'n Man van Texas in Amerika het selfs sover gegaan om 'n bank te beroof om vir sy troue te betaal

Gelukkig hoef jy nie die wet te oortree om vir jou troudag te betaal nie. Daar is baie eenvoudige maniere om geld te bespaar sonder om jou droomdag af te skeep. 

Nicci Morris, 'n troubeplanner van Kaapstad, gee hierdie 5 wenke.

1. Beplan jou begroting

Nicci moedig paartjies aan om heel eerste 'n begroting op te stel voordat enige troureëlings getref word.

“So kan jy presies weet hoeveel jy aan elke item kan spandeer, en hoeveel [geld] jy benodig vir die res van die dinge wat voorlê,” verduidelik Nicci. 

“Dit sal ook verhoed dat jy te veel aan die eerste paar items bestee en dan nie genoeg vir die res oorhet nie.” 

2.  Beperk jou gastelys

'n Goeie manier om jou onkoste lag te hou is om jou gastelys te beperk, maan Nicci.  “Elke gas wat jou troue bywoon beteken nie net 'n bykomende maaltyd nie, maar ook meer drankies, dekor, blomme, gastegeskenke en skryfbehoeftes. Dit dra als by tot die prys per gas,” verduidelik sy.

Maak dus seker dat almal wat jy nooi mense is wat jy werklik daar wil hê.

Wenk: 'n Goeie manier om jou gastelys te beperk, is om te dink hoeveel tyd jy aan elkeen van jou gaste gaan spandeer (veral diegene wat jy dalk nie heeltemal daar wil hê nie, maar verplig voel om te nooi).

2. Oorweeg die datum van jou troue

“Sommige plekke en verskaffers is goedkoper vir wintertroues of selfs weekdagtroues,” vertel Nicci. 

Wenk: 'n Aandonthaal is gewoonlik duurder as 'n oggend- of middagonthaal, nie net weens hoër spysenieringskoste vir aandete nie, maar ook omdat mense geneig is om bedags minder te drink. Baie paartjies kies ook om bedags minder geld uit te gee aan kleiner elemente soos beligting, musiek en dekor. 

3. Gebruik jou vriende se talente

'n Deftige troukoek of die dienste van'n professionele fotograaf kan nogal duur word. Jy kan egter geld bespaar deur jou familie of vriende te betrek, sê Nicci.

“Miskien het jy 'n vriend wat koek bak, of een wat goed is met hare en grimering. Jy kan ook jou bruidsmeisies of familie vra om te help met doen-dit-self-skryfbehoeftes.

“Dit sal baie geld spaar, en dit is ook 'n goeie manier om die mense rondom jou by die spesiale dag in te sluit.” 

Let wel: Moet egter nie Jan Alleman vir gespesialiseerde take inspan nie, want dan kan die resultate dalk teleurstellend wees. Loer eerder bietjie na die fotograafvriend se portefeulje voordat jy hom of haar nader, en vra iemand wat jou beïndruk het met hul blommerangskikkingsvaardighede in plaas van 'n goeie vriend wat dalk nie so goed met die taak is nie.

4. Speel volgens jou eie reëls

“Dit beteken dat daar geen reëls is nie, en dat jy nie gaste-geskenkies hoef te hê nie, en dat jy nie veel blomme en dekor hoef te hê nie,” verduidelik Nicci. 

Volgens haar kan onnodige tierlantyntjies, wat jou in elk geval nie pas nie, jou baie kos. Sy voeg by: “Spandeer eerder geld aan die dinge wat vir julle as paartjie belangrik is en besnoei die res.”

5. Kies een DJ

Musiek kan 'n baie duur deel van jou troue wees, maan Nicci.

“'n Goeie manier om te besnoei is om 'n uitstekende DJ vir die hele troue te huur, in plaas van verskillende musikante vir elke deel van die dag, soos 'n kwartet vir die seremonie en 'n orkes vir die onthaal,” sê sy.

“'Die DJ kan verskillende musiek speel wat geskik is vir elke deel van die dag soos betekenisvolle musiek vir die seremonie, ontspanne agtergrondmusiek vir die cocktail-uur, en meer opwindende dansmusiek ná die ete.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.