gesin stap
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Vra iemand hoe hulle oor slange voel, en die kans is goed die persoon kry ’n koue rilling en laat hoor: Nee wat, ek hou verby, dankie! Maar mense se vrees vir slange is hoofsaaklik weens onkunde, sê Johan Marais, ’n slangkenner, skrywer en direkteur van die slangbyt-instituut van Afrika (ASI).

“Dit is ook veroorsaak deur al die mites wat van generasie tot generasie oorvertel word. Eugène Marais het in die 1900’s baie oor slange geskryf, goed wat myns insiens grootliks onsin was en mense baie bang gemaak het,” sê hy.

Net 20 slangsoorte is dodelik uit die meer as 170 slangsoorte wat in Suider-Afrika voorkom, sê Johan.

Van dié spesies is 73 nie eens giftig nie, hoewel hulle kan byt. Met die somer se koms is jou kans groter om dalk een teë te kom wanneer jy in die buitelug ontspan – giftig of nie.

“Slange is hoofsaaklik aktief in die somer, veral ná goeie reën. Dan is die paddas uit en meer kos is beskikbaar,” verduidelik Johan.

“Hulle is natuurlik koudbloedig en het die hitte nodig om aan die gang te kom.” En ja, dié reptiele kom nie net in die natuur, by jou kampeerplek of in die bos voor nie.

“Jou kans om een raak te loop is groter as jy in die veld gaan stap, maar slange is net so aanpasbaar in stedelike gebiede. Hulle is altyd op soek na kos en water; dus is daardie spuitfontein of hok waar jy jou voëls of knaagdiere aanhou vir hulle baie aanloklik.”

Ons het raad oor wat jy moet doen – en nie moet doen nie – wanneer jou pad met een van die reptiele s’n kruis.

O gits, daar’s ’n slang!

Die belangrikste riglyn wanneer jy ’n slang teëkom, is om rustig op te tree en nie paniekerig te raak nie.

“Onthou: Die moontlikheid dat jy gepik sal word, is baie skraal aangesien slange van nature nie sommer aanval nie en eerder verkies om te vlug.

In die meeste gevalle sal slange net pik wanneer hulle verras word, as jy op hulle trap of indien hulle bedreig voel,” sê Johan.

“Staan vyf tree weg en hou die slang dop om te sien wat hy doen of waarheen hy beweeg. Geen slang sal jou op daardie afstand aanval nie. Beweeg dan stadig weg.”

Onthou dié goue reël: Moenie ’n slang bedreig nie en hy sal jou waarskynlik nie pik nie.

Noodwenke: Gepik; wat nou?

Hou eerstens dié statistiek in gedagte: Volgens die ASI word sowat 4 500 mense jaarliks in Suid-Afrika deur slange gebyt, van wie ongeveer 1 000 in ’n hospitaal opgeneem hoef te word.

Net 15% van dié hospitaalgevalle is ernstig genoeg dat dit teengif as behandeling verg.

Slegs 12 mense sterf jaarliks in Suid-Afrika weens ’n slangbyt. Volg hierdie aksieplan wanneer jy of ’n geliefde wel deur ’n slang gepik word

Kry so gou moontlik professionele mediese hulp

Dis die belangrikste en enigste noodhulpwenk wat jy hoef te onthou, sê Johan. “As jy deur ’n uiters dodelike slang gepik word, byvoorbeeld die swartmamba of die Kaapse kobra, is jou kans om te oorleef baie goed as jy binne ’n halfuur of selfs ’n uur mediese hulp kry.”

Bly deurgaans rustig

Beweeg so min moontlik terwyl jy op mediese hulp wag of op pad hospitaal toe is. Dit sal die verspreiding van die gif deur jou liggaam beperk.

Trek jou skoene uit en haal enige bykomstighede af

Die gif van sommige slange kan van jou ledemate laat swel – haal dus horlosies en juweliersware af.

Moenie self ’n teengif toedien nie

“Om die waarheid te sê, moet dit nie eens aanhou nie.”

Die toediening hiervan is nie geskik vir tuisnoodhulp nie en kan lewensgevaarlik wees as dit verkeerd hanteer word, verduidelik Johan. Baie mense is boonop allergies vir die perdebloed waarin die teengif ontwikkel word.

Dit moet net deur mediese personeel in ’n hospitaal toegedien word.

Vergeet van boererate

“Daardie noodhulpwenke wat jy jare gelede by jou ouers of grootouers geleer het, is dikwels nutteloos,” sê hy. “Dit wat jy destyds gehoor het, is ook nie noodwendig vandag meer van toepassing nie aangesien mediese kennis voortdurend uitbrei.”

Die volgende boererate is taboe: om ys op die bytplek te sit, om die vel te sny sodat die gif kan uitbloei, om die gif uit te suig, of om die arm of been wat gepik is met ’n verband af te bind.

Watter slange is wel gevaarlik?

Om as leek ’n giftige slang te identifiseer is moeilik, veral omdat daar soveel kleurvariasies ook binne ’n enkele spesie voorkom.

Neem kennis van dié vier gevaarlike spesies:

Die Kaapse kobra (geelslang) en swartmamba is die twee dodelikste slange in Suid-Afrika en vir die meeste sterftes weens slangbyte verantwoordelik.

Kaapse kobra
Kaapse kobra. Foto: Johan Maris

Hierdie twee slange het ’n neurotoksiese gif wat ’n verlammende invloed op die spierstelsel het; dit kan veral asemhalingsprobleme veroorsaak.

Die Kaapse kobra kom hoofsaaklik suid van die Vaalrivier voor, en die swartmamba veral noord van die Vaalrivier, wat streke soos Gauteng, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Mosambiek insluit. Die Mosambiekse spoegkobra is ook geweldig gevaarlik. Sy sitotoksiese gif kan kwaai weefselskade, pyn en swelling veroorsaak.

Swart mamba
Swartmamba. Foto: Johan Maris

As ’n slagoffer nie betyds mediese hulp kry nie, kan die weefselskade soms so erg wees dat hy ’n ledemaat verloor.

Die spoegkobra is hoofsaaklik ’n nagslang met die reputasie dat hy graag deur gapings onder deure inglip en op dié manier huise binnegaan. Hy kom min of meer in dieselfde gebied voor as die swartmamba.

Spoegkobra
Mosambiekse spoegkobra. Foto: Johan Maris

Die boomslang, wat oor die hele land voorkom, is ook uiters giftig. Sy gif is hoofsaaklik hemotoksies, wat onbeheerbare bloeding van byvoorbeeld die neus en tandvleis kan beteken.

Maar dié slange sal ’n mens nie sommer pik nie omdat hulle baie rustig is en die meeste van die tyd hoog in bome bly waar hulle nie bedreig voel nie.

Boomslang
Boomslang, Foto: Johan Maris

3,8 meter: Die swartmamba is die langste giftige slang in Suid-Afrika en kan tot so lank word. Wanneer hy bedreig voel, kan hy die voorste derde van sy lyf oplig om die bedreiging af te skrik. Dié slang is nie self swart nie; sy naam verwys eintlik na die swart binnekant van sy mond.

Mites en ander wolhaarstories

‘Daar is geen afskrikmetode wat ’n noemenswaardige uitwerking op slange het nie’

Deur die jare het verskillende mites oor slange in vertellings en oorlewering ontstaan, maar die volgende “wyshede” is almal wolhaarstories, sê Johan.

  • Verbrand die karkas van ’n slang nadat jy hom doodgemaak het om ’n wraakaanval deur sy maat te keer.
  • Die swartmamba agtervolg mense soos perderuiters en voetgangers om hulle aan te val.
  • Slange kom kruip saans saam met jou in die bed op soek na liggaamshitte. Dis ’n skrikwekkende gedagte, maar kon nog nooit bewys word nie, sê hy.
  • Middels soos Jeyes Fluid, wildeknoffel en ou motorolie help om slange van die huis af weg te hou. Jy mors jou tyd, maan Johan. “Daar is geen middel of afskrikmetode wat ’n noemenswaardige uitwerking op slange het nie.”

Kry hier hulp
  • Bêre dié nommer. Bel die gifinligtingshulplyn as jy of ’n geliefde deur ’n slang gepik word. Dit is 24 uur per dag beskikbaar: 0861-555-777.
  • Bel ’n slangvanger. Dit is gevaarlik om ’n slang te probeer doodmaak, en mense word dikwels in die proses gebyt. Kry eerder ’n kundige persoon om te help. Daar is meer as 600 geregistreerde slangvangers in Suid-Afrika wat tot jou redding kan kom as jy ’n slang op jou erf, in jou huis of vakansieplek gewaar. Die ASI het ’n omvattende lys slangvangers wat maandeliks bygewerk word. Gaan na snakeremoval.co.za en soek een in jou omgewing. 
  • Laai die app af. Die ASI het ’n app met noodhulpraad, wenke om slange uit te ken en inligting oor slangvangers. Laai dit gratis in die Apple- of Play-winkel af. Soek vir “ASI Snakes”.