Binnekort is verkeers­oortredings nie meer net lewensgevaarlik en teen die wet nie; dit kan jou dalk jou rybewys kos. Maar voorstanders van dié nuwe plan sê dit sal die moeite werd wees as dit die slagting op ons paaie verminder.

Volgens 'n nuwe wetsontwerp wat in Augustus deur pres. Cyril Ramaphosa bekragtig is, sal alle motoriste in die land voortaan deur 'n strafpuntstelsel in toom gehou word – dis nou mits die plan nie in die howe in die hek duik nie.

In 'n neutedop beteken die wysiging van die Wet op die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe, oftewel die Aarto-wet, dat elke bestuurder met 'n skoon bladsy begin, maar met elke verkeersoortreding kry jy 'n sekere getal strafpunte en 'n gepaardgaande boete.

As jy 12 strafpunte op jou naam het, kan jou rybewys opgeskort word. En as dit drie keer opgeskort word, verloor jy dit. Dan sal jy weer daarvoor moet aansoek doen – en opnuut getoets word. 

Maar voorstanders van die strafpuntstelsel sê dit sal als die moeite werd wees as dit slaag in die doel waarvoor dit ontwerp is: om lewens te red. 

Hoekom die nuwe stelsel?

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die hoop is dat die strafpuntstelsel die padsterftes van ons land sal help ver­minder, het Fikile Mbalula, die minister van vervoer, verlede maand op 'n media­konferensie gesê. 

In 2018 is byna 13 000 mense op ons paaie dood volgens die Padverkeers­bestuurskorporasie. Dit beteken Suid-­Afrika het verlede jaar 'n padsterftesyfer van 22,5 mense per 100 000 mense gehad. 

Dis hoog, veral vergeleke met Australië se syfer wat in dieselfde tyd net 4,8 mense per 100 000 was. Die wêreldwye gemiddelde is 20,8 uit 100 000, maar 90% van sterftes kom in lae- en middelinkomste-lande voor.

Voorstanders meen ook die wysigingswet sal die las op howe verlig omdat verkeersoortredings nie dáár betwis sal word nie.

Kragtens die wysigingswet kan motoriste hul strafpunte en boetes betwis by 'n spesiale tribunaal wat deur die Agent­skap vir Padverkeersmisdrywe (RTIA) saamgestel word. 

Die RTIA, wat die wet sal implementeer, was vaag toe Huisgenoot navraag doen oor hoe die tribunaal gaan werk, hoeveel dit jou gaan kos as jy 'n strafpunt of boete wil betwis en hoe lank dit sal duur voor jou aansoek verwerk word. 

Hoe sal die strafpuntstelsel werk?

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die wetsontwerp bevat voorlopige rig­lyne vir strafbare oortredings en die getal strafpunte per oortreding, maar die minister kan dit nog verander voor die wet in werking tree.

Dié riglyne bepaal dat alle bestuurders, nou en in die toekoms, by 'n puntetelling van nul begin, en strafpunte word dan vir oortredings toegeken.

Die oortredings word met een tot ses punte gestraf, tesame met ’n boete. Voorbeelde hiervan is: 

  • praat op jou selfoon terwyl jy bestuur: een strafpunt; 
  • bestuur van ’n ongeregistreerde voertuig: een strafpunt;
  • ry oor ’n rooi verkeerslig: een strafpunt;
  • 'n taxi, bus of vragmotor wat oor 'n rooi verkeerslig ry: twee strafpunte; 
  • bestuur sonder ’n geldige rybewys: vier strafpunte;
  • spoedoortredings: tot ses strafpunte; en
  • dronkbestuur: ses strafpunte.

Die voorstel is dat die stelsel so sal werk:

  • Een strafpunt verval elke drie maande.
  • Sodra 'n bestuurder meer as 12 strafpunte het, word die rybewys vir drie maande opgeskort. 
  • Nadat die opskortingstydperk verby is, kan jy by die verkeersdepartement aansoek doen om die rybewys terug te kry. 
  • As jy 36 punte sou kry, word jou ry­bewys gekanselleer. As dit gebeur, sal jy weer by die verkeersdepartement vir ’n leerlingrybewys moet aansoek doen en al die toetse van voor af herhaal. 
  • As jy strafpunte wil betwis of bevraagteken, moet jy 'n spesiale tribunaal nader wat deur die RTIA saamgestel word. 
  • Jy kan eers 'n hof nader nadat die tribunaal jou saak afgehandel het en jy steeds met hul beslissing ontevrede is.
  • Die wet onderskei tussen die punte en die boetes wat daarmee gepaardgaan. Dit sê ’n oortreder moet per geregistreerde pos van strafpunte op hul naam in kennis gestel word. 

Maar die boete-kennisgewing kan kragtens die nuwe Aarto-wet wel per e-pos, SMS of in die sosiale media aan jou gestuur word.

Wanneer tree dit in werking? 

Die departement van vervoer het nog nie 'n sperdatum waarop hulle die strafpuntstelsel in werking sal stel nie, maar volgens die RTIA gaan die wet volgende jaar landwyd toegepas word. 

“Ons sal in die volgende agt maande die laaste fase van ons plan finaliseer sodat ons dit in 2020 kan uitvoer,” sê Emmanuel Tshehla, 'n RTIA-woordvoerder. 

Maar of dit wel in werking gaan tree, is nie 'n uitgemaakte saak nie. Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) is daarteen gekant en glo die wysigingswet is ongrondwetlik.

Hulle beplan om die konstitusionele hof te nader om dit te stuit. Dit kan ’n uitgerekte proses wees.

Trap eers briek – die besware

Outa en die Automobiel-Assosiasie (AA) is van die gesaghebbendste teenstanders van die wysigingswet. 

Outa glo die wet is ongrondwetlik omdat die administratiewe stelsel omslagtig is en so mense se regte sal skend, sê adv. Stefanie Fick van dié organisasie.

“Ons het die reg tot 'n regverdige stelsel. Wat gebeur as 'n boetekennisgewing in jou e-pos se gemorspos beland? Wat as jou telefoonnommers nie korrek bygewerk is nie? Hoe kan jy betaal en die wet gehoorsaam as jy nie weet nie?” sê Stefanie oor die verandering in die praktyk van kennisgewing. 

Die wet maak ook nie realistiese voorsiening vir mense wat punte of boetes wil betwis nie, sê sy. 

“Jy kan 'n tribunaal nader, maar kragtens die wet sit net nege mense in die tribunaal. In 2017-’18 is amper 80 000 sake wat met verkeersoortredings te doen het in net Tshwane en Johannesburg voor die howe gebring. Hoe sal die tribunaal al daardie sake plus dié in die res van die land hanteer?” vra Stephanie. 

Sy meen Suid-Afrikaners se regte gaan in die slag bly. “Jy kan eers die howe nader nadat jy die tribunaal genader het. Hoe lank gaan dit duur? En wat as jy werklik onskuldig is en in daardie tyd sonder ’n rybewys sit?” 

Layton Beard, 'n woordvoerder vir die AA, sê hulle is nie teen 'n strafpuntstelsel gekant nie, maar wel teen die wet soos dit nou daar uitsien. “Dit fokus nie genoeg op padveiligheid nie.

As dit veilige paaie wil bevorder, hoekom verloor iemand wat versuim om ’n veiligheidsgordel te dra nie ’n punt nie?

En om oor 'n rooi verkeerslig te ry word heeltemal te lig gestraf.” Die AA glo ook dis onmoontlik om die Aarto-wet in sy huidige vorm uit te voer. 

“Daar is nie 'n geïntegreerde stelsel tussen provinsies, munisipaliteite en organisasies nie. Jy moet goeie adminis­tratiewe praktyke hê, en dít het ons nie. Dit help ook nie jy het die wet en nie genoeg polisie of metropolisie om dit toe te pas nie.” 

Werk die puntestelsel in ander lande?

Die wêreld se eerste strafpuntstelsel vir motoriste is in 1947 in Connecticut in Amerika in werking gestel. Die stelsel is in 1962 in Brittanje, in 1967 in Nieu-Seeland en in 1969 in Japan ingestel.

In 2018 was daar in Brittanje, met ’n bevolking van 66 miljoen, net meer as 1 700 padsterftes, terwyl Nieu-­Seeland, met sy bevolking van net onder 5 miljoen, 400 padsterftes gehad het. In Japan, met sy bevolking van 126 miljoen, was daar 3 500 padsterftes.

Australië het 'n streng strafpuntstelsel: Punte verstryk eers ná drie jaar en jou rybewys word opgeskort as jy 12 punte het. 

Dié land, met 'n bevolking van 26 miljoen, het in 2018 altesaam 1 137 padsterftes gehad.

In Ierland, met 'n bevolking van net minder as 5 miljoen, is die stelsel in 2002 in werking gestel en het die padsterftesyfer sedertdien met 30% afgeneem. 

Ander lande het minder suksesvolle afnames gewys: In Spanje het die padsterftesyfer in 2007 met net 10% afgeneem nadat ’n strafpuntstelsel die vorige jaar geïmplementeer is.

Volgens Layton Beard, 'n woordvoerder van die AA in Suid-Afrika, kan jy nie net op grond van dié syfers aanneem dat die strafpuntstelsel suksesvol is nie.

Ander faktore kan ook 'n rol speel, byvoorbeeld die bevolkingsgroei van 'n land, die getal voertuie op die paaie en die toestand van paaie in die land. 

Verlede jaar se syfers
  • 12 921: padsterftes in Suid-Afrika
  • 38%: van dié sterftes was voetgangers
  • 33%: van dié sterftes was passasiers
  • 26%: van dié sterftes was bestuurders
  • R300 miljard: Dis wat padongelukke die land per jaar kos volgens die Internasionale Vervoerforum
Kom neem deel aan die gesprek

 Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.