Daardie pakkies bevat silika-korrels, wat in verpakking gebruik word om vog te absorbeer. Silika-korrels is in wese poreuse sand met miljoene klein porieë waardeur die vog geabsorbeer word.

Versamel die pakkies vir ander takies in die huis. Hier is ’n paar praktiese planne: 

1. Beskerm jou selfoon teen waterskade

Het jy al ooit jou foon in 'n swembad of erger, in die toilet – laat val?

Jy het dalk al gehoor jy kan rys gebruik om ’n nat foon droog te maak, maar die ryskorrels kan in die selfoon se herlaaigleufie vassit. Om jou selfoon dadelik droog te kry, span eerder pakkies silika-korrels in.

Neem ’n bak en vul dit met die pakkies silika. Plaas jou selfoon daarin sodat dit heeltemal omring en bedek is. Wag minstens 24 uur voor jy weer jou foon aanskakel.

2. Beskerm jou foto's 

Foto’s en ander aandenkings kan maklik beskadig word wanneer dit in pakkamers gebêre word. Dit is omdat die lug in hierdie stoorplek vogtig kan wees. Hou jou besittings veilig, en bêre dit eerder in veilige plastiekhouers met talle sakkies silika-korrels daarin. 

3. Beskerm jou skeermes teen roes

Laat jou skeermeslemmetjies langer hou deur dit teen roes te beskerm. Plaas 4-5 sakkies silika-korrels in 'n klein plastiekhouer. Droog jou skeermes versigtig af met ’n handdoek nadat jy dit gebruik het, en plaas dit dan in die houer. Die lemmetjies sal langer hou en jy kan ’n paar rand bespaar

4. Hou bagasie droog

Daar is niks so lekker soos ’n vakansie by die see nie. Maar hoe maak jy as julle moet vertrek en jou swemklere is nog nie droog nie? Die pakkies silika-kristalle kan help om die vog te absorbeer.

Voeg net 'n paar daarvan by jou bagasie dit sal boonop die onaangename reuk van klam klere weghou.

5. Verhoed kondensasie op motorvensters 

Dalk het jy al gesien hoe kondensasie op jou motor se paneelbord vorm? ’n Maklike oplossing is om pakkies silika langs die rand van die voorruit te plaas.

Dit sal help om jou voorruit droog te hou en dit minder maak. Jy kan gerus dieselfde by vensterbanke in jou huis doen. 

Bronne: makelifelovely.com, mythirtyspot.com, experthometips.com, littlethings.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.