Die eerste stap is om seker te maak jy was die plastiekbak of -houer dadelik uit nadat jy die inhoud daarvan geeët of gebruik het. Maar as jy nie het nie, hoef jy nie bekommerd te wees nie. Hier is vyf wenke wat beslis ’n verskil gaan maak.

1. Koeksoda

Koeksoda
Koeksoda staan bekend as "Baking Soda" in Engels. Foto: Gallo Images/Getty Images

Koeksoda is een van die moet-hê items in jou spens. Dit help met byna als!

Maak die houer vol water en voeg ten minste ’n eetlepel koeksoda by. Gooi nog by as jou houer groot is of ’n sterk onplesierige reuk het.

Maak die deksel nat en sprinkel koeksoda daarop. Week dit vir sowat ’n uur en spoel behoorlik af met warm water. Die reuk en kleur behoort teen hierdie tyd weg te wees. 

2. Handreiniger 

Handreiniger
Gebruik die waterige handreiniger, eerder as die jel. Foto: Gallo Images/Getty Images

Gedink handreiniger beskerm jou net teen die virus? Dink weer. Jy kan nou jou handreiniger vir jou gevlekte plastiekbakke ook nader trek. 

Gooi handreiniger (die waterige soort en nie die jel nie) in jou houer en laat dit vir sowat 45 minute staan. Vee die bak buite om met 'n klam papierhanddoek af en spoel die handreiniger binne uit met warm water. 

Handreiniger is aan die duur kant, so as jy ’n surplus daarvan het, is dié metode die een vir jou. Indien nie, probeer gerus ’n metode wat jou sak pas. 

3. Bleikmiddel

Bleikmiddel
Wees versigtig wanneer jy met bleikmiddel werk om te verseker dit beland nie op jou klere nie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Bleikmiddel is ’n staatmaker as jy vlekke wil verwyder. Hoewel dit soms straf op delikate kledingstukke kan wees, kan dit wel ingespan word om vlekke in jou duur plastiekhouer te verwyder. 

Maak só ’n bleikmiddel-oplossing: Gooi een eetlepel bleikmiddel per koppie water en vermeerder dit in verhouding soos nodig. Gooi dit in die houer. Laat die houer vir sowat 2 ure staan met die bleikmiddel-oplossing daarin. Spoel die houer met warm water en siedaar! 

4. Wit asyn

Asyn
Wit asyn bied 'n organiese oplossing. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wit asyn is ’n natuurlike middel wat van organiese verbindings gemaak is. Die metode werk soortgelyk as die met bleikmiddel, maar is ’n goeie alternatief as jy nie bleikmiddel in jou duur plastiekware wil gebruik nie. 

Voeg een eetlepel asyn by ’n koppie water en vermeerder dit in verhouding soos nodig. Gooi dit in die houer. Laat dit vir een tot twee uur week. Spoel dit daarna deeglik met warm water uit. 

5. Sout

Sout
Sout help veral vir taai vlekke. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Huis sonder sout is ’n huis sonder liefde, of so lui die gesegde. As jy ’n oorvloed sout het, kan jy dit inspan om van taai vlekke in jou plastiekware onslae te raak. 

Gebruik ’n warm klam lap en gooi sowat ’n teelepel sout op die vlek en vryf dit totdat die vlek verdwyn of ligter raak.

Ons hoop hierdie wenke kon jou plastiekhouers van daardie ongewensde reuke en vlekke verlos.

Bronne: Allrecipes.com, Thekitchnn.com, Foodal.com