Wel, hierdie algemene vrug is die antwoord op verskeie probleme. En die beste deel is, dit kos jou nie ’n plaas se prys nie!

Suurlemoene kan vir ander goed gebruik word as bloot ’n geurmiddel vir kos of water. Hier is sewende verbasende gebruike vir die suur sitrusvrug. 

Behandel droë elmboë en knieë

Niemand wil die aandag van hul gunsteling-somerrok aftrek met onooglike droë elmboë en knieë nie. 

’n Kitsoplossing is om suurlemoensap by koeksoda te voeg tot dit ’n dik pasta vorm. Enige hoeveelheid is reg; dit hang af hoeveel jy nodig het. Skrop jou elmboë en knieë daarmee om die droë, dooie vel te verwyder. 

Raak ontslae van letsels en onegalige velkleur 

Volgens Goodhousekeeping.com toon studies die suur in suurlemoensap kan letsels help vervaag. Die vitamien C in die sap help verhelder ook die vel, maar dit moet dikwels gebruik word voor resultate gesien word. 

Smeer suurlemoensap aan jou gesig of die letsel en los dit 15 minute aan. Spoel dit met koue water af.  

Dis belangrik om te onthou die behandeling moet net saans gedoen word, want dit sal ’n ongewenste uitwerking hê as die vel aan die son blootgestel word. 

Verbeter swak, verkleurde naels 

As jy al een te veel jelnaelbehandelings gehad het, sal jy weet dit maak jou naels ’n onaantreklike, gelerige kleur. 

Om daarvan ontslae te raak, beveel Women’s Health aan jy meng olyfolie met suurlemoensap en week jou naels in die mengsel.

Nie net sal dit die ongewenste kleur help verwyder nie; dit versterk ook bros naels. 

Die suurlemoensap se suur help verwyder die opgeboude kleur op die naels en die olyfolie bevog dit. 

Kry ligter hare sonder kunsmatige kleurmiddels 

As jy suurlemoensap op jou hare uitdruk, sal dit jou natuurlike ligstrepies gee, sê Robert J. Dorin, ’n haredokter. 

Robert het aan Goodhouskeeping.com verduidelik die suur in suurlemoensap maak jou hare ligter wanneer die son daarop skyn. 

Meng suurlemoensap en warm water in ’n spuitbottel, spuit dit aan jou hare en gaan sit sowat ’n uur buite in die son.

Doen dit een keer per week tot jy die skakering het wat jy soek. 

Kry skilfers onder beheer

Skilfers is nie net ongemaklik en jeukerig nie; dis ook ’n verleentheid. 

Raak van die ongewenste vlokkies ontslae deur hierdie mengsel aan te wend: water, gemmerwortel, suurlemoensap en olyfolie.

Giet die behandeling oor jou hare en laat dit droog word voor jy dit met sjampoe uitwas.  

Gereelde behandelings behoort van die skilfers ontslae te raak. Jy kan later dankie sê!

Maak donker oksels ligter

Dit is warm, maar jy kan dit nie in iets mouloos waag nie, want jy is te bang jy lig jou arms en ontbloot jou donker oksels . . . 

Weer kom suurlemoen tot die redding.

Steptohealth.com beveel aan jy meng suurlemoensap met ’n bietjie hawermout en heuning tot dit ’n pasta vorm en smeer dit dan aan jou oksels. Laat dit ’n uur lank set voor jy dit afwas.

Maar die voordele van suurlemoensap vir oksels eindig nie daar nie. Suurlemoensap is ook ’n natuurlike reukweerder. Die sitroensuur in die sap maak die bakterieë dood wat slegte reuke veroorsaak. Jou vel gaan dus nie net ligter lyk nie; dit gaan lekker ruik ook. 

Tot siens, swartkoppies

Die vel aan en om die neus is veral vatbaar vir swartkoppies, want dit is een van die olierigste dele van die gesig.

Die sap in ’n suurlemoen het saamtrekkende en antibakteriese kenmerke wat oortolige olie help verwyder en die vel diepreining. Sny ’n suurlemoen middeldeur en vryf dit oor die vel. Laat dit 10 minute set voor jy dit deeglik met koue water afspoel. 

Onthou, doen dit saans en nie wanneer jy aan die son blootgestel gaan word nie, anders kan jy jou vel beskadig.

Bronne: Women’s Health, Steptohealth.com, Goodhousekeeping.com