisgewing wanneer daar beurtkrag in jou omgewing is.

TROETELDIER-OPPASSERS

Minderz

Foto: Minderz
Foto: Minderz

Nadat Tumi Menyatswe van Kaapstad jare lank moes toekyk hoe haar vriende sukkel om betroubare kinderoppassers te vind, het sy die Minderz-app bekendgestel om juis dié kwessie aan te pak . Maar dit het aanvanklik misluk: Streng regeringsregulasies oor die moets en moenies het die idee ongewild gemaak.

Tumi het haar egter nie laat afskrik nie en die hele besigheidsmodel omgeswaai. Vandag het Minderz meer as 100 troeteldieroppassers wat jou hondekind tuis kan versorg wanneer jy nie daar is nie, daagliks kan gaan kos gee of met jou troeteldier kan gaan stap.

“Die idee vir so ’n app is juis ontwikkel weens die groot behoefte van duisende mense wat soek na betroubare oppassers om na hul dierekinders om te sien wanneer hulle hulle self nie kan nie – soos wanneer hulle nie tuis is nie,” sê Tumi.

Die maatskappy is in Kaapstad gebaseer, maar bied ook dienste aan in Johannesburg, Durban en Pretoria. Minderz het ook ’n aanlyn gemeenskap waar lede raad kan deel – soos hoe om ’n hond se naels pynloos en maklik te knip.

Koste Gratis.

Toestel Android en iOS.

Huisgenoot se gradering 4/5

Dit wat Minderz van ander apps en dienste onderskei, is waarskynlik juis dit wat sommige gebruikers sal grief. Die app het ’n ingeboude platform wat werk soos Instagram waarop jy ander gebruikers kan “volg” en foto’s van jou hondekind kan oplaai. Maar oppas – dit gebruik baie data.

Dis moeilik om te bepaal presies hoe jy ’n bespreking maak en daar is ook nie inligting oor die agtergrond van die oppassers nie.

Die app het ’n platform waarop jy foto’s van jou hondekind kan oplaai

VEILIGHEID

Namola

Foto: Namola
Foto: Namola

In ’n noodgeval wil jy nie nog skarrel op soek na noodnommers nie. Die Namola-app help hiermee: Dis ontwikkel sodat gebruikers enige noodsituasie onmiddellik kan aanmeld.

Namola is in 2017 bekendgestel deur die stigter en uitvoerende hoof, Peter Matthaei van Kaapstad. Die gebruiker versoek bystand in ’n noodtoestand met die druk van ’n knoppie. Die app gebruik jou GPS-koördinate om jou presiese ligging te bepaal. ’n Operateur van die 24/7-reaksie-beheersentrum sal jou dadelik terugbel, jou inligting en die aard van jou noodgeval bevestig en bykomende hulp van owerhede stuur.

“Ons glo dat ’n veilige Suid-Afrika slegs moontlik is wanneer gemeenskappe en wetstoepassing saamwerk,” sê Peter. “Hoe meer mense oor die hele land betrokke is, hoe minder misdadigers kan wegkom.”

Gebruikers kan vyf noodkontakte op die app lys, en dié vyf mense sal dadelik in kennis gestel word as jy bystand in ’n noodsituasie versoek het.

Koste Gratis.

Toestel Android en iOS.

Huisgenoot se gradering 4,5/5

Daar is ’n rede waarom meer as 100 000 Suid-Afrikaners die Namola-app vertrou: Die app het geen haakplekke nie en is maklik om te gebruik. Jy registreer bloot met jou selfoonnommer en e-posadres en kan dan onmiddellik bystand versoek vir ’n misdaad- of mediese noodgeval. Daar’s selfs ’n Namola-noodknoppie met ’n GPS- opsporingstoestel vir tye wanneer jy nie jou selfoon byderhand het nie, maar dit sal jou net meer as R1 000 uit die sak jaag.

Ekstra bronne: Businessinsider.co.za, iol.co.za