Noudat mense meer tyd tuis deurbring, is dit belangriker as ooit om die natuur binne toe te bring, veral in die winter.

Glanskeramiek-afwerking is groot nuus, met kleure soos woudgroen en blospienk die gewildste, sê Andreas Keller van die Kaapstadse kwekery en aanlyn winkel Plantify.

“Terracotta se gewildheid neem ook toe danksy aardse afronding, maar met veranderings aan die vorm van die pot tot ’n meer kontemporêre voorkoms, soms met geglasuurde aksente,” sê hy.

“Palmblaarmandjies is ook steeds gewild, en mense waardeer nuwe weefvorms en ’n toevoeging van neutrale kleure.”

Wenk
  • Moenie jou binneplante te veel water gee nie.
  • As jy twyfel, moet dit nie natmaak nie.
  • Voel eerder eers met jou vinger of die boonste 5 cm van die grond kurkdroog is.

BINNE

Dink aan lae, vertikaal en horisontaal, asook diepte en hoogte. Benewens potte op ’n buffet of sytafel sit, hang ook plante van die plafon af in hangmandjies, terrariums (glashouers) of kokedamas (Japannese mosballe) vir ’n vertikale laag - of pak dit op ’n rak. ’n Mooi groot plant of boom in ’n groot mandjie is wonderlik vir op die vloer.

En dit is altyd ’n goeie idee om ’n verskeidenheid potte in die middelvlak te gebruik, soos ’n groot pot in die middel met kleiner potte rondom.

Sodoende het jy drie vlakke in hoogte geskep (plafon, kas en vloer), terwyl die kombinasie van potte ideaal is vir diepte. Meng en pas plantouers om ’n samehangende voorkoms te skep.

Die idee is om pret te hê en te doen wat vir jou goed lyk. Gebruik een of twee potte wat gehekel of van blare of sagte materiaal geweef is saam met jou harder houers vir tekstuur.

Sagte hangmandjies, gehekel of van geweefde plantmateriaal of lap, is ook modieus. Vir ’n kontempêre voorkoms werk ’n verskeidenheid geglasuurde potte op swart of goue metaalstanders. En vir ’n aardser voorkoms en gevoel is terracotta en sement ideaal.

Wenk
  • Gee jou plante kos.
  • Dit absorbeer voedingstowwe uit die grond, en dit moet mettertyd aangevul word om die plant gesond en gelukkig te hou.
  • Gebruik vloeibare kunsmis.

BUITE

Jy het nie ’n groot tuin – of enigsins ’n tuin – nodig om groenigheid buite te geniet nie. Buiteplante kan met groot sukses op balkonne en klein patio’s geplant word.

Potplante is ideaal om harde elemente soos plaveisel of teëls mee te versag. En in groot tuine is potte nuttig om nog ’n laag detail en tekstuur mee by te voeg.

Maak seker jy kies potte wat spesifiek vir buite gemaak is, want nie alle potte kan die elemente weerstaan nie. Materiale soos terracotta, beton en moderne geglasuurde potte is gewoonlik ’n goeie keuse, terwyl party materiale soos sink goed werk, want dit roes nie te vinnig nie.

Buitepotte is gewoonlik groter as binnepotte, want die plante is groter. Die pot moet in die regte verhouding tot die plant wees, wat een derde van die totale hoogte en deursnee van die plant en die houer bymekaargetel is.

Wat die stilering van buitepotte betref, is dit beter om by een styl te hou om ’n samehangende voorkoms te skep – dit wil sê ’n keur van terracotta- potte in verskillende groottes.

Gewilde buiteplant sluit in alle soorte aalwyn, prieelplante, krassulas, spekbome, aspersievarings en malvas.

BRONNE: GARDEN SOLUTIONS DEUR KEITH KIRSTEN (HUMAN & ROUSSEAU, 2001), PLANTIFY