Hulp met haarballe

Die meeste kateienaars kry in die een of ander stadium met haarballe te doen – of hulle die onooglike kol op die vloer moet optel of die verskriklike geluid moet verduur van hul troeteldier wat dit probeer uithoes. Maar hoekom kry katte dit, en wanneer moet jy bekommerd raak?

Hoe dit vorm

Haarballe ontwikkel in jou kat se maag uit die hare wat hulle insluk wanneer hulle hulself versorg. Omdat katte se ­tong bedek is met honderde klein “dorings” wat agtertoe wys, kan hulle nie hare uitspoeg nie. Hulle kan dit ook nie uitskei nie. Die hare kleef gewoonlik aan gal en kosdeeltjies en vorm ’n bal.

Wanneer is dit ’n ­probleem?

Dis doodnormaal en niks om jou oor te bekommer as jou kat af en toe ’n haarbal uithoes nie. Maar as dit te gereeld gebeur of jou kat lyk benoud, moet jy by ’n veearts aanklop. Wees op die uitkyk na moegheid, ’n gebrek aan belangstelling in kos en ’n gehyg. Langhaar­katte is vatbaarder.

Maniere om dit te voorkom

Sit ’n handjie by

Dit sal baie help om jou troeteldier gereeld te borsel om van los haartjies ontslae te raak.

Olieaanvulling

Voeg vis- of olyfolieaanvulling by hul kos om hul spysverteringstelsel te smeer en die potensiële opbou van haar­balle te help verminder.

Verhoed verveling

Oormatige versorging uit verveling of angstigheid kan haarballe laat toeneem – kry dus katspeelgoed om hul aandag af te lei en speel met hulle.

Dieet

Kosse is beskikbaar wat haarballe beheer en help met vertering.


Stap vir stap fiks met jou woef

Honde-eienaars is fikser as hul vriende sonder hon
Honde-eienaars is fikser as hul vriende sonder honde. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dis amptelik: Honde-eienaars is fikser as hul vriende sonder honde.

Kenners het in ’n studie in ­Engeland bevind honde-eienaars is vier keer soveel geneig om weeklikse oefendoelwitte te behaal as dié sonder honde. In die studie is bevind twee derdes van honde-eienaars kry die aanbevole twee en ’n half uur oefening per week deur met hul hond te gaan stap.

Daar is ook bevind ’n groot getal honde-eienaars is hardlopers. Gryp die leiband en trek jou tekkies nader.


Staan opsy, Tinder!

Potensiële paartjies neem beheer oor hul eie alpak
Potensiële paartjies neem beheer oor hul eie alpakka en kry ’n rits instruksies. Foto: Magazine Features

Stel jou voor jy gaan op ’n eerste afspraak wat behels om in ’n woud met ’n alpakka te gaan stap om die ys te breek! Wel, twee alpakkatelers van Oostenryk het besluit dit klink na ’n goeie idee, en toe kom hulle met hierdie ongewone afspraakdiens vo­rendag.

Potensiële paartjies neem beheer oor hul eie alpakka en kry ’n rits instruksies – soos om hulle nie op die kop te tik nie (goeie raad met enige dier) – en word gewys hoe om met hul nuwe pel te gaan stap.

“Dis iets anders as om mekaar net vir koffie te ontmoet. Met ons diens kan jy in die natuur saam met die diere stap,” sê die eienaar Philipp Wohlgemuth. Hy sê dis so gewild dat hulle nie kan byhou nie.

“As daar ’n verhouding hieruit blom, kom ek met twee alpakkas na die troue toe.”


Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.