Die Desembervakansie was nie so lank gelede nie, maar jy is klaar weer reg vir ’n blaaskans, of hoe?

Maak nie saak of jy jou volgende vakansie of net ’n lekker wegbreeknaweek beplan nie, hier is ’n paar apps wat jou reisplanne sommer baie makliker kan maak.

Hulle help jou met byna alles, van waar die naaste OTM is tot wie jy kan bel as jy op ’n wandeltog in die nood beland.

En die beste van alles? Dis gratis!

TRAIL GUIDE SOUTH AFRICA

Gratis op iOS en Android.

As jy ’n stapper, fietsrygeesdriftige of velddrawwer is, is dié app vir jou.

Jy kan nabygeleë staproetes daarmee opspoor en jou soektog aanpas volgens afstand, tydsduur, moeilikheidsgraad en selfs natuurskoon.

Die app bied ’n beskrywing van die roete, noodsaaklike inligting, toepaslike pryse en ’n kaart van die pad wat wys watter geriewe beskikbaar is, asook interessante plekke langs die roete.

Dit verskaf ook ’n lys van die toerusting wat jy sal nodig hê, drie dae se weervoorspelling en noodnommers.

En nadat jy klaar gestap, geklim, gedraf of fietsgery het, kan jy op die app ’n lys plekke soek waar jy ’n yskoue drankie, middagete of gemaklike bed kan vind.

WHAT3WORDS

Gratis op iOS en Android.

Jy moet vriende op ’n musiekfees ontmoet, maar daar is so baie mense, julle kan mekaar nie opspoor nie.

As daar maar ’n app was wat jou ligging tot op ’n meter of wat presies kon aandui . . . Wel, daar is!

What3words is ’n karteringsdiens wat die wêreld in ’n rooster van 3 x 3 m-vierkante verdeel – byna 57 triljoen vierkante! – en dit gee elke vierkant ’n unieke “adres” wat uit drie woorde bestaan.

Die woorde word lukraak gekies en het dus niks met die ligging te doen nie.

Jy kan byvoorbeeld ’n adres of koördinate soos “whacked.blurred.alloys” verwag.

Wanneer iemand jou op ’n onbekende plek probeer opspoor, moet jy net die app oopmaak, die driewoordadres van jou vierkant vind en dit per WhatsApp, teksboodskap, e-pos of Facebook met hulle deel.

Hulle moet ook die app hê.

Daar is ’n driewoordadres vir elke vierkante meter op aarde – ongeag of dit in die bosveld, berg, woestyn of selfs die see is – en dit is dus uitsonderlik akkuraat.

’n Resensent het gesê “dis akkurater as ’n poskode”.

Jy kan enige plek ter wêreld soek, die driewoordadres van enige spesifieke plek op die kaart kry en daardie woorde aan iemand stuur.

Byvoorbeeld: Jy en ’n vriend sal albei in April in Londen wees en besluit om mekaar in Covent Garden te ontmoet.

Jy soek Covent Garden op die kaart, kry ’n geskikte plek (jy kan omskakel tussen kaart en satelliet) en sê vir jou vriend om jou op die betrokke dag by “spoken.burn.script” te kry.

What3words kan in feitlik elke land gebruik word en bevat ’n verskeidenheid taalopsies.

GOOGLE MAPS

Gratis op iOS en Android.

Sonder dié reis-app sal miljoene mense verlore wees.

Dit word vooraf op die meeste selfone gelaai en het meer as net ’n digitale kaart geword.

Met eienskappe soos die vermoë om die vinnigste moontlike roete te verskaf en voortdurend jou geraamde aankomstyd by te werk, bly Google Maps steeds voor sy mededingers.

Dit kan selfs aandui waar vertragings op jou roete verwag kan word.

G’n wonder nie dit het maandeliks meer as ’n biljoen aktiewe gebruikers!

Klik op die ligging van jou keuse en jy kan ook ’n virtuele toer van die omliggende gebied onderneem sodat jy kan sien hoe dit lyk.

Een van die nuttigste kenmerke is dat jy bloot woorde soos restaurant, koffie, apteek, motorhawe, OTM of besienswaardighede kan intik en dit gee jou ’n lysie van wat naby is.

Wanneer jy verblyf soek, kan jy Google Maps gebruik om beskikbaarheid en pryse na te gaan.

As jy min data het of nie seker is hoe sterk die sein sal wees nie, het die app ’n nuttige vanlyn opsie.

Voor jy jou reis aanpak, klik op die keuselys, rol af na Offline Maps, laai die ligging van jou keuse af, en die kaart word vir latere gebruik gebêre.

Onthou net: Hierdie vanlyn kaart se vermoëns is beperk en kan byvoorbeeld nie verkeerstoestande in werklike tyd bywerk nie.

Daar is ook ’n eienskap met die naam Your Timelines, wat wonderlik is wanneer jy met vakansie is.

Sodra ’n mens dit aktiveer, volg dit jou roete elke dag sodat jy kan sien waar jy was en hoe ver jy gestap het.

Foto’s wat jy langs die roete geneem het, word ook met daardie roete in Your Timeline verbind.

iTRACK AFRICA LITE

Gratis op iOS en Android.

As jou idee van ’n lekker vakansie tyd in die bos is en om jou kinders oor die natuurlewe te leer, sal hierdie digitale veldgids nuttig wees.

Wil jy weet watter dier om jou tent gesnuffel of in die paadjie voor jou gestap het?

Dié app het spoorinligting vir die soogdierspesies van Suider-Afrika, met spoor- en dierefoto’s van hoë gehalte wat sleutelkenmerke vir identifisering uitwys.

Dit het gedetailleerde beskrywings van voor- en agterspore en skaalbalke met presiese afmetings langs baie van die foto’s.

Die Lite-weergawe is beperk tot vyf spesies, maar het al die funksionaliteit van die volle weergawe, wat 57 spesies dek.

(Die volweergawe kos R229, 99 op iOS en R204,99 op Android.)

FIRST AID BY SA RED CROSS

Gratis op iOS en Android.

Die Suid-Afrikaanse Rooi Kruis-vereniging se amptelike app kan ’n lewensredder wees, en nie net wanneer jy reis nie, maar enige tyd – laai dit dus nou af.

Met kitstoegang tot inligting wat jou in die meeste algemene noodgevalle sal help, lei dit jou deur noodhulpscenario’s met eenvoudige stap-vir-stap-aanwysings.

Dis ook ten volle geïntegreer by die tolvrye ambulansdiensnommer 10177; dus kan jy enige tyd van die app af bel.

Benewens noodinligting en video’s is daar ’n leerafdeling en interaktiewe vraelyste waarmee jy jou kennis kan toets.

Inhoud is enige tyd en van enige plek af toeganklik, selfs sonder selfoonontvangs of ’n internetverbinding.

BRONNE: independent.co.uk, latestsightings.com, what3words.com, GOOGLE PLAY STORE