ChatFin reken met hul ChatBack-diens kan Gautengers en ook baie Wes-Kapenaars nou enige stres weens sulke lisensiehernuwing vryspring. Volgens Jan Kotzé, ChatFin-uitvoerende hoof, is die ChatBack-diens – wat hul sagtewareingenieurs ten volle binne die WhatsApp-platform gebou het – spesifiek ontwerp om dié "jaarlikse beslommernis" uit die weg te ruim.

Daar's deesdae 'n magdom apps om 'n mens se lewe makliker te maak, "maar alle mense gebruik WhatsApp," sê Jan. Daarom sal die ChatBack-handelsmerk, wat buiten sulke lisensiehernuwing mettertyd ander dienste kan insluit, "binne WhatsApp leef".

Hoe werk die diens?

Die ChatBack-diens behels 'n baie eenvoudige proses waar jy bloot jou voertuigbesonderhede en enkele dokumentafbeeldings vir hulle aanstuur en 'n betaling aanlyn maak. ChatBack maak daarop aanspraak dat hulle dan "binne vyf werksdae jou lisensieskyf by jou voordeur kan aflewer". Jy hoef slegs dié maklike stappe te volg:

1. Voeg ChatBack se WhatsApp-nommer (+27 66 202 6685) by jou kontakte en stuur vir hulle 'n WhatsApp ('n woord soos "renew" of selfs geen teks). Alternatiewelik kan jy óf 'n QR-kode by chatback.co.za skandeer, óf net die woord "renew" gewoon SMS na 44155. Elkeen van dié drie opsies sal die WhatsApp-hernu-proses aan die brand skop.

2. Daarna word jy gevra om jou voertuigregistrasienommer te verskaf; waarna ChatBack vir jou 'n kwotasie stuur.

3. Jy doen dan 'n kredietkaart- of EFT-betaling via PayFast (alles nog binne die enkele WhatsApp/ChatBack-proses); en stuur 'n adres vir aflewering en 'n skandering of foto van jou ID-dokument asook 'n bewys-van-woonadres-dokument. Die hele proses behoort volgens Jan net twee minute te neem. 


Wat kos dit?

ChatBack vra 'n vasgestelde diens- en afleweringsfooi van R199, bo en behalwe die gewone hernuwingstarief. Jy kan ook agterna kyk hoe hulle met jou lisensiehernuwing vorder deur vir hulle die woord "status" te Whatsapp.

Waar is die diens beskikbaar?

Dié diens is beskikbaar in Gauteng (GP) en dele van die Wes-Kaap (vir mense met die lisensieplaatkodes WP, CA, CY, CF, CEY, CL en CJ). Intussen beoog ChatFin om vorentoe ook verwante dienste soos kennisgewings van adresverandering en verkeersboete-bestuur by hul ChatBack-boeket in te sluit.

Bronne: chatback.co.za, chatfin.co.za, lifepodcasts.fm