Die oggend voor Suid-Afrika in ’n 21 dae lange inperking moet verkeer om die verspreiding van die virussiekte COVID-19 hok te slaan, staan ek voor die nog toe deur van ’n apteek.

Een van die laaste plekke waar jy op dié dag wil wees. Dis nog 20 minute voor die winkel oopmaak, maar ’n groot groep mense het reeds begin saamdrom. Die meeste dra gesigmaskers en latekshandskoene, ander het tydelike skeppings, van bandanas tot kopbande, oor hul mond en neus getrek.

Die res, soos ek, staan kop onderste bo, versigtig om nie met enigeen kontak – oog- of gewoon – te maak nie. Elkeen hou net onderlangs die deur dop.

’n Aardige groep met een ding gemeen. Angs. In die ongekende en onsekere tyd waarin die ganse wêreld tans verkeer, ervaar baie van ons die een of ander vorm daarvan, en dit kan soms moeilik wees om nie deur paniek en vrees oorweldig te word nie.

Hier is wenke hoe om kop bo water te probeer hou in ’n tyd van inperking en sosiale afstand.

Beperk die tyd wat jy aanlyn bestee

Hoewel dit belangrik is om ingelig te bly kan dit heelwat angs veroorsaak as jy konstant met nuus oor die coronavirus gebombardeer word. En met die sosiale media kan dit boonop moeilik wees om fopnuus van die ware Jakob te onderskei.

Kry jou nuus net van betroubare en gevestigde bronne en beperk die aantal kere wat jy daaroor oplees, daarna kyk of luister.

Stel vir jouself tye wanneer jy dit wel mag doen, byvoorbeeld agtuur soggens en sesuur saans, en doen jou bes om daarby te hou.

Vra ook liefs vir dié wat chronies paniek op ’n WhatsApp-groep of Facebook-tydlyn saai om daarmee op te hou of demp (mute) die groep of hou op om hulle te volg. Sulke boodskappe kan snellers wees en jou angstig laat voel.

Fokus op dit wat jy wel kan beheer

Foto ter illustrasie: pexels.com/Tatiana Syrikova
Foto ter illustrasie: pexels.com/Tatiana Syrikova

Gee jouself ’n rukkie om oor als waaroor jy weens die virussiekte bekommerd en benoud voel – jou geliefdes, jou gesondheid, die inperking, die manier hoe dit ons wêreld verander – te tob.

Maar daarna moet jy iets anders loop doen. Om buite beheer te voel, is ’n sneller vir angs.

Fokus dus eerder op dié dinge wat wel binne jou beheer is. Vra jouself af wat kan ek beheer, byvoorbeeld jou ingesteldheid, om na jouself om te sien, jou huis en onmiddellike omgewing en stuur jou gedagtes dan daarheen.

Vervang of antwoord jou paniekgedagte met ’n rasionele een.


As jy sukkel om jou malende gedagtes rondom die coronavirus te stil, probeer ’n kognitiewe gedragsterapie-oefening waar jy ’n rasionele teenargument vir elke vrees of negatiewe gedagte formuleer. Byvoorbeeld: “As my geliefdes die coronavirus opdoen, gaan hulle sterf.”

’n Feitelike teenargument wat jy vir jouself hiervoor kan maak, is: “Nee, navorsing wys dat die meeste mense wat dit opdoen, volkome herstel.”

Of wanneer jy beangs by die winkel dink: “Ek moet my trollie nou vol laai, want wie weet hoe lank ons nog ingehok gaan bly!” Vervang of antwoord jou paniekgedagte met ’n rasionele een: “Nee, die winkels gaan steeds oop wees tydens die inperking en owerhede het bevestig dat daar genoegsame voorraad is.”

Bly emosioneel verbind al moet jy sosiaal ontkoppel

Foto: pexels.com / Alok Sharma
Foto: pexels.com / Alok Sharma

Die idee om jou geliefdes en vriende 21 dae lank nie sien nie, is ’n moeilike werklikheid om te aanvaar.

  • Maak seker dat jy in dié tyd van sosiale isolasie gereeld met jou mense in verbinding bly.
  • Bel daagliks ’n geliefde of vriend en skep saans of oor naweke kuberkuiers waar jy met behulp van ’n app soos Facetime, WhatsApp of Skype mekaar kan sien, gesels en ’n gevoel van samesyn skep – al is dit nou oor die internet.

Om te weet dat jou ervaring ’n gedeelde een is, help om angs te verlig en skep hoop in ’n moeilike tyd.

Bly aktief

Foto ter illustrasie: pexels.com / Valeria Ushakov
Foto ter illustrasie: pexels.com / Valeria Ushakova

Met gimnasiums, strande en selfs om met jou hond deur jou buurt te stap wat nou verbode is, wonder baie hoe hulle sonder dié uitlaatklep gaan klaarkom. Oefening is ’n uitstekende teenvoeter van stres en angs omdat dit die goedvoelhormoon endorfien vrystel.

Doen jou bes om dit by jou daaglikse roetine in te sluit en pas jou oefensessie by jou omgewing aan, of jy nou buite in die tuin rondstap, jou leefvertrek in ’n aërobiese of yogastudio omskep, aanlyn ’n oefenprogram volg of sommer strekoefeninge by jou lessenaar doen. Lees meer oor kreatiewe maniere om tuis te oefen by Huisgenoot se oorlewingsgids. 

Bederf jouself

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Om jou kombuiskaste reg te pak, huistakies te takel en aanlyn kursusse te volg is als sinvolle maniere om jou besig te hou en angs te verlig.

Maar dis ewe belangrik dat jy ook tyd inruim om net te ontspan en jouself ’n bietjie te bederf – ja, selfs in ’n tyd van krisis.

Gun jouself tyd om dinge te doen waaruit jy genot put. Of dit nou is om ’n boek te lees of na ’n fliek te kyk wat jy nog altyd wou lees of sien, ou gunstelinge af te stof – hallo, Harry Potter-marathon – in ’n bad te ontspan of jou eie pasta te maak – maak ’n punt daarvan om die komende weke dinge te doen wat jou vreugde bied.

Praat as jy sukkel

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

As jy werklik met jou “nuwe normaal” sukkel en die angs om die coronavirus dreig om jou te oorweldig, reik uit en kry hulp.

Jy is nie alleen nie, ons sal saam sterker aan die ander kant uitkom en, my gunsteling, ook dít sal verbygaan.

Jy kan by steungroepe aansluit of selfs een stig of met die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angs-steungroep (Sadag) in verbinding tree.

Dié organisasie bied verskeie hulpopsies onder meer ’n aanlyn gids met gratis materiaal en video’s oor kwarantyn, sosiale ontkoppeling en self-isolasie en ’n berader wat op WhatsApp beskikbaar is by 076-882-2775.

Laastens, moet jy jouself ’n cliché of twee toelaat. Net omdat dit oorgebruik is beteken nie dit het nie waarde nie. Hier is myne waaraan ek in hierdie moeilike en onseker tyd sal vashou: Jy is nie alleen nie, ons sal saam sterker aan die ander kant uitkom en, my gunsteling, ook dít sal verbygaan.

Ekstra bronne: nytimes.com; theguardian.com; sadag.org; cogbtherapy.com