Daar is 100 nuwe e-posse wat wag om gelees te word, jou volgende afspraak is oor vyf minute en jy wonder klaar hoe jy dit deur die verkeer gaan maak om betyds te wees.

Wat jy régtig nodig het, is ’n uitstappie spa toe of ’n paar dae vakansie – maar wie het nou tyd daarvoor?

Haal diep asem. Dié wenke sal jou weer laat kans sien vir jou doenlysie. Boonop kos nie een van hulle veel nie (party is selfs gratis) – en jy kan dit oor en oor doen.

GEE JOU SKOUERS ’N BLAASKANS

Baie van ons dra spanning in ons skouers en nek, wat tot styfheid en pyn kan lei. Wend ’n doelbewuste poging aan om jou skouers ’n paar keer per dag te laat sak.

Dis ’n goeie gewoonte en sal jou help om van baie spanning ontslae te raak. Stel ’n wekker op jou selfoon of rekenaar om jou hieraan te herinner.

VARS EN VRUGTIG

Mango with a splash of Ter illustrasie. Foto: Gall
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Vat ’n kort blaaskans by die werk om ’n sappige mango te skil, sny en eet. Dit bevat ’n stof genaamd linaloöl wat help om stresvlakke te verlaag.

DONKER EN HEERLIK

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Blokkie (sowat 40 g) donkersjokolade kan jou help kalmeer omdat dit kortisolvlakke reguleer en metabolisme stabiliseer.

KOU DIT WEG

’n Stukkie kougom is ’n verrassend vinnige en maklike manier om angstigheid te verminder en jou vlakke van die streshormoon kortisol te verlaag.

In ’n Japannese studie uit 2019 het deelnemers wat 14 dae lank twee keer per dag kougom gekou het baie laer angsvlakke gerapporteer as dié wat met ’n mond vol tande gesit het.

’N HANDDRUK

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Masserings kan baie nuttig wees vir mense wat baie tyd by ’n rekenaar deurbring, en spanning lê dikwels in jou hande.

Jy kan ’n selfdoen-handmassering probeer om dadelik meer ontspanne te voel: Sit handeroom aan en begin om die basis van die spier onder jou duim te masseer. Dié aksie kan algemene spanning beduidend verlig.

GAAN GROEN

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Drink eerder groentee pleks van koffie. Dit bevat L-teanien, ’n chemiese stof wat moontlik woede ’n bietjie kan verlig. Die tee het wel ’n bietjie kafeïen in – jy kry dus steeds jou inspuiting!

HAAL DIEP ASEM

Stel jou selfoon se tydhouer en konsentreer vyf minute lank nét op jou asemhaling. Haal diep asem en blaas dit stadig uit terwyl jy voel hoe die gewig op jou skouers ligter raak.

Jy kan ook die joga-manier probeer en deur een neusgat op ’n slag asemhaal – dit verminder glo angstigheid. Maak een neusgat met jou duim toe en asem vyf tellings deur jou ander neusgat in. Asem uit en herhaal aan die ander kant.

STREK-STREK

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Studies wys chroniese laerugpyn hou verband met stres- en angsverwante siektes.

Strek so as jy ’n bietjie oorstuur voel: Lê met jou rug plat op die vloer en jou arms uit na weerskante in ’n T-vorm.

Bring jou regterknie in tot by jou bors en laat sak dit dan na links. Konsentreer ’n minuut lank op jou asemhaling. Herhaal dan aan die ander kant om die spanning in jou ruggraat te verminder.

DRUP-DRUP

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Gaan badkamer toe en drup koue water op jou gewrigte as stres jou oorval. Van jou belangrike slagare loop hier, en deur hierdie deel van jou lyf af te koel kan jy jou hele liggaam help kalmeer.

Ysblokkies werk ook goed. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.