GELAMINEER

dekor
Elf Parquet Oak 8 mm R329,90/m², CTM

Voordele 

  • Dis maklik om te installeer.
  • Dit verg min onderhoud en maak maklik skoon.
  • Daar is bekostigbare opsies.
  • Die gehalte van gelamineerde vloere het verbeter – die duurder soorte lyk nes regte hout.

Nadele

  • Anders as vloere van regte hout kan dit nie afgeskuur en herafgewerk word nie. As dit afgeloop is, moet jy dit vervang.
  • Dit kan glad wees.
  • Die gelamineerde vloere van hoë gehalte wat nes regte hout lyk, is duur, en van die goedkoper opsies kan nagemaak lyk.
  • Dit is vatbaar vir waterskade; daarom word gelamineerde vloere nie vir badkamers aanbeveel nie. Jy kan dit in ’n kombuis gebruik, maar net as jy getrou nat plekke altyd dadelik skoonmaak.

SEMENT OF BETON

dekor
Stucco Italiano Solido Floor Plaster vanaf R340/m², Stucco Italiano

Voordele

  • Gepoleerde beton, sement en afgevlakte sement is baie duursaam en werk goed op plekke met baie voetverkeer.
  • Dis maklik om skoon te maak en te onderhou.
  • Daar is ’n verskeidenheid kleure en teksture waaruit jy kan kies – speel gerus na hartelus rond met ontwerpe.

Nadele 

  • Dit is baie hard.
  • Dit bied baie min isolering; dus sal dit koud wees. Jy kan die probleem gedeeltelik oorkom deur matte by te voeg.
  • Soos teëls kan dit baie glad wees.
  • Krake kan mettertyd ontwikkel.

TEËLS

dekor
Centro Florentine Blue Glazed Ceramic Decor 200 x 200 mm R590/m², Italtile

Voordele

  • Teëls is duursaam en kan baie voetverkeer hanteer.
  • Dit is maklik om te onderhou en skoon te maak. Dis ideaal vir vertrekke met ’n hoë humiditeit soos badkamers en vir areas waar mense dikwels mors soos kombuise.
  • Teëls is uiteenlopend en bekostigbaar en in ’n verskeidenheid groottes, kleure, teksture en ontwerpe te kry.
  • Teëls kan ’n ruimte koel hou in warm weer – ideaal vir vertrekke wat baie son en hitte kry.

Nadele

  • Teëls is baie hard en kan kraak as ’n harde voorwerp daarop val.
  • Teëls kan in die winter baie koud word; dus is dit dalk nie die beste opsie as jou huis koud is nie.
  • Dit kan glad wees; onthou dus om glyvaste matte onder los matte te sit.

REGTE HOUT

dekor
Classico Handscraped Greymist vanaf R795/m², Oggie

Voordele

  • Dis maklik om te onderhou en duursaam.
  • Jy hoef dit nie te vervang wanneer dit afloop en verweer nie, want dit kan afgeskuur en weer nuut afgewerk word.
  • Dit voeg waarde toe tot jou eiendom.
  • Daar is baie style, van tradisioneel tot modern. Jy kan dit afskuur en na jou smaak beits.

Nadele 

  • Dis die duurder opsie vir ’n harde vloerbedekking.
  • Houtvloere in areas met baie verkeer is geneig om skade te toon. Dus sal jy dalk die hout moet afskuur en weer afwerk.
  • Houtvloere kan nogal raserig wees.