Eskom het Suid-Afrikaners Maandag onkant betrap toe dit ná 'n week van gereelde beurtkag aangekondig het fase 2-beurtkrag word ingestel.

Ons het die beste beurtkragwenke uit Huisgenoot se argief gaan soek om jou te help om die ongerief daarvan te verminder: 

  • Druk die voorgestelde beurtkragrooster uit en plak dit op die yskas sodat jy en jou gesin vir die onderbrekings kan voorberei. 
  • Niks is so frustrerend soos om uit jou huis uitgesluit te word weens 'n elektriese hek of motorhuisdeur wat van krag afhanklik is nie. Maak dus seker jy het batterye in voorraad om tydens kragonderbrekings in te span. 
  • As jou alarmstelsel nie werk nie, wees ekstra versigtig en belê in 'n selfoonnoodknoppie wat nie van elektrisiteit afhanklik is nie.
  • Stoor 'n olielamp, kerse of 'n flits in verskillende toeganklike plekke in die huis. Maak ook seker jy het gelaaide batterye wat in krisistye ingespan kan word. 
  • Die inhoud van jou ys- en vrieskas behoort oornag koud of bevrore te bly mits jy nie aanhoudend die deure oop- en toemaak nie.
  • Vul 'n fles met kookwater voor die krag afgaan sodat jy lekker warm koffie of tee kan drink.
  • Verseker dat jou selfoon en skootrekenaar voorafgelaai is sodat jy dit tydens 'n kragonderbreking kan gebruik. 
  • Die meeste versekeringsmaatskappye dek net diefstal as jou alarmstelsel aangeskakel is. Tydens ’n kragonderbreking is die alarm nie aangeskakel nie en kan dit jou eis teoreties negatief beïnvloed. Kontak jou verskaffer om seker te maak watter bepalings vir jou geld en dat jy gedek is. 
  • Stel ook by jou versekeraar vas of jy gedek is ingeval jy 'n ongeluk maak weens verkeersligte wat nie werk nie. Maar wees altyd op jou hoede wanneer die krag af is. Onthou, wanneer die verkeersligte by 'n kruising buite werking is, geld dieselfde reëls as by 'n vierrigtingstop. 
  • As jou begroting dit toelaat, kan jy in 'n kragopwekker belê. Leer hoe om dit veilig te gebruik en toets dit maandeliks. Hou ook genoeg brandstof byderhand om die kragopwekker ’n week lank te kan laat werk. 

Stuwingsproppe

prop,skakel,beurtkrag
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Elektriese toestelle is nie vir kragonderbrekings ontwerp nie. Dit beteken onstabiele elektriese toevoer kan op die lange duur skadelik wees vir jou duur platskerm-TV. 

Jy kan natuurlik jou toestelle se proppe ontkoppel voor die krag weer aangaan, maar as jy geneig is om te vergeet om dit te doen, kan jy in stuwingsproppe belê.

Dié spesiale proppe help om jou toestelle te beskerm aangesien dit teen hoofstroomgeïnduseerde stuwings weerstand bied. 

Dit kos tussen R90 en R100 (enkel), sowat R160 vir 'n agtpunt- en tussen R190 en R270 vir 'n twaalfpunt-proppasstuk.

Kook

skakel.krag,prop
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

'n Klein gasstoof kan nuttig te pas kom as jy nie heelweek toebroodjies vir aandete wil hê nie. 'n Klein tweeplaatstoof kos tussen R300 en R500. 

Ons kosspan het dié vinnige en voedsame resepte saamgestel wat jy in 'n japtrap kan berei wanneer Eskom die krag afsit, maar mae steeds vol moet kom.

Beligting

hand,lig,krag
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Moet jy in die donker rondtas op soek na daardie kers wat jy iewers diep in 'n kas weggepak het? Skaf 'n afstandsbeheerde gloeilamp aan. 

Wanneer die krag af is, kan jy 'n knoppie druk en dit sal dan lig verskaf sonder dat jy soos 'n afkophoender in die donker hoef rond te hardloop opsoek na ’n flits. 

Dit kos tussen R130 en R280.

  • Bron: Eskom
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.