Troeteldiere het ’n manier om in ons hart in te kruip, en wanneer hulle in ons lewe opdaag, dink ons hulle sal vir altyd ons vierpotige vriende bly. Maar die lewe kan selfs ons beste planne omvergooi.

So kan dit dalk gebeur dat jou en jou geliefde troeteldier se paadjies moet skei. Dalk het iemand in jou gesin ’n allergie vir pels ontwikkel of moet jy trek en kan jy nie jou troeteldier saamneem nie. Ons het raad by kenners gekry oor wanneer ’n nuwe tuiste nodig is en hoe om die oorgang te benader.

Kan die probleem opgelos word?

’n Nuwe tuiste moet regtig die laaste uitweg wees, sê dr. Anja Bezuidenhout, ’n veaarts by die Gardens-kliniek in Kaapstad. ’n Mens kan met positiewe versterking aan ’n gedragsprobleem werk.

“Beloon jou hond vir goeie gedrag en ignoreer hom wanneer hy hom wangedra,” sê sy.

Nog opsies is mediese ingryping of om ’n gedragskenner se hulp te kry.

Om eenvoudig jou troeteldier aan iemand anders te gee omdat hy ongehoorsaam is, beteken bloot jy skuif die probleem oor op iemand anders.

Allergieë kan met medikasie behandel word, maar as die simptome voortduur, is dit beter om vir jou troeteldier ’n ander tuiste te vind.

Ruim tyd in om jou hond op te lei en gedragsprobleme op te los. Om ’n ongehoorsame dier op iemand anders af te pak los nie die probleem op nie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wanneer ’n nuwe tuiste al uitweg is

  • As jy by ’n organisasie aanneem, sal jy gewoonlik ’n kontrak kry ingevolge waarvan jy die hond aan hulle terug moet besorg as jy die hond nie kan hou nie. 
  • As jy ’n nuwe tuiste vir ’n aangenome troeteldier wil kry, stel die organisasie waar jy die dier gekry het in kennis sodat hulle die nuwe tuiste kan inspekteer. 
  • Laat jou troeteldier voornemende eienaars ontmoet en kyk na hul interaksie, sê Julia Evan, hoofbestuurder by Cluny Animal Trust.
    “Troeteldier en eienaar moet gemaklik met mekaar wees,” sê sy. “Om ’n troeteldier te kies is nie soos om iets by die supermark te koop nie.” 
  • Hou jou troeteldier se behoeftes in gedagte. ’n Jack Russell moet byvoorbeeld nie na ’n kompleks of woonstel gestuur word nie.
    “Hulle is aktiewe diere en het hope stimulasie en ruimte nodig,” sê Julia.
    “’n Yorkie, daarenteen, moet ideaal gesproke in ’n huis geplaas word wat soortgelyk is aan die een waarvandaan hy kom,” is Anja se raad
  • Bekyk jou troeteldier se potensiële nuwe tuiste. Of die nuwe eienaars ryk is of nie, behoort nie jou besluit te beïnvloed nie.
    “Kyk of die eiendom omhein en veilig is, waar die dier sal slaap en of daar skaduwee is,” sê Julia.
  • Neem jou hond se geliefkoosde speel- en beddegoed na die nuwe tuiste. Die nuwe eienaars moet 24 uur voor die trek iets van die nuwe huis by julle agterlaat sodat jou troeteldier aan die reuk gewoond kan raak.
  • Begin jou hond ’n maand voor die trek kalmeertablette gee, sê Anja.
  • Kry jou troeteldier se sorg op datum (soos bosluis- en vlooibeheer, jaarlikse ondersoeke, ens.) om die las op die nuwe eienaar te beperk.
  • Al is dit swaar, is dit beter om agterna kontak met die troeteldier te beëindig, sê Anja. Kontak sal nie net jou hart breek nie; dis verwarrend en waarskynlik ook ontstellend vir die dier.
    “Laat die nuwe eienaars liewer af en toe vir jou ’n foto van die hond stuur,” sê Julia. 

Wen Frontline Tri-Act vir jou hond

Tien lesers sal elk vyf maande se voorraad van Frontline Tri-Act vir honde wen.  Hierdie volledige in-die-kol-oplossing beskerm honde nie net teen bosluise en vlooie nie, maar ook teen muskiete en vlieënde insekte.

Buiten dat dit ’n irritasie is, kan muskietbye allergieë en ontsteking veroorsaak en ernstige siektes oordra.

SMS die sleutelwoorde FRONTLINE, jou antwoord, naam en afleweringsadres bedags voor Donderdag 1 Maart om 17:00 na 35407*.

VRAAG In watter gewigskategorie val jou hond: 2-5 kg, 5-10 kg, 10-20 kg, 20-40 kg of 40-60 kg?

* Elke SMS kos R1,50. die borg is verantwoordelik vir die verskaffing van die pryse. Besoek huisgenoot.com vir die volledige bepalings en voorwaardes.