Wat was als vanjaar op jou lysie Nuwejaarsvoornemens? Het jy onderneem om fiks te word? Gewig af te skud? Of dalk minder te drink?

Dit is drie maande later en al jou goeie bedoelings is lankal by die deur uit . . . Moenie skuldig voel nie – jy is nie al een wat oor daardie vergete voornemens wroeg nie.

Maar dit beteken nie dis te laat om vanjaar suksesvol werk te maak van jou doelwitte nie, en dis dalk nou juis ’n goeie tyd om dit weer onder oë te neem en hierdie keer anders aan te pak.

In ’n nuwe studie in Swede is vasgestel hoekom dit so moeilik is om vol te hou met Nuwejaarsvoornemens – en dit kan jou help om weer op koers te kom.

Die groep deelnemers wat die benaderingsgerigte voornemens gemaak het, het ’n hoër sukseskoers – 59% – gehad as die groep wat vermydingsgerigte voor­nemens gemaak het – 47%.

Volgens die studie is een van die be­palende faktore of jy ’n positiewe benadering tot jou doelwitte het, eerder as wat dit oor negatiewe vermyding gaan.

Navorsers by die Stockholm- en Linköping-universiteit het 1 000 mense oor 12 maande gevolg en vasgestel dat “benaderingsgerigte doelwitte”, soos ’n verbintenis tot oefening ’n paar keer per week of om spesifieke gesonder eet­keuses te maak, doeltreffender is as “vermydingsgeoriënteerde doelwitte”, wat beteken jy fokus daarop om party dinge soos alkohol of lekkernye te laat vaar.

Die groep deelnemers wat die benaderingsgerigte voornemens gemaak het, het ’n hoër sukseskoers – 59% – gehad as die groep wat vermydingsgerigte voor­nemens gemaak het – 47%.

Die navorsers het verder bevind mense laat vaar ook dikwels hul voornemens ná ’n paar weke omdat hulle nie vinnig resultate sien nie. Maar dis juis nodig om jouself tyd te gee eerder as om die stryd te laat vaar sodra jy oor die eerste paar hekkies struikel.

Waar trek jy nou met jou doelwitte vir vanjaar? Het jy jou goeie voornemens reeds laat vaar of sukkel jy ál meer om daarby te hou? Hokaai, byt vas, maar verander die manier waarop jy daaroor dink.

Hier is ’n paar wenke wat jou kan help om jou perspektief te verander.

1. Evalueer, pas aan of laat vaar

Moenie net ’n doelwit kies en dan aangaan met jou lewe en hoop op die beste nie. “Maak spesifiek tyd om hieroor te besin,” sê Kelly Jacobs, ’n be­rader van Kaapstad.

Evalueer jou vordering, weekliks of selfs daagliks, sodat jy nie eers teen die einde van die jaar daarop terugkyk en dit waar-
skynlik berou nie. Erken jou suksesse ­namate jy voortgaan, kyk waar jy sukkel en pluis uit hoe jy kan verbeter en sal kan verseker jou pogings is doeltreffend.

Wat jy aan die begin van die jaar gedink het belangrik sou wees, het dalk nie meer dieselfde waarde ná ’n paar maande nie.

As ’n spesifieke voorneme nie meer relevant voel of realisties is nie, pas dit aan of laat vaar dit. Byvoorbeeld, as jy besluit het om vir ’n marathon te oefen en iets gebeur wat dit vir jou onmoontlik maak om daardie doelwit te bereik, soos siekte, pas jou doelwit aan om dit realistieser en haalbaarder te maak. Werk dan byvoorbeeld daaraan om eerder 10 km te hardloop.

“Wat jy aan die begin van die jaar gedink het belangrik sou wees, het dalk nie meer dieselfde waarde ná ’n paar maande nie,” sê Kelly.

BEPROEF DÍT

Kweek die gewoonte om jouself met ’n daaglikse dagboekinskrywing te monitor, stel Lauren Moss, ’n kliniese sielkundige van Randburg, voor.

“Of begin dalk elke week deur te kyk na wat jy die vorige week bereik het en beplan dan wat in die komende week moet gebeur. Moenie die waarde van aantekenings oor jou vordering onderskat nie.”

2. Doen maandelikse uitdagings

Foto ter illustrasie: Getty Images/Gallo Images
Foto ter illustrasie: Getty Images/Gallo Images

Die lekker ding van Nuwejaarsvoornemens is dat dit ’n gevoel van vernuwing aan die begin van die jaar skep. Maar as jy aanhou misluk, is dit dalk tyd vir ’n nuwe benadering.

Pleks daarvan om elke jaar een groot doelwit te stel, takel kleiner maandelikse doelwitte. Jy kan dan aan die begin van elke maand met ’n nuwe voorneme begin. Die korter tydraamwerk maak dit boonop makliker om gefokus te bly.

“Om iets nuuts te beproef help jou om vas te stel wat relevant voel in die fase waarin jy jouself bevind,” sê Lauren.

Dalk wil jy begin mediteer, gesonder eet of ’n aktiewer leefstyl volg – of al drie.

Pleks daarvan om oorweldig te voel deur al hierdie doelwitte, kies een doelwit per maand en fokus daarop.

In die Sweedse studie is bevind deel­nemers kon oor die algemeen 36 dae lank by hul voornemens hou. Dus kan maandelikse voornemens beter werk as jaar lange voornemens.

BEPROEF DÍT

Kies ’n paar verskillende onderwerpe en skryf neer watter positiewe veranderings jy in daardie gedeeltes van jou lewe wil aanbring – dit kan enig­iets wees van ouerskap, selfversorging en jou huis tot jou vriendskappe, loopbaan en finansies.

Kies dan een doelwit per maand. Verdeel jou doelwit in stappe wat jy weekliks of selfs daagliks kan volg om eindelik jou doel te bereik.

As jou verhouding met jou kinders byvoorbeeld tydens die inperking gespanne was, kan jy besluit om elke dag 10 minute alleentyd saam met elke kind deur te bring om die verhouding te verbeter.

As jy gesonder wil eet, kies een ding wat jy in die komende maand of week gaan verander. Eet byvoorbeeld een week meer groente, vervang ongesonde peusel­happies met vrugte of drink een week meer water as gewoonlik.

Korttermyndoelwitte kan meer lonend as langtermyndoelwitte wees omdat dit haalbaarder is en jy makliker van jou vordering gaan boekhou, sê Lauren.

3. Kies een woord

Was jou Nuwejaarsvoornemens vanjaar om fikser te w
Was jou Nuwejaarsvoornemens vanjaar om fikser te word of gewig af te skud? As jy dit nog nie verwesenlik het nie, moenie wroeg nie, meen kenners. Foto: Getty Images/Gallo Images

Vereenvoudig jou voornemens deur te fokus op een woord wat jou jaar of maand moet definieer. Dit werk veral goed vir mense wat nie deur hul doelwitte oorweldig wil word nie. Dit is ’n meer ontspanne benadering wat steeds met jou visie kan ooreenstem.

Die Australiese aktrise Rebel Wilson (41) kan hiervan getuig. Dié aktrise het haar lewe omgekeer deur jaarliks op ’n tema te besluit wat haar doelwitte weerspieël.

Die jaar 2018 was haar jaar van pret; 2019 was haar jaar van liefde (sy het liefde by Jacob Busch gevind, maar hulle is intussen uitmekaar) en 2020 was haar jaar van gesond leef – en Rebel het 27 kg af­geskud. Volg haar voorbeeld en beproef woorde soos “vreugde”, “krag” of “groei”.

Kies jou woord en laat dit jou voor­nemens ’n week lank lei. Let op na jou gedrag elke dag sodat dit ooreenstem met jou gekose woord.

Een woord per jaar is soms nie uitvoerbaar nie, meen Lauren en stel voor jy kies dan een woord per week.

“Daar is soveel dinge waaroor ons nie beheer het nie. Stel jou voor jou woord vir 2020 was ‘wêreldreis’ – dan was jy dalk teleurgesteld toe mense die grootste deel van die jaar in ’n inperking was.”

Kies jou woord en laat dit jou voor­nemens ’n week lank lei. Let op na jou gedrag elke dag sodat dit ooreenstem met jou gekose woord. Byvoorbeeld, as jy besluit het om “dankbaarheid” te kies, skenk werklik aandag aan die goeie dinge in jou lewe wat jy soms miskyk. En as jou ge­kose woord goed werk, gebruik dit weer.

BEPROEF DÍT

Het jy ’n woord nodig of wil jy jou eenwoordreis met ander deel? Oneword365.com is ’n webtuiste met woordvoorstelle wat mense met mekaar verbind wat soort­gelyke lewens­paadjies stap.

4. Niksdoen is ook reg

As die gedagte aan ’n doelwit van enige aard op die oomblik te veel voel of die lewe gewoon te stresvol is weens al die veranderings wat covid-19 meegebring het, is dit ook goed.

Moenie ’n voorneme maak omdat ander mense dit doen nie. As jy dit nie bereik nie, gaan jy waarskynlik meer ontmoedig voel.

“Om voornemens te maak val nie in almal se smaak nie en dis in die haak,” sê Kelly.

BEPROEF DÍT

Maak ’n koppie tee of koffie, gaan sit en geniet die oomblik. Herinner jouself daaraan dat jy jou bes doen.

BRONNE: WEFORUM.ORG, PEOPLE.COM, DARINGTOLIVEFULLY.COM, WOMENSHEALTHMAG.COM, ONEWORD365.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe