Die somer is hier, en met dié dat die kwik styg, is die meeste van ons maar alte bly om ons dag in ’n lugverkoelde kantoor deur te bring.

Maar by die huis is ons troeteldiere waarskynlik nie so gelukkig nie. Diere in die natuur het geleer om by die seisoene aan te pas, maar ons geselskapsdiere is van ons afhanklik om te sorg dat hul dag so gemaklik soos ons s’n is.

Hier is ’n paar wenke om jou wollerige en geveerde maats die hitte te help hanteer, of hulle nou in die huis of buite is.

KATTE

Foto ter illustrasie: pixabay.com

Water

Hou jou kat gehidreer. Los iewers in die skadu vir haar ’n groot bak vars water. Voeg ’n paar lepels ongesoute hoender- of beesvleisaftreksel by om haar aan te moedig om te drink.

Ontwatering kan tot ernstige siektes lei. skadu As jou kat bedags buite is, sorg dat sy tot volop skadu toegang het. Kyk dat sy nie per ongeluk toegemaak word in ’n skuur of garage, waar die temperatuur dodelik kan word, nie.

Borsel

Gekoekte pels en los hare vang hitte vas. Versorg jou kat gereeld, veral as sy ’n langhaarras is.

VOËLS

Foto ter illustrasie: http://maxpixel.freegreatpicture.com

Hokposisie

Kyk dat sy hok nooit aan te veel son blootgestel is nie. Onthou: ’n Skadukol in die oggend kan teen die middag soos ’n oond word.

Noodgeval!

Voëls het nie sweetkliere nie. Hulle koel hulself af deur vinnig asem te haal en hul vlerke van hul lyf weg te hou. As die voël tekens van oorverhitting toon, spuit hom met lou water, veral onder sy vlerke, om hom af te koel.

Badtyd

Die meeste voëls plas en pluis graag in ’n vlak bak. Los vir hom een om in te speel; dit sal hom ook help koel bly.

MARMOTTE

Foto ter illustrasie: pxhere.com

Sonsteek

Troeteldiere in ’n hok is veral kwesbaar vir hitte, want hulle kan nie daarvan ontsnap nie. Maak seker die hok kry geen direkte sonlig nie. Trek die gordyne toe om te sorg dat ’n vertrek koel bly indien nodig.

Los ’n swaaiwaaier aan om ’n ligte bries te skep.

Marmotte is sensitiewe siele en oorverhitting kan maklik tot hul dood lei. Hyging is ’n teken dat hy in die moeilikheid is. Bad of spruit hom onmiddellik met koel water.

Bly koel

Los ’n baie klam handdoek op die vloer van sy hok sodat hy daarop kan lê. As jy by die huis is, sit ’n ysblok op die hok se dak. Die koel lug sal na hom afsak.

HONDE

Foto ter illustrasie: pixabay.com

Plaspoel

Honde kan nie soos ons deur hul vel sweet om af te koel nie. Hulle sweet deur hul pootkussinkies, en deur te hyg laat honde die nodige lug deur hul lyf sirkuleer om af te koel.

Leer jou babahond om in ’n plastiekswembad af te koel en hy sal sy temperatuur kan reguleer en hope pret hê terwyl hy dit doen.

As jy in ’n droë gebied woon, kan ’n kleiner houer, byvoorbeeld ’n opwasbakgrootte-plastiekbak, ’n opsie wees om sy pote in te doop. Los baie vars, skoon drinkwater op ’n skaduryke plek.

Skoene

Voor jy vir jou hond stapskoene koop, maak seker dit is geskik vir die somer – duursame sole en maas om pote te laat asemhaal sodat dit nie oorverhit nie.

Waaiers?

Waaiers werk nie vir honde nie. Lugverkoeling werk wel. ’n Nat handdoek op vloerteëls is ook ’n wonderlike manier van afkoel.

Vries

Vul ’n 2 L-roomysbak met water of kragsop, voeg stukke vrugte en ’n paar vleiserige happies by en vries oornag. Hierdie lekkerny sal die mens se beste vriend besig, verfris en koel hou.

Die vyfsekondetoets

Staan kaalvoet of druk jou hand teen die grond en hou dit vir vyf sekondes daar. As die sypaadjie of padoppervlak vir jou te warm is, is dit ook vir Wagter te warm. Stap soggens of saans. 

VISSE

Foto: Hey Fritters (flickr.com)

Glas-akwariums

Dis dalk die slegste plek om ’n troeteldier aan te hou tensy dit ’n vis is. Dit kan in die somer soos ’n oond vol ammoniak raak. Traliehokke wat lug laat deurvloei en vir rotte, muise en hamsters klimgeleenthede bied, is veel geskikter.

Bron: Petplace.com