Party mense noem dit ’n “potgooi”, ander praat van ’n podsending, en heelwat verkies die oorspronklike Engelse woord, “podcast”. Maar dit maak nie saak wat jy dit noem nie, ál meer mense luister daarna.

Volgens Reuters se digitale nuusverslag van 2019 luister byna 50% van Suid-Afrikaners met internettoegang nou in enige gegewe maand na ’n podsending.

As jy nog nie een van dié bekeerlinge is nie, voel jy dalk nog ’n bietjie oorweldig omdat jy nie presies weet hoe dit werk nie.

Ons beantwoord die algemeenste vrae – en verduidelik stap vir stap hoe jy na podsendings kan luister.

Wat is ’n podsending?

’n Podsending is ’n klankprogram waarna jy op jou slimfoon of deur jou rekenaar kan luister. Dit kan ’n reeks wees, met ’n verskeidenheid episodes wat op mekaar volg, of ’n eenmalige uitsending. Die woord “podcast” is geskep as ’n kombinasie van die woorde “iPod” (Apple se MP3-speler wat in 2001 bekendgestel is) en “broadcast”. 

Die meeste podsendings het  ’n aanbieder, soos dié van ’n radioprogram, wat onderhoude voer, onderwerpe bespreek of ander insetsels bekendstel. Dit kan ’n groot verskeidenheid genres en onderwerpe dek: aktuele sake, kos en resepte, boeke of musiek, verhoudings, fiksheid, lewenswyshede . . . noem maar op en daar sal ’n podsending – of 10! – oor die onderwerp wees.

Dit verskil van ’n regstreekse radioprogram omdat jy nie noodgedwonge net kan luister na dít wat oor die golwe speel wanneer jy inskakel nie. Jy kan self kies waarna jy wil luister en ook wanneer jy daarna wil luister.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dis een van die redes vir die gewildheid van podsendings: Jy kan luister na die programme waarin jy spesifiek belangstel wanneer dit jou die beste pas – in die verkeer, terwyl jy die skottelgoed was of in die tuin werk of wanneer jy ná ’n lang dag op die rusbank ontspan.

Waar jy met radio beperk is tot wat oor die frekwensies in jou omgewing uitgesaai word, is daar geen perke aan die podsendings waarna jy kan luister nie. Baie radiostasies – internasionaal sowel as plaaslik – het ook deesdae hul eie podsendings; dus kan jy daarna luister lank nadat ’n program regstreeks uitgesaai is.

Omdat ’n mens betreklik min toerusting nodig het om ’n podsending op te neem en dit beskikbaar te stel, kan baie meer mense as net gevestigde uitsaaiers dié medium gebruik. Dit beteken meer onafhanklike programme is beskikbaar – en boonop ’n groter verskeidenheid waaruit jy kan kies.

Maar dit beteken natuurlik ook dat jy self die kaf van die koring moet skei omdat ’n uitsaaier dit nie namens jou doen nie.

Op die web

  • As jy weet watter podsending jy soek, kan jy dié naam en die woord “podcast” sommer op Google intik om daarby uit te kom. Jy sal dit dan ontdek op die webtuiste waar dit lê. Jy kan daarna luister deur bloot op die “Play”-knoppie te druk.
  • Jy kan ook aanlyn ’n stroomdienswebtuiste vir podsendings besoek. Verskeie sulke dienste is beskikbaar, onder meer spreaker, soundcloud en iono.fm. Hier sal jy ’n uiteenlopende versameling podsendings bymekaar kry. Jy kan met die soekfunksie soek na die spesifieke podsending waarna jy wil luister of kies uit die uiteenlopende opsies wat gebied word. Druk bloot op die “Play”-knoppie om te luister.
  • Jy kan ook Apple se musiek-en podsendingsprogram, iTunes, aflaai. Jy benodig nie ’n Apple-foon of -rekenaar om dit te gebruik nie. Gaan na itunes om dit op jou rekenaar te installeer. Gebruik dan die soekfunksie regs bo en tik die naam van die podsending waarna jy wil luister daar in. Klik op ’n episode en op die “Play”-knoppie om weg te val. Op iTunes kan jy podsendings volgens onderwerp of genre soek – en dié program wys jou watter podsendings in jou land en elders in die wêreld gewild is.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

    Gebruik ’n app

    Jy kan natuurlik met jou slimfoon na ’n podsending op die web luister soos hier bo bespreek, maar dit werk selfs beter om ’n spesiale app vir podsendings op jou foon af te laai. As jy een van hierdie apps aflaai, kry jy toegang tot ’n magdom verskillende podsendings.

    Sommige sal eenmalige programme wees, terwyl ander reekse sal wees met episodes wat op mekaar volg.

    Met jou app kan jy ook op ’n spesifieke of vir verskeie podsendings inteken. Dit beteken die app sal nuwe episodes daarvan outomaties in jou persoonlike biblioteek aflaai sonder dat jy daarvoor hoef te soek. Die app sal vir jou ’n kennisgewing stuur wanneer dit beskikbaar is en jy kry dit dan in jou biblioteek. Verskeie apps is beskikbaar. Party is gratis, maar ander het ’n koste omdat hulle ekstra funksies bied.

    Die volgende apps is gratis: 

    • Met ’n iPhone: Besoek Apple se App Store. Gebruik Apple Podcasts (dis reeds op jou iPhone gelaai wanneer jy dit kry) of laai Overcast of Podbean af.
    • Met ’n Android-foon: Besoek Google se Play Store. Laai Google Podcast, Podcast Addict of Podbean af.

    Gebruik die app so:

    1. Gaan na jou app-winkel en kies ’n app.

    2. Laai dit af en registreer met jou e-posadres.

    3. Maak die app oop en tik die podsending waarna jy wil luister in die soekblokkie in.

    4. Klik op die podsending se ikoon om al die beskikbare episodes te sien.

    5. Klik op die “Subscribe”- of “Follow”-knoppie as jy wil hê nuwe episodes moet in jou biblioteek afgelaai word en kennisgewings van nuwe episodes wil ontvang.

    6. Klik op ’n episode en dan op die “Play”-knoppie om te begin luister

    7. As jy van die app hou, gee dit ’n goeie gradering (’n punt uit vyf). Dit wys die app watter soort podsendings jy geniet. So kan dit vir jou aanbevelings maak van ander soortgelyke podsendings waarvan jy dalk sal hou.

    Hoe luister ek na ’n podsending?

    Hoeveel kos dit ?

    Sommige stroomdienswebtuistes vra ’n intekentarief voor jy toegang tot al hul podsendings kan kry, maar die meeste is gratis om na te luister.

    Dié op iTunes en die apps wat ons in die artikel noem, is almal gratis.

    Party het advertensieonderbrekings; ander nie.

    Jy betaal vir die data wat jy gebruik wanneer jy dit stroom of aflaai. Dis dus ’n goeie idee om net wanneer jy toegang tot Wi-Fi het die episodes af te laai om in jou biblioteek te bêre. Jy kan dan later daarna luister sonder om enige data te gebruik.

    Dit is belangrik dat jy dan in jou app-verstellings aandui nuwe episodes moet net oor Wi-Fi afgelaai word, anders sal jou app soms data gebruik om dit af te laai.

    Huisgenoot se eie podsendings

    Huisgenoot bied ook nou twee gratis podsendings waarna jy kan luister!

    L is vir Liefde
    Huisgenoot: Agter die storie
    • In L is vir liefde word ware liefdesverhale deur die Huisgenoot-joernalis Carla Coetzee vertel en voer sy onderhoude met gewone mense oor hul unieke liefdespad. Party van die stories is romanties; ander uiters onkonvensioneel . . . ’n Nuwe episode van L is vir liefde word op die eerste Vrydag van elke maand bekendgestel.
    • In Huisgenoot: Agter die Storie ondersoek en bespreek ons joernaliste die stories waaroor mense gons en die gebeure agter die skerms. Die eerste episode van dié reeks gaan oor die opspraakwekkende Stella-moorde.
    • Soek ons podsendings in jou spesiale podsending-app of op iTunes, of luister daarna op ons webtuiste, huisgenoot.com. Ons podsendings is gratis.