Volgens die fliek The Social Dilemma word alles wa
Volgens die fliek The Social Dilemma word alles wat jy aanlyn doen vir ewig gestoor. Algoritmes word spesifiek ontwerp om ons verslaaf te hou. Foto: The Social Dilemma

Daagliks word soveel fopnuus op Twitter en Facebook versprei dat ons nie meer ’n benul het wat waar is en wat nie, en die foto’s op Instagram skep ’n prentjie van skoonheid en volmaakte lewens wat nie in die werklikheid bestaan nie.

Dis niks nuuts nie – kenners waarsku ons al jare hieroor. Hoekom veroorsaak ’n nuwe Netflix-dokumentêr oor die gevare van sosiale media dan so ’n opskudding? Want dit gee ons ’n binneblik op die metodes wat Facebook, Google, Instagram, YouTube en Twitter inspan om hul gebruikers te manipuleer.

Voorheen was dit alles bespiegeling, maar in die ontstellende nuwe dokumentêr The Social Dilemma laat gewese werknemers van dié internetreuse die aap uit die mou: Hulle deel watter onderduimse taktiek die sosialemediaplatforms gebruik om jou vasgenael te hou aan die skerm sodat hulle jou met advertensies kan bombardeer.

Jy – jou aandag en tyd – is die produk wat verkoop word aan adverteerders, beklemtoon hulle. En daarom wil hulle jou vasgenael hou, selfs al kan dit skadelik wees vir jou geestesgesondheid en verhoudings.

En die groot name van Silicon Valley weet presies hoe om dit reg te kry, danksy die inligting oor jou voorkeure wat jy onwetend vir hulle deur jou plasings, klikke en likes gee. Hulle sal niks ontsien om jou aanlyn te hou nie, selfs al beteken dit jy word met vals nuus bestook.

Volgens die dokumentêr versprei fopnuus nou ses keer so vinnig as ware nuus. Tog doen Facebook en ander min om dit te stuit. As jou persoonlike algoritme dus wys jy lees graag bisarre samesweringsteorieë, is dit wat die platform sal aanhou om vir jou te gee – of dit nou waar is of nie.

Dit is nie net oneties nie, sê Tristan Harris, ’n voormalige Google-ontwerper; dit bedreig ook ons samelewing, demokrasie en die geestesgesondheid van ons kinders.

“Sosiale media is nie ’n stuk gereedskap wat net wag om gebruik te word nie,” sê hy. “Dit het sy eie doelwitte en sy eie manier om dit te bereik deur jou sielkunde teen jou te gebruik.” Sean Parker, wat as Facebook se stigtersvoorsitter gedien het, stel dit nog sterker. Volgens hom is die platform ’n geslote kringloop wat jou die sosiale erkenning gee wat jy soek.

Foto: The Social Dilemma
Foto: The Social Dilemma

“Dis presies die soort ding waarmee ’n kraker soos ek vorendag sou kom, want jy buit ’n kwesbaarheid in menslike sielkunde uit,” sê hy.

Al maak Facebook die dokumentêr as “sensasiesoekend” af, wonder baie gebruikers wat dit gekyk het nou of en hoe hulle uitgebuit word – en wat hulle daaraan kan doen.

Want waar laat die gevaarligte jou? Moet jy al jou eie profiele op sosiale media deaktiveer en anders as so baie van jou tydgenote daarsonder klaarkom?

Selfs al wil jy dit doen, is dit dalk nie moontlik nie, sê Harry Thompson, stigter en direkteur van die sagtewaremaatskappy Kurtosys wat kantore in Suid-Afrika en Londen het.

Maar daar is tog stappe wat jy kan doen om te keer dat groot tegnomaatskappye jou privaat inligting gebruik om jou te manipuleer. Huisgenoot gee raad noudat die Netflix-dokumentêr almal twee keer oor hul gebruik van sosiale media laat nadink.

HOU JOU DIGITALE VOETSPOOR DOP

Eenvoudig gestel is jou digitale voetspoor alles wat jy aanlyn doen: die inhoud wat jy plaas of deel, die webtuistes wat jy besoek, die dinge wat jy aanlyn koop en die mense met wie jy daar kommunikeer.

Selfs al is dit ’n vriend wat jou tag in iets wat hulle plaas, word dit steeds by jou digitale voetspoor gevoeg – en as dit iets omstrede is, kan dit by jou kom spook. “Die enigste manier waarop jy waarlik jou digitale voetspoor kan beskerm, is deur nie een te hê nie,” sê Harry.

Maar die internet het so ’n integrale deel van die lewe geword dat ’n digitale voetspoor so te sê onvermydelik is. Tog sê Harry jy moet daarna mik om joune so klein moontlik te hou deur so min moontlik oor jouself aanlyn te deel en jou tyd op die internet en op sosiale media te beperk.

Foto: The Social Dilemma
Foto: The Social Dilemma

BESEF JY WORD GEBRUIK

Jy hoef dalk nie geld te betaal om sosiale media te gebruik nie, maar dit beteken nie dis heeltemal gratis nie. Jy betaal deur vir tegnoreuse toegang tot jou privaat inligting te gee, sê Craig Rosewarne, besturende direkteur by die Suid-Afrikaanse kubersekuriteitsmaatskappy Wolfpack Information Risk.

Dié inligting stel hulle in staat om advertensies te teiken wat hulle dink jou belangstelling sal prikkel, wat beteken hulle het ’n kans om geld te maak.

“Ongelooflik kragtige algoritmes word gebruik om elke fliek wat jy kyk, boek of artikel wat jy lees en alles wat jy op jou soekenjins intik, na te spoor,” sê Craig. “Meer van ons privaatheid word afgestaan en meer geteikende inhoud en advertensies word na ons gestuur, wat ons minder in beheer maak van wat ons in ons tydlyne sien.”

BESKERM JOU DATA SO

  • Gebruik ’n ander soekenjin. Iets soos DuckDuckGo is ’n veilige alternatief vir die uiters kragtige Google. Wat dit onderskei is dat dit vir alle gebruikers dieselfde soekresultate toon – anders as Google wat soekresultate aanpas en vir mense wys waarop hulle dink hulle graag sal wil klik. As jy byvoorbeeld in sekere dele van die wêreld “Climate change is . . .” op Google intik, is die eerste opsie wat in die soekbalk sal opwip “Climate change is a hoax”, terwyl die eerste opsie in ’n ander deel van die wêreld dalk “Climate change is real” sal wees. DuckDuckGo, aan die ander kant, weet niks oor sy gebruikers nie, want hy spoor hulle nie na nie. Jy kan die app gratis op jou foon aflaai, sê Craig, of dit as ’n uitbreiding op jou rekenaar byvoeg as jy Google Chrome gebruik. Om dit te installeer, besoek die Chrome Web Store of gaan na die DuckDuckGo-webtuiste (duckduckgo.com) en klik op die aflaaiskakel op die tuisblad.
  • Stuit adverteerders in hul spoor. Uitbreidings soos Privacy Badger (privacybadger.org) en Ghostery (ghostery.com) kan by Google Chrome gevoeg word om te keer dat adverteerders en derdeparty-naspoorders jou dophou en met advertensies teiken.
‘ ’n digitale voetspoor is so te sê onvermydelik’

VERSTAAN DIE PRIVAATHEIDSBELEID

Jy sou ingestem het tot die beleide toe jy aanvanklik by ’n sosialemediaplatform aangesluit het. “Dit word deur prokureurs geskryf om maatskappye te beskerm en te verseker hulle voldoen aan die wette,” sê Harry. “Maar niemand lees dit ooit nie.”

Dit is moontlik om weer daartoe toegang te kry deur na Facebook of Twitter se hulpsentrum te gaan, maar dit kan jou ure neem om deur al die fynskrif te swoeg.

Craig stel voor jy gaan eerder na die webtuiste tosdr.org wat die privaatheidsbeleide van gewilde webtuistes en sosiale media van klas A (baie goed) tot klas E (baie sleg) beoordeel.

DuckDuckGo kry byvoorbeeld ’n A, terwyl Facebook ’n powere E kry – om verskeie redes, onder meer omdat die diens jou op ander webtuistes naspoor en jou inligting gebruik om familie en vriende te teiken met advertensies wat hulle dink hulle dalk sal interesseer.

Foto: The Social Dilemma
Foto: The Social Dilemma

SKAKEL PASGEMAAKTE ADVERTENSIES OP YOUTUBE AF

Google hou deurentyd tred van die YouTube-video’s wat jy kyk en gebruik dié inligting om verpersoonlikte advertensies af te lewer. Keer dat dit gebeur: Teken op jou rekenaar op jou YouTube-rekening aan en kies dan “Settings” en “Privacy”. Klik op die Google Ads Settings-skakel in die “Ads based on my interest”-afdeling van die blad en beweeg die glystaaf in die “Ad personalisation”-seksie na “Off.”

MOENIE COOKIES VAN VREEMDELINGE AANVAAR NIE

Baie van ons klik sonder om te dink die “Accept”-knoppie wanneer ons op ’n webtuiste aanteken wat cookies gebruik. Maar wanneer jy dit doen, laat jy die webtuiste toe om jou internetblaaigeskiedenis na te spoor.

“Die inligting in die cookies laat toe dat die bladsye wat jy besoek en die items waarvoor jy soek of waarna jy kyk, versamel word,” verduidelik Harry. “Die inligting word by jou persoonlike profiel, ligging en ander demografiese faktore gevoeg.”

Dit maak pasgemaakte advertensies moontlik, maar jy is heeltemal binne jou regte om cookies te verwerp. Dit kan dalk soms veroorsaak dat die webtuiste nie werk nie, maar jy sal meestal kan aanhou blaai.