Ons almal weet katte – anders as honde – deel liefde uit wanneer en as hulle daarvoor lus het. Maar al lê hulle nie opgekrul op jou skoot nie, is daar subtieler tekens dat hulle sê: “Ek is lief vir jou”.

Hier is van die tekens:

1. STADIGE OOGKNIPPE

“Dit is dalk die vertoning van katliefde wat vir mense die maklikste is om te verstaan,” sê die Amerikaanse veearts en aanlyn spesialis dr. Karen Becker.

“As jou kat eers na jou staar, dan knipoog, dan sy oë wyd oopmaak, dan ’n tweede keer stadig knipoog, sê hy vir jou hy is lief vir jou en hy vertrou jou. Dis gelyk aan ’n soen.”

2. KNIE JOU

Volgens PetMD: “As jou kat opgekrul is en jou skoot knie terwyl jy hom streel, besorg hy die toegeneentheid terug en sê vir jou hy is ook lief vir jou.” Maar die knieëry kan nogal seer wees.

Probeer dus ’n versperring soos ’n kombers tussen jou bene en sy kloue sit.

3. KOPSTAMP

Dit blyk dat wanneer jou kat haar kop teen joune vryf sy jou merk met haar reuk en jou as deel van haar familie opeis.

As dit ’n kat is wat jy nie ken nie, kan jy kontak begin maak deur ’n vinger op sy neusvlak na hom uit te steek, al is hy ver weg. As hy jou vertrou, sal hy jou hand met sy wang vryf.

katte
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

4 BRING ’N GESKENK

Dit blyk die ou gesegde is waar dat die dooie muis of voël wat jou kat ingebring het in die werklikheid ’n geskenk vir jou is.

Die gesertifiseerde dieregedragkonsultant Amy Shojaz skryf: “Katte gee graag geskenke. Sterk jagterkatte wat alles van speelgoed en goggas tot muise en paddas vang, deel dikwels die skat met die mense vir wie hulle die liefste is.”

5. MAAG NA BO

Terwyl ons weet honde rol graag op hul rug en wys vir jou hul maag, is katte minder geneig om dit te doen – maar wanneer hulle dit wel doen, is dit ’n aanduiding dat hulle baie gemaklik om jou voel.

“Nie net dit nie; hulle voel geliefd en beskerm deur jou en maak hulself weerloos terwyl hulle op hul rug is,” sê IheartCats.com.

6. STERT OP

’n Kat se stert is ’n betroubare barometer van wat hulle voel, of dit vrees, woede of geluk is.

Wanneer hulle die basis van hul stert uitpof terwyl hulle dit effens bewe, is dit ’n teken dat hulle gelukkig is, So ook wanneer hulle hul stert regop hou met ’n effense kurwe aan die boonste punt.

7. MIAAU

Katte hou blykbaar die meeste van hul eie klanke vir mense en gee dikwels vir hulle spesiale miaau-klanke of spingeluide.

8. BLY NABY AAN JOU

Jou kat wil dalk nie op jou skoot lê nie, maar sit graag langs jou op die bed of op ’n tafel naby. Dit is nog ’n teken van toegeneentheid.

Party katte volg selfs hul eienaars in die huis rond – nie net vir kos nie, maar net omdat hulle daarvan hou om by hulle te wees.

katte
Foto: Gallo Images/Getty Images

Kietsfeite
  • Die huiskat is die enigste kat wat hul stert vertikaal kan hou terwyl hulle loop.
  • Katte miaau nie vir ander katte nie. Die miaau is net om met mense te kommunikeer.
  • Die reukkliere tussen die kat se oë en ore word gebruik om mense en ander katte te merk. Reukkliere aan die mond en onder die ken word gebruik om nie-lewende voorwerpe te merk.
  • Beroemde katliefhebbers sluit in die skrywer J.R.R. Tolkien, Brittanje se koningin Victoria, die kunstenaar Pablo Picasso en die musikante John Lennon, Freddy Mercury en Taylor Swift.
  • bron: catsinternational.org
Bronne: catster.com, huffpost.com
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.