Wanneer dit soos heuning lyk en die etiket so sê, kan jy tog sekerlik glo dis die ware Jakob, nie waar nie? Ongelukkig nie. Heuning is wêreldwyd een van die kosprodukte wat die meeste vervals word, tesame met olyfolie, parmesaankaas, koffie en saffraan.

Daar is twee hoofredes daarvoor – dit is een van die duurste vorms van suiker wat bestaan, en dis maklik om met vloeibare heuning te knoei en ’n goedkoper weergawe te maak deur bloot die oorspronklike produk te verdun.

“Heuning word oor die algemeen verdun deur een of twee stowwe by te voeg – óf rietsuiker óf mieliestroop,” sê Mike Mills, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Byebedryforganisasie. “Die suiker word gekook tot dit die vloeibaarheid en kleur van heuning het, en dan word dit by die regte heuning gevoeg om dit meer te maak,” sê hy.

Volgens Mike is die enigste akkurate manier om tussen egte en nagemaakte heuning te onderskei om dit in ’n laboratorium met die C4-suikertoets te laat toets. “Rietsuiker en hoëfruktosemieliestroop is albei ’n samestelling van wat C4-suikers genoem word, en die toets kan bepaal of daar ’n groot hoeveelheid C4-suikers in die heuning is. Die internasionale standaard vir heuning is dat die C4-suikers nie meer as 7% moet wees nie.”

heuning
Foto: Gallo Images/Getty Images.

Daar heers ’n debat oor die C4-toets, want party plante het hoë C4-suikervlakke, sê Mike, maar oor die algemeen is die flora van Suid-Afrika onder die internasionale standaard van 7%. “As die toets byvoorbeeld toon die C4-suikervlak is 30%, is daardie suikers by die produk gevoeg en is dit verdun,” verduidelik hy.

Die probleem is die C4-toets kan tans net internasionaal gedoen word, want daar is geen laboratorium in Suid-Afrika wat daarvoor ingerig is nie. Daar is planne om sulke fasiliteite te vestig, sê Mike, maar dis nog in die beginstadium.

Hoe akkuraat is selfdoentoetse?

Kom ons wees eerlik – selfs al kon jy, is dit nie asof jy elke keer wanneer jy ’n potjie heuning koop ’n bietjie daarvan gaan laat toets nie. As jy dit nie kan doen nie, en nie noodwendig die etiket kan vertrou nie, hoe kan jy vasstel of die heuning wat jy koop eg is?

’n Vinnige soektog op die internet lewer ’n aantal selfdoentoetse op wat jy tuis kan doen. Daar’s die vlamtoets, waar jy ’n vuurhoutjie se kop in die heuning doop en dit dan teen die boksie trek. As dit dadelik ontvlam, is die heuning glo suiwer, maar as daarmee gelol is, sal die vuurhoutjie dalk ’n ruk neem om te ontvlam.

heuning
Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die watertoets behels dat jy ’n druppel heuning in ’n glas water plaas. Die idee is dat suiwer heuning, omdat dit klewerig en taamlik vloeitraag is, aan die onderkant van die glas sal gaan lê en nie maklik oplos nie, terwyl verdunde heuning vinnig in die water oplos.

Daar is ook die vingertoets. Jy plaas ’n druppeltjie heuning aan jou vinger, en as dit uitsprei, is dit nie suiwer nie, want suiwer heuning sal blykbaar heel as ’n druppel aan jou vinger bly.

Heuning is een van die kosse wat die meeste vervals word

Dit is soortgelyk aan die broodtoets, wat behels dat suiwer heuning op die brood bly wanneer dit op ’n sny brood gesmeer word, terwyl vals heuning sal intrek.

Maar Mike maak dié metodes as ouvroustories af en sê dit is nie betroubaar nie. “Dis vir ’n leek byna onmoontlik om te beoordeel of heuning suiwer is, bloot omdat dit so maklik is om dit te vervals.” Jy moet na die volgende drie faktore kyk, sê hy.

Indien dit nie heeltemal akkuraat is nie, is dit beslis ’n akkurater manier as die voorafgaandes om vas te stel of die heuning wat jy koop eg is of nie.

“Kyk eerstens hoe dik dit is. Tweedens, of dit verkorrel of versuiker of nie. En derdens, die smaak,” sê hy. Egte heuning is gewoonlik dikker as die verdunde weergawe, alle suiwer heuning versuiker die een of ander tyd, en na gelang van waar die nektar versamel is, proe dit ook meestal effens minder soet as heuning wat met stroop gemeng is.

“Bygesê, natuurlike rou heuning kan vloeibaarder wees en maklik vloei na gelang van die bron. Heuning wat verdun is, kan ook verkorrel,” voeg hy by. “Wat smaak betref, kan die meeste mense gewoonlik proe wanneer dit stroop is. Maar jy moet ’n heuningfynproewer wees om met algehele akkuraatheid te kan sê.”

Die beste manier om te verseker jy koop nie vervalste of verdunde heuning nie? Koop by ’n plaaslike byeboer of heuningplaas.

heuning
Foto: Gallo Images/Getty Images.

Rou, gepasteuriseerd, organies – wat is die verskil?

Rou heuning (ook suiwer genoem) is heuning wat nie gepasteuriseer is nie en sodoende al sy natuurlike eienskappe behou, soos dat dit antibakteries kan wees en spysvertering help bevorder. Dit kom regstreeks uit die korf en word uit die heuningkoek onttrek.

Gepasteuriseerde heuning is verhit en gesif om bakterieë soos dié wat botulisme veroorsaak dood te maak en het nie die voordele van rou heuning nie.

Organiese heuning bevat nie plaagdoders nie; net internasionaal gesertifiseerde byeboere kan daarop aanspraak maak dat hul heuning organies is, sê Mike. Daar is geen byehok in Suid-Afrika wat as organies gesertifiseer is nie, voeg hy by.

“Bye kan taamlik ver vlieg om nektar te versamel, en as daar byvoorbeeld gewasse of ’n vrugteplantasie binne twee of drie kilometer van die korf af is en die bye vlieg daarheen om die nektar te versamel en keer dan terug en sit dit in die heuning, kan jy nie seker wees daar’s geen plaagdoders in die heuning nie. Dus is daar internasionale toetse vir organiese plekke,” sê Mike.

Zambië is een van die lande wat sekere areas het wat tot organiese plekke verklaar is. Dit word moontlik gemaak deur groot gebiede woud sonder landbougewasse in die omgewing waarheen bye kan vlieg.

Die gesondheidsvoordele van heuning

Dié natuurlike versoeter bevat fruktose, dekstrose en sukrose, asook ’n bietjie aminosure en antioksidante.

Heuning het antibakteriese kenmerke en kan help om infeksie te beveg; daarom bevorder dit die genesing van wonde en word dit as ’n tuisraat vir brandwonde aanbeveel – dis nie om die brandwond self te behandel nie, maar eerder om infeksie te help voorkom. Dit word ook as ’n tuisraat vir hoes gebruik.

Volgens die Amerikaanse departement van gesondheid is ’n 2,5 ml-dosis heuning voor slaaptyd doeltreffender vir die verligting van ’n gehoes weens boonste lugweginfeksies as sekere medisynes wat hoes onderdruk.

Die eet van heuning kan vermoedelik allergiesimptome help verlig deur as ’n inenting teen plaaslike allergene te dien. As jy gereeld heuning eet wat naby jou huis geoes is, in die besonder net voor die blomseisoen, kan dit die loopneus en rooi, jeukende, tranerige oë verlig wat met seisoenale allergieë verbind word.

Heuning verkwik ook glo die vel en vertraag die vorming van plooie. Jy kan dit as ’n gesigmasker gebruik.

Verskillende soorte heuning
  • Koekheuning word regstreeks uit die korf gehaal en behou in die vorm waarin die bye dit maak en berg.
  • Vloeibare heuning is die algemeenste vorm wat verkoop word en die een wat die algemeenste gebruik word. Dit word uit die korf onttrek deur die wasdeklae te sny en die koeke in ’n heuningpers te verwerk.
  • Korrelheuning is ’n verpoeierde vorm van heuning. Dit word gemaak deur heuning uit te droog of te bevries ten einde die water te onttrek. Die korrels word dan in ’n fyn poeier gemaal wat in tee, kosmetiekware en ander produkte gebruik word.
  • Verroomde heuning is ’n mengsel van korrelheuning en vloeibare heuning wat teen ’n spesifieke temperatuur geberg word tot dit ferm word. Dit word so verwerk sodat dit makliker smeer.
  • Stukheuning is koekheuning wat in ’n fles gebêre word met vloeibare heuning daaroor gegiet.

EKSTRA BRONNE: NCBI.NLM.NIH.GOV, HONEYCOLONY.COM