Deesdae benodig jy dikwels net een prentjie om te sê wat jy bedoel, verduidelik hoe jy voel of wys wat jy doen.

Dis alles te danke aan die “taal” wat die vinnigste ter wêreld groei. Dus: Hallo en ’n groot dankie aan die uitvinders van emoji’s – ons ‘lief julle’ en sien uit na nog baie jare van emoji-vreugde terwyl ons op ons selfone en rekenaars met ons naastes klets.

Emoji’s het al so deel van ons lewe geword dat dié klein beskrywende prentjies selfs hul eie spesiale dag het.

Ingeval jy wonder, internasionale Emoji- dag is op 17 Julie gevier – en dis nie sommerso ’n datum nie; dis gekies omdat dit die datum is wat op die kalender-emoji op die Apple-sleutelbord verskyn.

Emoji’s neem die wêreld oor, of jy nou gek is daaroor of dit verpes.

WELKOM IN DIE FAMILIE

familie
Foto: Gallo Images/Getty Images

As al die emoji’s wat op die oomblik in gebruik is, bymekaargetel word, is daar 3 000 van die goedjies. Dié getal sal binnekort styg met die toevoeging van meer as 200 ikons op Android- en Apple-toestelle.

Sowat ’n kwart hiervan is splinternuut, en die res is variasies op bestaande emoji’s met nuwe velkleure asook geslagsvariasies. Sowat 78% van die respondente in Adobe se Emoji Trend-verslag het juis gemeen emoji’s moet meer inklusief wees.

Die nuwe ikons wat eersdaags uitgereik word, sluit daarom simbole in wat gehoorgestremdes, mense met gidshonde, mense in rolstoele en mense met prostetiese ledemate verteenwoordig.

Hierdie bywerkings sal gebruikers ook in staat stel om die ras en geslag van albei mense te kies wanneer hulle ’n emoji van ’n paartjie kies. Van die ander nuwe emoji’s sluit in ’n sari, ’n falafel, ’n flamink en ’n wafel.

KYK NOU NET HIER; DIS DIE NUWE LYFTAAL

emoji gesiggie
Foto: Gallo Images/Getty Images

Emoji’s het “die lyftaal van die digitale era” geword, sê die taalkenner prof. Vyvyan Evans, skrywer van die boek The Emoji Code.

Hy glo emoji’s vul geskrewe gesprekke – soos in e-posse en WhatsApp-boodskappe – aan op dieselfde manier as wat handgebare, gesigsuitdrukkings en ander lyftaal verdere betekenis aan verbale gesprekke gee.

Hy meen emoji’s bied ’n ryker, eerliker en emosioneler manier van kommunikeer.

“Dit het digitale kommunika- sie in staat gestel om die nieverbale kommunikasieseine na te boots wat jy in gesprekke van aangesig tot aangesig kry.”

Volgens die onlangse Adobe Emoji Trend-verslag is mense wat emoji’s gebruik ook “vriendeliker en toegankliker”.

Daar is bevind 93% van emoji-gebruikers gebruik dit “om die stemming van gesprekke meer opgeruimd te maak”, en 91% van gebruikers span dit in “om steun te wys”.

Altesaam 61% van die mense wat in ’n peiling ondervra is, het gesê hulle gebruik emoji’s by die werk.

“Dit voel dalk nie so professioneel soos tradisionele teks nie, maar in die studie is bevind dit maak dat mense meer van jou hou en het ’n positiewe impak op jou geloofwaardigheid by die werk,” sê die tegnologienuuswebtuiste Digital Trends.

OP DIE TREIN TERUG NA DIE VERLEDE

trein
Foto: Gallo Images/Getty Images

Een van die emoji’s wat die minste ter wêreld gebruik word, is van ’n hangspoor, oftewel ’n spoorweg wat deur ’n hangende kabel gevorm word waaraan voertuie hang en beweeg.

Hoekom is die prentjie nog deel van die emoji-alfabet as dit so min gebruik word? Want dis gewild in Japan. En Japan het ’n groot rol gespeel in die emoji se geskiedenis.

Die emoji-historikus Jeremy Burge, stigter van die emoji-webtuiste Emojipedia, het onlangs ontdek die klein prentjies het nie in 1999 by die Japannese telekommmunikasiefirma NTT Docomo ontstaan soos wyd geglo word nie, maar twee jaar vroeër.

Die Japannese tegnologiereus Softbank het inderwaarheid die eerste stel van 90 emoji-karakters bekendgestel en dis destyds in die teksboodskap van die foon self geënkodeer, berig die Telegraph. Dié Japannese invloed op emoji’s het gebly – vandaar die voortbestaan van die hangspoor.

Die naam van dié hedendaagse hiërogliewe was ’n samesmelting van die Japannese woorde vir prentjie, e, en letters, moji. Die eerste emoji’s was uiteraard eenvoudiger as die gesigte en emosies wat ons vandag gebruik, sê Jeremy.

“Dit was baie prakties. Die 1999-stel het net vyf gesiggies gehad. Maar dit het so gewild in Japan geword dat Westerse tegnologiemaatskappye wat sake in Japan wou doen emoji-produkte moes insluit.”

Syfers

2 823: Die getal emoji’s wat nou in Unicode Standard gebruik word.

5 miljard: Die getal emoji’s wat in 2017 op Facebook Messenger gestuur is.

1 miljard: Facebook-boodskappe in 2018 wat net uit emoji’s bestaan het.

R3,1 miljard: Dis hoeveel The Emoji Movie (2017) wêreldwyd laat inrol het.

‘Emoji’s bied ’n ryker, eerliker en emosioneler manier van kommunikeer’

10 MEES GELIEFDE EMOJI’S

Emoji’s van gesiggies en harte word die meeste gebruik, aldus die sosialemedia- moniteringsagentskap Brandwatch.

Hier is die top-10-emoji’s wat op Twitter gebruik word 

Gesig wat skaterlag

trane gesiggie
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Pers hart 

Gewild onder aanhangers van die seunsgroep BTS. 

pers hartjie
Foto: Gallo Images/Getty Images

Denkende gesig

Volg dikwels op ’n vraag of kan verwarring uitbeeld.

dink gesiggie
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Gesig met trane van vreugde

lag gesiggie
Foto: Gallo Images/Getty Images

Twee harte

hartjies
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Gevoude hande

Hieroor woed ’n debat. Is dit biddende hande, hande wat dankie sê of ’n vatvyf?

Dit word baie gebruik om dankbaarheid te toon, saam met die woorde “liefde”, “goedheid” en “familie”.

handjies
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Glimlaggende gesig met hartjie-oë

hart gesiggies
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Glimlaggende gesig met oë wat saamlag

Gewild wanneer jy oor goeie tye praat.

salige gesiggie
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Rooi hart

hartjie
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Agterkant van hand met wysvinger wat regs wys.

Dit word dikwels gebruik om skakels in twiets te beklemtoon.

vingerwys gesiggie
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Die kwaaiste emoji 

In Amerika kon skoolkinders in ’n stadium aangekla word as hulle boodskappe met dié emoji aan mekaar stuur. Sommige kinders is geskors nadat hulle dit gebruik het en ander het opgeskorte vonnisse gekry.

In Frankryk is ’n man vir drie maande tronk toe gestuur nadat hy die emoji aan sy eksmeisie gestuur het. Die regter het die teks as soortgelyk aan ’n doodsdreigement beskou.

Die nieregeringsorganisasie Unicode Consortium, wat bepaal watter emoji’s beskikbaar gestel en behou word, het besluit die vuurwapen moet waai.

Dis daarna vervang met ’n meer skadelose en helderkleurige waterpistool.

BRONNE: EMOJIPEDIA.ORG, THEBLOG.ADOBE.COM, THEVERGE.COM, BUSTLE.COM, TELEGRAPH.CO.UK, BRANDWATCH.COM, TIME.COM, CNN.COM, BUSINESSINSIDER.CO.ZA, WASHINGTONPOST.COM, NEWYORKER.COM, PCMAG.COM, BOXOFFICEMOJO.COM