Maar dis onvermydelik dat jy of iemand in jou gesin iewers die winkels gaan aandurf om inkopies te doen, en dan is daar ook sekere stappe wat jy kan volg om seker te maak jy en jou gesin bly veilig.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) kan die virus enigiets van ’n paar uur tot ’n paar dae lank op ’n oppervlak oorleef. Dit hang als af van die temperatuur, die sort oppervlak en die humiditeit.

Die virus word deur druppels versprei wanneer iemand hoes, nies of praat. Die druppels is te swaar om in die lug te hang en val dan na die oppervlak en mense kan so aangesteek word as hulle met die oppervlak in aanraking kom.

Juis daarom is die belangrikste reël wat reeds vroeg in dié krisis wyd en syd verkondig is om jou hande gereeld en deeglik te was, en met behulp van handontsmetmiddels skoon te hou.

Was jy jou hande reg? Kyk hier vir wenke.

1. Vat jou eie handontsmetmiddel saam

Hoewel die meeste winkels handonsmetmiddels by hul ingange het, is dit altyd wys om jou eie ook saam met jou te neem, ingeval hulle s’n op is. Reinig jou hande voor jy ingaan winkel toe en weer voor jy in jou motor klim.

2. Vee die waentjie se handvatsel af

Winkeltrollies se handvatsels is ’n broeiplek vir bakterieë. Toe navorsers van Iowa City in Kalifornië in 2012 85 winkeltrollies vir bakterieë getoets het, het hulle bakterieë van die spysverteringstelsel op 75% van die winkeltrollies se handvatsels gekry.

Die waarskynlikheid dat die virus op die handvatsels kan voorkom is dus groot. Maak seker jy vee die trollie se handvatsels af en ontsmet dit. Jy kan ook met ’n sneesdoekie daaraan vashou, en die doekie agterna weggooi wanneer jy klaar is met die waentjie. Onthou om jou hande te ontsmet!

3. Gaan doen jou inkopies vroeg

Baie winkels maak in hierdie tyd vroeër toe om vooraadopnames te doen en die winkels te ontsmet. Probeer om so vroeg as moontlik jou inkopies te gaan doen wanneer die rakke vol is en die winkel op sy skoonste is.

4. Vat jou eie inkopiesakke saam

Gebruik jou eie inkopiesakke – verkieslik sake van materiaal wat jy kan was wanneer jy by die huis kom. Gebruik ook handreiningsmiddel as jy klaar die sakke en jou aankope hanteer het.

5. Beperk jou besoeke aan die winkels

Probeer om genoeg voorraad te koop sodat jy nie meer as een keer per week winkels toe hoef te gaan nie. Volgens die WGO is elke besoek aan die winkel ’n risiko om die virus op te doen.

Maar onthou dat ander mense óók hul inkopies wil doen en nie voor leë rakke te staan wil kom nie. Hou dus matigheid voor oë en koop net wat jy en jou gesin realisties in ’n week gaan nodig kry.

Moet ek die houers van my kruideniersware afvee as ek by die huis kom?

Volgens die WGO vaar die virus nie goed op oppervlakke van papier en karton nie, en hoewel dit ’n geruime tyd op op harde oppervlaktes kan oorleef, is die risiko laag dat dit op platiek- en glashouers sal voorkom. Om veilig te wees, kan jy die houers met ’n wet wipe afvee voor jy hulle in die kaste of in jou yskas bêre. En onthou die goue reël: Was jou hande ná jy die inkopies weggepak het.

Moet ek al die produkte wat ek gekoop het ontsmet?

Volgens navorsers is dit nie nodig nie. Vars produkte wat rou geëet word, moet egter deeglik gewas word en jy moet jou hande was as jy klaar die verpakking hanteer het.

Nog nuttige wenke:

  • Moenie onnodig angstig word as jy inkopies moet gaan doen nie. Gebruik handontsmetmiddel en doen jou inkopies soos wat jy dit altyd sou doen.
  • Maak ’n lys van wat jy nodig het om jou inkopies sorgvuldig en so vinnig as moontlik te kan doen – en nie weer hoef te gaan omdat jy iets vergeet het nie!
  • Probeer om altyd een meter van ander kopers te bly.
  • Jou uitstappie winkel toe is dalk ’n welkome ontsnapping van die inperking tuis, maar moenie drentel nie – kry wat jy moet kry en gaan weer huis toe!

Ekstra bronne: BBC.com, sciencealert.com, nytimes.com, who.int