“Ek is seker mal, maar ek sien glad nie uit na my aftrede oor drie jaar nie. Ek kry reeds die horries oor wat ek met al my ekstra tyd gaan doen,” skryf ’n leser benoud aan Huisgenoot.

Dis dalk moeilik om te glo terwyl ’n mens nog oorweldig voel deur die eise van die werklewe en smag na ’n blaaskans, maar dié vrees vir aftrede is algemeen en raak toenemend vir baie mense ’n kwessie namate dit nader kom.

Die meeste van ons weet jy moet jou geldsake vir aftrede beplan, maar ons onderskat dikwels die waarde van niefinansiële voorbereiding vir die emosionele pad wat jy met aftrede stap. Hoe kan jy dié lewensfase positief benader om seker te maak die koms van jou goue jare is ’n gelukkige ervaring?

As ’n toegewyde skoolhoof het Rina Prenzler (75) destyds ook haar aftrede effens teësinnig afgewag. Sy het geweet sy sou die verantwoordelikhede, werkbevrediging en aansien van haar toppos mis.

Die Pretorianer het eindelik eers op 68 afgetree, later as die deursneewerknemer. Maar ondanks haar aanvanklike kommer oor haar komende aftrede geniet sy vandag die lewe ná aftrede.

Haar strategie? Jare voor Rina die leisels neergelê het, het sy reeds ’n emmerskoplys gemaak oor wat sy met al die tyd en groter vryheid wil doen. En nou is sy pal besig met genotvolle dinge waaruit sy nooit sal “aftree” nie.

Sy skilder, skryf en doen drie keer per week wateraërobiese oefeninge. Sy is betrokke by haar gemeenskap en neem deel aan sosiale aktiwiteite, van brug tot ’n boekklub.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images.

Ook dr. Arien van der Merwe, ’n mediese dokter, skrywer en radio- en TV-persoonlikheid, erken sy is verlede jaar deur ’n soort vertwyfeling toe sy 60 geword het. “Ek het gespook met vrae soos: Is dit nou net afdraande hiervandaan? Ek het besef ek het ’n nuwe uitdaging nodig.”

Arien spesialiseer in holistiese geneeskunde en werkplekgesondheid en streshantering, en sy fokus ook op ’n jeugdige lewensbenadering en langslewendheid.

Sy het ’n praktyk in Pretoria en ontspan elke Desember by haar vakansiehuis op Hermanus, waar sy beplan om eendag af te tree. Toe die aftreetwyfel haar beetkry, het sy besluit om ook ’n praktyk op dié kusdorp te begin.

“Die werk wat ek doen, kan ek doen tot ek 120 is!” spot sy. “Ek is nou 10 tot 14 dae per maand by my Hermanuspraktyk. Sodra dit goed gevestig is, sal ek meer tyd daar deurbring.”

Sy sorg ook dat sy al haar belangstellings en stokperdjies ontwikkel. “Ek het ’n woonplek met ’n toe stoep gekry waar ek my kunsateljee kan inrig. Ek maak graag sketse, water- en olieverfskilderye.”

Ons het by Arien en ander kenners gaan raad vra oor hoe jy jou aftrede positief kan benader.

Hoekom is mense bang vir aftree?

Baie mense bring lang ure by die werk deur en het dikwels nie juis ander belangstellings of stokperdjies nie. As hulle nie lank genoeg voor aftrede hieraan aandag begin gee nie, kan hulle angstig raak oor die vooruitsig van ’n lewe sonder werk, verduidelik Arien. “Maar ’n ingesteldheid kán verander.”

Dr. Melodie de Jager, ’n opvoedkundige sielkundige, ontwikkelingspesialis, motiveringspreker en skrywer van Die Glinster in My Grysheid, ’n gids oor aftreevoorbereiding, beaam dit: “Vir iemand wat nie vriendskappe, stokperdjies en belangstellings buite werkverband gekweek het nie, kan die vryheid van aftrede sinloos klink.”

Boonop verbind baie mense aftrede met afhanklikheid en aftakeling, sê Melodie. Hulle is bekommerd oor moontlike verliese op hul “oudag”, soos ’n lewensmaat of vriende wat kan sterf, krimpende inkomstebronne, veranderings in hul bekende omgewing en woonplek, en dat hulle “oorbodig” kan raak.

Hoe berei jy voor vir jou aftrede?

Bou betekenisvolle bande met ander

Alleenheid is ’n groot krisis onder ouer mense, maan Arien: “Sterk familiebande, ’n hegte huwelik of verhouding en gemeenskapsbetrokkenheid is baie belangrik.”

“Koester verhoudings met familie en vriende,” beaam Melodie. “Hoe ouer mense word, hoe moeiliker raak dit om goeie vriende te maak. En verhoudings, wys die neurowetenskap, bevorder ‘goeie liggaamschemie’, wat immuniteit ’n hupstoot gee. Kontak met kinders, kleinkinders en vriende – selfs Skypekuiers – pleks van isolasie is noodsaaklik.”

As jy nie ’n lewensmaat, kinders of kleinkinders het nie, is dit belangrik om bande te bou en te behou met vriende en mense wat belangstellings met jou deel.

Ontgin jou belangstellings

“Skep reeds jare voor aftrede vir jou ’n lewe buite jou werk,” benadruk Melodie. Begin minstens 10 jaar voor jou aftrede al daarmee, sê Arien.

“Om deel te wees van ’n godsdiens- of spirituele groep is wonderlik vir ’n samehorigheidsgevoel. Jy kan ook aansluit by belangstellingsgroepe soos voëlkyk-, wynproe-, sang-, dans-, joga-, skaak-, reis- of stapgroepe.

“Regterbreinaktiwiteite saam met ander mense, soos skilder, sing of kitaar- of klavierlesse, is van die beste maniere om op en wakker te bly.

“Die aanleer van nuwe vaardighede stimuleer ons breinnetwerke. ‘Neuroplastisiteit’ is ’n vermoë van die brein om nuwe netwerke te vorm. Maar te veel ouer mense sit met ‘neurorigideit’, waar (die denkprosesse) pal dieselfde paadjies volg, amper soos met ’n ou langspeelplaat waar die naald vasgehaak het.”

Melodie sluit hierby aan: “Begin met ’n stokperdjie wat jou hart laat bokspring en sluit aan by stimulerende klubs waar jy gereeld iets nuuts kan leer.”

Eintlik bied aftrede jou ’n wonderlike geleentheid, meen Celeste van der Walt, ’n 79-jarige aftredeberader van Port Elizabeth: “Jy kan jou jeugideale herbesoek, want jy het eindelik die tyd om dinge te doen waarvan jy lank net gedroom het.”

Of oorweeg dit om ná aftrede steeds konsultasiewerk in jou veld te doen, is Arien se raad. “Jy kan selfs ’n nuwe loopbaan begin. Hoeveel mense oor 60 het nie al ’n graad voltooi of ’n kunstenaar geword nie?”

Gee aandag aan jou gesondheid

Maak die regte leefstylkeuses, want goeie gesondheid is baie belangrik, maan Arien.

Kweek sommer nou al die gewoonte om voortdurend “redes te soek om te beweeg”, sê Melodie, want ’n tekort aan oefening kan jou gouer laat verouder. Beweging bring dieper asemhaling, wat suurstofinname en helderheid bevorder, “en ’n sterk lyf kwyn stadiger en help jou langer onafhanklik bly.

“Beweeg selfs gereeld terwyl jy koerant lees, brei of TV kyk,” stel sy voor.

Kweek die regte ingesteldheid

Melodie sonder dié kenmerke van gelukkige seniors uit:

  • Hulle is ontvanklik vir verandering. Hulle sien dit as ’n geleentheid om te leer en hul denke helder en emosies plooibaar te hou.
  • Hulle is dankbaar oor wat hulle het en gehad het.
  • Hulle is meer geneig om die humor in situasies raak te sien as om beswaard te raak.
  • Hulle vereenselwig hulle eerder met positiewe mense as met pessimiste.

Skaal geleidelik af

Mense wil dikwels afskaal wanneer hulle aftree, maar probeer om eers in jou huis aan te bly terwyl jy ’n skuif oorweeg, is die raad van Johannes Jordaan, aftrede- en finansiële beplanner en skrywer van Prima Tyd – Geniet Jou Lewe na 50.

Hy sê woonplek het ’n groot invloed op geluk in jou aftreejare; daarom moet jy voor jy skuif rustig en deeglik besin oor die voor- en nadele van die verskillende moontlikhede. ’n Verkeerde besluit kan, benewens die ongerief, jou aftreeneseier knou.

Raadpleeg ’n finansiële kenner of twee om seker te maak jou besluit is geldslim, en neem die volgende in ag:

  • Ligging: Jou aftreewoonplek moet verkieslik in ’n veilige, aangename omgewing naby ’n dokter, hospitaal, winkels en ander geriewe wees.
  • Sosiale oorwegings: Kontak met familie en vriende is belangrik. Moenie op ’n plek gaan woon waar jy afgesonder gaan wees nie.
Wat kan jy doen as een van jou geliefdes sukkel om by aftrede aan te pas?

“Luister eers voor jy raad gee,” beklemtoon die opvoedkundige sielkundige dr. Melodie de Jager.

Dis belangrik dat die mens begrip en respek van jou ervaar, maar moenie wegskram van moeilike gesprekke nie.

Oorweeg alle moontlike opsies, want keuses skep hoop.

Praat jou geliefde moed in en pak dinge saam aan, sê die mediese dokter dr. Arien van der Merwe, maar pasop dat jy gemanipuleer word: Moenie negatiewe gedrag, byvoorbeeld ’n gekla, versterk deur te veel simpatie te toon nie.

Fokus op positiewe ondersteuning en hoe mense hulle uit ’n neerdrukkende situasie uit kan leer dink.