Oorweeg jy dit om ’n papegaai te kry? Die voëls is wonderlike troeteldiere, maar verg ’n hoë vlak van toewyding, want hulle is uiters intelligent en kan baie lank leef.

“ ’n Papegaai is ’n lewenslange verbintenis. Hulle kan maklik tot 50 jaar lank leef,” sê Dee Hendrickx, stigter van Brainy Birds Parrot Rescue and Rehabilitation in Edenvale, Gauteng. Sy gesels met Huisgenoot oor die basiese beginsels van papegaaisorg. 

Voor jy een kry, oorweeg . . .

Grootte

Hoe groter die voël, hoe groter is die verantwoordelikheid gewoonlik. Groter voëls is dikwels raseriger, morsiger en veeleisender as kleineres. Daarom is dit gewoonlik beter om eers met ’n klein tot middelslagvoël te begin. 

Temperament

Verskillende spesies het verskillende karaktereienskappe, maar die belangrikste eienskap van alle papegaaie is dat hulle aandag van mense moet hê, sê Dee. “Geen voël moet ooit ’n mooi ornament vasgevang in ’n hok of op ’n staander wees nie. Hulle is almal sosiale diere wat in die natuur in swerms leef.”

Begroting

Groter spesies kan duisende rande kos en verg groter, duurder hokke en bykomstighede. Onthou, papegaaie kan dekades oud word en jy sal hul lewe lank vir hul voeding, huisvesting en veeartsrekenings verantwoordelik wees. 

Hoe groter die voël, hoe groter is die verantwoordelikheid gewoonlik. Daarom is dit gewoonlik beter om eers met ’n klein tot middelslagvoël te begin.

Waar kan jy een kry?

Dit is nie ’n goeie idee om ’n voël by ’n troeteldierwinkel te koop nie, sê Dee. “Jy blaas net die broeihandel in die reeds oorbevolkte eksotiesepapegaaihandelbedryf aan. “Mense is dikwels onder die indruk dat wanneer jy ’n babavoël koop die dier ’n lewenslange band met jou sal vorm. Dit is ’n mite.

“Hulle kies met wie hulle ’n band wil vorm wanneer hulle seksuele volwassenheid bereik, en 80% van die tyd is dit nie die mens wat hulle grootgemaak het nie.” Aanneming by ’n betroubare skuiling of ’n papegaai-aannemingsagentskap is ’n veel beter keuse, en jy het ’n groter kans om ’n sterk band met ’n meer volwasse voël te vorm.

“Dit is ook aanvaarbaarder in vandag se klimaat waar teel eerder as ’n mishandelende bedryf beskou word waar wilde voëls gevang en gesmokkel word.” 

‘Geen voël moet ooit ’n mooi ornament vasgevang in
‘Geen voël moet ooit ’n mooi ornament vasgevang in ’n hok wees nie’.

Basiese sorg

Vars kos en water

Dit is baie belangrik om vir jou papegaai die regte kos te gee. Hul dieet moet vars groente, vrugte, korrels, saad (baie min van die kommersiële saadmengsels) en vars boomneute eerder as grondbone insluit.

’n Klein hoeveelheid diereproteïen word ook gewoonlik aanvaar. Moenie vir jou papegaai souterige, vetterige, soet of gebraaide menskosse gee nie.

Hok

Die hok moet baie ruimte hê om in rond te beweeg, sê Dee. Maak seker daar is ’n rooster aan die onderkant om te keer dat jou papegaai in die mis grawe of beland.

Speelgoed

Papegaaie is van nature aktief, spelerig en nuuskierig. Dis uiters belangrik om ’n omgewing te skep wat hulle sal stimuleer. Daarom word sterk aanbeveel jy kry vir jou papegaai ’n verskeidenheid speelgoed.

Vrye tyd

Hulle moet minstens vier uur vrye tyd per dag buite die hok kry, sê Dee. “Dis nie net vir hul liggaamlike gesondheid baie belangrik nie, maar vir hul geestesgesondheid ook,” sê Dee.

Genoeg sonlig is ook belangrik. “Moet hulle nie heeltyd binnenshuis hou nie.” 

Waarskuwingstekens van stres

Die eerste teken dat jou papegaai verveeld of gespanne is, is selfskending soos vere uittrek. Hulle kan ook ander gedrags- en/of mediese probleme hê soos skree, kompulsief herhalende gedrag, byt, meubels of ander huishoudelike items vernietig, hulle inkeer en onttrek, vetsug, hartsiektes, diabetes, artritis en sere aan die pote (van lank op een plek sit).

“Intelligenter papegaaie soos die gryspapegaai en kaketoes raak gou verveeld,” sê Dee. “Hulle het altyd nuwe maniere van speel nodig en nuwe dinge om te verken.” 

Van nature liefdevol

“Papegaaie kan lieftallig en vriendelik wees, maar is ook baie tot jaloesie geneig,” sê Dee. “Hulle smee gewoonlik ’n band met ’n mens van hul keuse, maar is ook geneig om uiters jaloers te wees wanneer ’n nuwe mens, kind of troeteldier in hul roetine bekendgestel word.

“Maar ekstra liefde, begrip en geduld kan baie met dié emosies help.” 

Ekstra bronne: thesprucepets.com, exoticdirect.co.uk, resources.bestfriends.org; FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, SHUTTERSTOCK/GREATSTOCK