Afkortings
aw – aweregs 
beg – begin
her – herhaal
ks – koussteek
pat – patroon
r – regs
rdte(s) – rondte(s)
rek – reksteek
rif – riffelsteek
RK – regte kant
st(e) – steek(steke)
tes – tesame
vermin – verminder(ing)
VK – verkeerde kant 
vlg – volgende


GROOTTE

Mus

Ontwerp in 2 groottes:

Pas vir K - M (M - G)

Kopomtrek 52 - 54 (56 - 58) cm

Warm kraag 

Slegs een grootte: Omtrek 75 cm

Lengte 34 cm  

BENODIGDHEDE

Let wel

Twee breidrade word saam gebrei as een draad.

Die mus en warm kraag word met Alpaca en Kid Silk gebrei, wat aanlyn beskikbaar is by Garn Studio (sien erkennings).

Vir die mus

  • 1 x 50 g-bol DROPS Alpaca in Light Pearl Grey kleur no. 9020
  • 1 x 25 g-bol DROPS Kid Silk in Off-white kleur no. 01
  • knoplose 5 mm-breipenne
  • 4 mm-sirkelbreipen, 40 cm lank
  • 5 mm-sirkelbreipen, 40 cm lank
  • karton vir pomponpatroonVir die warm kraag
  • 2 x 50 g-bolle DROPS Alpaca in Light Pearl Grey kleur no. 9020
  • 2 x 25 g-bolle DROPS Kid Silk in Off-white kleur no. 01S 4 mm-sirkelbreipen, 60 cm lank
  • 5 mm-sirkelbreipenne, 40 en 60 cm lank

BREIDRAAD-INLIGTING

DROPS Alpaca en DROPS Kid Silk is albei dun, sagte kantbreidrade en afsonderlik sal dit dieselfde brei as ’n standaarddikte vierdraad. Daar is 167 m op ’n 50 g-bol vir die Alpaca-breidraad en 210 m op ’n 25 g-bol vir die Kid Silk.

Afsonderlik sal jy breipenne van tussen 2,5 – 3,5 mm gebruik, maar saam sal die twee drade jou ’n spanning gee soortgelyk aan ’n standaarddikte Aran.

As jy nie dié breidraad kan kry nie, kan jy dit vervang met African Expressions Hope, wat ’n vermenging van syboklamhaar (kid mohair) en po­li­amied is en te kry is in 25 g-bolle met 212 m op ’n bol en African Expressions Soul, wat ’n vermenging is van syboklamhaar, sy, wol en poliamied en te kry is in 50 g-bolle met 200 m op ’n bol.

Albei dié breidrade word op dieselfde dikte breipenne gebrei as die breidrade wat aanbeveel word. Dit is natuurlike vesels en sag teen die vel, en wanneer een draad van elk saam gebrei word, sal dit dieselfde tekstuur en spanning gee as wat op die foto gewys word.

Albei dié breidrade is landwyd beskikbaar in ’n wye reeks kleure. Vir meer inligting oor dié breidrade, gaan na www.african.expressions.co.za. Andersins kan jy enige ander sokkiebreidraad saam met ’n borselvierdraadbreidraad van jou keuse gebruik.

Dit is ’n goeie plan om die patroon saam te neem na die breidraadwinkel wanneer jy die breidraad vir dié bykomstighede kies.

Kyk ook na die breipendikte wat aanbeveel word, sowel as die aantal meter op die breidraadetiket.

Dit is raadsaam om ’n toetslappie te brei van die twee breidrade wat jy gekies het om te sien hoe die tekstuur lyk en om seker te maak die spanning wat hier onder gegee word, is reg. 

SPANNINGS

  • 17 ste en 22 rye met 2 breidrade saam = 10 cm oor ks met 5 mm-breipenne.
  • 19 ste en 25 rye met 2 breidrade saam = 10 cm oor ks met 4 mm-breipenne. 

Let wel

Die mus is vir twee groottes ontwerp. Aanwysings vir die kleinste grootte word gegee, met die groter grootte tussen ( ) hakies; waar net een getal gegee word, verwys dit na albei groottes.

OM TE BREI

MUS

Let wel

Dit word in rdtes gebrei met ’n sirkelbreipen en ’n stel knoplose breipenne. 

Stel 76 (84) ste op met 4 mm-sirkelbreipen en 1 draad van elk van die breidrade.

Dié 2 drade word deurgaans saam gebrei.

Wanneer in rdtes gebrei word, is elke ry ’n RK-ry.

R 1 rdte.

Vlg rdte: * r2, aw2; her van * tot einde. Dié rdte vorm die dubbelrifpat. Brei in dubbelrifpat verder tot werk 4 cm van die opstelrand is.Gaan oor na 5 mm-sirkelbreipen en brei in dubbelmosstpat verder soos volg:

1e rdte: * r1, aw1; her van * tot einde.

2e rdte: * r1, aw1; her van * tot einde.

3e rdte: * aw1, r1; her van * tot einde.

4e rdte: * aw1, r1; her van * tot einde.Dié 4 rdtes stel die dubbelmosstpat vas.  Brei in pat verder tot werk 22 (23) cm van die opstelrand is.Vlg rdte – vermin-rdte: r2 tes oor al die ste [38 (42) ste].Gaan nou van die sirkelbreipen oor na die stel knoplose breipenne van 5 mm. Verdeel die 38 (42) ste eweredig oor 3 van die knoplose breipenne.

Let wel Vir die 1e grootte gaan jy 1 st minder op 1 van die knoplose breipenne hê. 

Fatsoeneer soos volg

Vlg rdte – vermin-rdte: r2 tes oor al die ste [19(21) ste].

Vlg rdte – vermin-rdte: r1, r2 tes oor oorblywende ste [10(11) ste].

Knip die breidrade af en trek dit twee keer deur die oorblywende 10(11) ste. Trek aan die punte om die ste styf teen mekaar te trek en heg goed vas. 

AFWERKING

Werk alle los breidraadpunte aan die agterkant van die werk in. Gebruik net een van die breidrade en maak ’n pompon van omtrent 6 cm in deursnee. Werk dit goed vas aan die bopunt van die mus. 

WARM KRAAG

Let wel

Om met die warm kraag te begin, brei 2 stukke heen en weer in rye op ’n sirkelbreipen. Dié 2 stukke word dan saam gesit en in rdtes gebrei tot die einde toe. 

Brei 2 stukke dieselfde: Stel 78 ste op met 4 mm-sirkelbreipen en 1 draad van elk van die breidrade. Dié 2 drade word deurgaans saam gebrei.

Aw 1 ry – dit is nou ’n VK-ry.

Brei nou in pat soos volg: Vlg ry (RK): r2, dié 2 ste is vir die rek-rand, * r2, aw2; her van * tot by laaste 4 ste, r2, r2, dié laaste 2 ste is vir die rek-rand.

Dié ry stel die rek-randste en die dubbelrifpat vas.Brei in pat verder soos ste ingedeel is tot werk 4 cm van die opstelrand is, eindig met ’n VK-ry.

Gaan oor na 5 mm-sirkelbreipen en brei steeds heen en weer in rye soos volg: Vlg ry – vermin-ry (RK): r oor al die ste en vermin 14 keer eweredig in die ry [64 ste].

Vlg ry: r. Dit sal ’n rek-riffie vorm. Brei nou in dubbelmosstpat oor dié 64 ste, met die 2 rande in rek soos voorheen, soos volg: 1e ry (RK): r2 * r1, aw1; her van * tot by laaste 2 ste, r2.

2e ry: r2, * r die r ste en aw die aw ste van vorige ry; her van * tot by laaste 2 ste, r2.

3e ry: r2, * aw1, r1; her van * tot by laaste 2 ste, r2.

4e ry: r2, * aw die aw ste en r die r ste van vorige ry; her van * tot by laaste 2 ste, r2. Dié 4 rye vorm die dubbelmosstpat. Brei in pat verder tot werk 10 cm van die opstelrand is, eindig met ’n VK-ry.  Knip breidraad af en sit voltooide stuk eenkant. Brei ander stuk net so.

Sit albei stukke saam, met RK na voor, op die 5 mm-sirkelbreipen – jy sal 128 ste op die pen hê. Brei in rdtes verder in dubbelmosstpat. Nou het jy nie meer die 2 randste in rek nodig nie. Dié ste word nou by die dubbelmosstpat ingebrei. Onthou, elke ry is ’n RK-ry wanneer in rdtes gebrei word.

Brei in pat verder tot werk 30 cm van die opstelrand is.

Gaan oor na 4 mm-sirkelbreipen en brei in dubbelrifpat verder soos volg:

Vlg rdte: * r2, aw2; her van * tot einde.

Dié rdte stel die dubbelrifpat vas. Wanneer die rifstrook 4 cm lank is, heg al die ste in rifpat af – maak seker die laaste st word goed vasgeheg. Werk alle los breidraadpunte aan die agterkant van die werk in. 

© Patroon deur Drops Design. Vir nog inligting oor dié ontwerp en breidraad, gaan na www.garnstudio.com.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.