Die laaste keer toe Sarah Christian haar hare verloor het, was sy in die fleur van haar lewe. “Ek was 28, enkellopend en op soek na my droomman. Ek kon my nie voorstel ek verloor my hare nie, wat nog te sê die tragiese pruike wat ek sou moes dra,” vertel Sarah.

“Om jou hare te verloor is een van die moeilikste dinge wat ’n vrou kan beleef. Ons bestee honderde of duisende rande per jaar aan ons hare. Verbeel jou dus die dag wanneer jou eens lang, bruin hare nie meer op jou kop is nie, maar oral op die vloer en in jou bed en hande vol in die stort uitval.”

Sarah is nie alleen nie. Trouens, een uit drie vroue sal ná 30 jaar haarverdunning of -verlies opmerk en dit kan al in jou 20’s begin.

Vir die meeste vroue is yler wordende hare, kaal kolle en ’n haarlyn wat terugskuif ontstellend, want glansende, welige lokke word dikwels as die uiterste teken van vroulikheid beskou.

“Hare is ’n belangrike kenmerk vir die meeste vroue, wat hul gevoel van selfwaarde en ‘voorkoms’ op grond van mooi hare identifiseer,” sê die dermatoloog Eleni Yiasemides.

“Die samelewing heg baie waarde aan mense se voorkoms, en hare is ’n groot faktor. Normale haarverlies is sowat 100 hare per dag. Enigiets meer as 150 hare per dag kan as beduidend beskou word en kan ’n ondersoek deur ’n dokter verg.”

Sarah (nou 32) trotseer haarverlies sedert sy nege was. “My eens dik, lang bruin hare het uitgeval, my kussing was vol, dit het in die stort uitgeval en my borsel was vol,” sê sy.

“Kort daarna is alopesie by my gediagnoseer, ’n outo-immuuntoestand wat skielike haarverlies veroorsaak.”

Toe die aanvalle van alopesie in volwassenheid voortduur, het Sarah van haar vroulikheid, seksualiteit en skoonheid gestroop gevoel.

DIE HAARGROEISIKLUS

Hare bestaan uit ’n proteïen, keratien, wat in follikels onder die vel ontstaan. “Namate nuwe keratien vervaardig word, word ou selle in die follikel op en deur die vel se oppervlak gedruk,” sê die haarkundige Simone Lee.

“Hierdie stringe dooie keratienselle is wat ons as hare sien. Hare op die kopvel groei 90% van die tyd. Die lewensiklus van elke follikel word in drie fases (anageen, katageen en telogeen) verdeel – die haargroeisiklus.”

Soorte behandeling

Haarverlies is dikwels tydelik, maar kan permanenter word weens veroudering of ander faktore, sê Simone.

“Daar is baie behandelings vir haarverlies en -verdunning. Maar net ’n aantal bestanddele is doeltreffend of bied resultate, onder meer die teruggroei van hare, sê sy, en noem minoksidiel en amineksiel as voorbeelde.

“Algemene haarverliesbehandelings kan in die vorm van gespesialiseerde haarsorgprodukte soos smeermiddels en medisynes voorkom.”

Al behandel dit nie die oorsaak van hare wat dunner word nie, kan verdikkende sjampoes, opknappers en stileerprodukte hare laat voller lyk.

Oorsake van haarverlies

“Kophare groei sowat 1 cm per maand,” sê Simone.

“Die koers kan groei kan belemmer word deur verskeie velsteurings wat die haarfollikels beskadig, hormoonveranderings, voedingstekorte, chirurgie of langdurige siekte, reaksies op medisyne, ouderdom en genetiese geneigdheid.”

Die haarstilis Kenneth Stoddart sê verskeie van sy vroulike kliënte toon tekens van dunner wordende hare. “Hare kan yler word sowat ses maande nadat iets stresvols gebeur het en dit kan nog ses maande duur voor dit na normaal terugkeer.

“Kindergeboorte is ook ’n groot oorsaak van dunner hare, veral om die slape. Dit kan tot ’n jaar duur vir die hare om terug te groei en in party gevalle groei die hare nie heeltemal terug soos dit was nie.”

TEKENS EN SIMPTOME

“Mans, vroue en kinders toon dikwels verskillende tekens en simptome van haarverlies,” sê Simone.

“Op enige ouderdom kan haarverlies wat in borsels, op die badkamervloer of in die drein gevind word ’n teken van kommer wees.”

Party vroue se kopvel raak sigbaarder in hul paadjielyn, terwyl mans kan ervaar dat hul haarlyn terugskuif. “Nog tekens kan wees ’n skielike verlies van hare in kolle of kolle gebreekte hare aan die kopvel,” sê Simone.

Vroue ervaar dikwels hulle kan meer lusse met hul haarrekkie maak, want hul poniestert het dunner geword. Dit is nie ’n rede tot paniek nie. Raadpleeg eerder ’n mediese kenner om die oorsaak en die beste behandelingsopsie vir jou te bepaal.

“Die sleutel is om vroeg met behandeling te begin,” sê dr. Eleni Yiasemides.

“Daar is baie advertensies wat ‘wonderkure’ beloof, wat vals is en tot ’n vrou se teleurstelling oor die toestand en die behandeling daarvan bydra.”

Eleni sê dit verg gewoonlik sowat ses maande van topikale behandelings om ’n resultaat vir manlike of vroulike haarverlies te sien en die hoofdoel van dié vorm van behandeling is om te keer dat die toestand vererger.

“Daar is geen genesing of voorkoming nie en die behandeling daarvan is lewenslank,” sê sy.

‘Hare kan yler word sowat ses maande nadat iets stresvols gebeur het en nog ses maande verg om na normaal terug te keer’

DÍT KAN JY DOEN

Daar is verskeie leefstylveranderings wat jy kan maak en stappe wat jy kan doen om jou haarvolume ’n hupstoot te gee en nog haarverlies te voorkom.

1. KRY DIE REGTE SNIT

“Een van die beste dinge is om jou haarkapper te besoek en ’n snit te kry wat die punt van die hare help verdik,” sê Kenneth.

“Jy kan die hare laat dikker lyk deur die paadjie na die teenoorgestelde kant te verander of ’n ongelyke skuins paadjie te kies, wat die hare om die paadjie sal lig en voller laat lyk.”

2. KIES VERDIKKENDE PRODUKTE

“Gebruik produkte soos verdikkende sproei en volumegewende mousse, want dit sal die hare ’n voller voorkoms help gee,” sê Kenneth.

3. VERBETER JOU DIEET

“Voeding is baie belangrik vir die behoud van ’n gesonde haargroei-en-vernuwingsiklus,” sê Simone.

Volgrane (biotien en silika), maer proteïen en groen groentes kan haarvernuwing verbeter, terwyl alkohol- en kafeïendrankies ’n negatiewe uitwerking kan hê.

4. OEFENING

“Gereelde oefening is uiters voordelig vir ons gesondheid en welstand, maar swaar oefenprogramme word dikwels met ontwrigting van die haargroeisiklus in verband gebring, want die liggaam word dalk onder reusedruk geplaas,” sê Simone.

5. SORG VIR JOU HARE

Sterk chemikalieë aan die kopvel en hare en stywe vlegsels of haarverlengings kan nog skade aan die haarslierte aanrig. Gebruik ’n borsel met sagte hare sagkens.

6. VERMINDER STRES

“Stres kan die bloedvate laat vernou, wat die proses van haargroei kan vertraag,” sê Simone. Sorg dat jy genoeg slaap kry en beproef meditasie of asemhalingstegnieke om stres te bestuur.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe