Ons het by dr. Ingrid de Wet van die Ebervet- dierekliniek op Somerset-Wes in die Wes-Kaap aangeklop vir raad.

1. Wat is die beste manier om ons troeteldiere te laat afkoel? 

Katte en honde het baie minder sweetkliere as mense en sweet eintlik net deur hul pote. Honde koel meestal af deur te hyg, en in uiterste gevalle doen katte dieselfde. Hulle is nie in staat om so doeltreffend af te koel soos mense nie en daar is die risiko vir hitte-uitputting/stres – wat dodelik is en tot orgaanskade (insluitend breinskade) kan lei.

Klein troeteldiere soos marmotjies is veral kwesbaar. Sorg dus dat hulle ’n plekkie in die skaduwee het met goeie ventilasie en koel drinkwater om oorverhitting te verhoed.

Die meeste honde geniet dit om in water af te koel. As hulle hou van swem, laat hulle in die swembad spring of maak hulle nat en laat hulle voor ’n waaier staan. Honde met ’n dik pels soos poolhonde het ideaal gesproke lugversorging nodig om af te koel. Honde en katte met ’n dik pels kan in die somer geskeer word.

2. Is swem in die see veilig vir honde? 

Dit kan gevaarlik wees vir honde as hulle te veel soutwater drink. As jy hulle strand toe neem, maak seker jy neem vars water saam en bied dit gereeld vir hulle aan. Wees ook bewus van die toestande en laat jou hond net swem waar dit veilig is.

’n Goeie reël om in gedagte te hou is as jy nie jou vierjarige kind in ’n gebied sal laat swem nie, moet jy nie jou hond daar toelaat nie.

3. Kan ’n mens sonskerm aan ’n hond of kat aanwend?

Ja, en dis veral belangrik vir diere met pienk dele aan hul lyf, soos Jack Russells en bulterriërs wat ’n pienk maag het en daarvan hou om in die son te lê. Katte met ’n pienk of wit neus en ore is geneig om velkanker te ontwikkel weens sonblootstelling. Jy kan sonskerm wat vir kinders bedoel is aan dié dele gebruik. Daar is ook produkte vir diere. Probeer sonblootstelling tussen tienuur soggens en vieruur in die middag beperk.

Wys jou hond hoe om af te koel in ’n groot plastiekhouer gevul met koel water wanneer jy nie tuis is ni. Laat slegs swem toe onder toesig toe om ’n ongeluk te vermy.Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Wys jou hond hoe om af te koel in ’n groot plastiekhouer gevul met koel water wanneer jy nie tuis is ni. Laat slegs swem toe onder toesig toe om ’n ongeluk te vermy.Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

4. Wat is die gevaar vir diere wat op warm oppervlakke stap? 

Hoewel die kussinkies aan honde se pote dik is, kan dit brand en baie pynlik wees. Die hele kussinkie kan afskilfer en ’n rou, oop wond laat wat lank neem om te genees. Voel altyd met jou hand op die oppervlak van die grond – as jy nie jou hand langer as vyf sekondes daar kan hou nie, is dit beslis te warm.

5. Moet jy jou hond in die somer skeer?

Baie mense verkies om hul honde – en soms katte – in die somer te skeer. Die gevaar is dat hul pels soms nie op dieselfde wyse teruggroei nie, soos met poolhonde. En as die pels te kort geknip word, kan dit die vel aan die son blootstel. Indien dit gebeur, wend sonskerm aan tot die pels teruggegroei het. Dis oor die algemeen ’n goeie idee om jou hond of kat te skeer as hulle lang hare het en in die hitte sukkel.

6. Hoe reis jy in warm maande met ’n dier?

Moet nooit jou troeteldier alleen in ’n warm motor los nie. Die temperatuur styg vinnig en jou troeteldier kan sterf. Ingrid het ’n geval gehad waar diere binne 15 minute gesterf het. As jy moet stilhou, hou in die skaduwee stil en maak seker die kar is goed geventileer. Hou elke twee uur stil om jou troeteldiere te laat strek en water te laat drink. Maak seker katte het vars water in hul katbokse. 

Hitte-uitputting

Simptome

  • ’n Oormatige gehyg en gekwyl.
  • Rooi tandvleis en tong.
  • Rusteloosheid, lusteloosheid en kry toevalle.

Behandeling

  • Koel af met lou water. 
  • Kom so gou moontlik by ’n veearts uit.

WINKELWENKE

Nie alle honde swem nie
Honde met ’n groot bors, kort bene en/of kort snoet is nie swemmers nie. Laat hulle ’n reddingsbaadjie see toe dra.
DFD-reddingsbaadjie vir honde Van R710 tot R1100,
DFD-reddingsbaadjie vir honde Van R710 tot R1100, ezydog.co.za
Vermy sonbrand
Help pienk vel teen velkanker beskerm.
Dermoscent Sunfree-sonskerm R255, takealot.com
Dermoscent Sunfree-sonskerm R255, takealot.com

Koel in ’n kits
’n Verkoelingshanddoek sal help teen oorverhitting.
Civvio-verkoelingshanddoek R119,90, Sportsmans War
Civvio-verkoelingshanddoek R119,90, Sportsmans Warehouse