Min dinge is so irriterend soos ’n vasberade muskiet wat landings- en bytplek soek terwyl jy hard probeer om 'n goeie nagrus in te pas. 

As jy nie die nodige voorsorgmaatreëls tref nie, is dit amper seker jy gaan die volgende oggend met jeukerige bytplekke opstaan. In die somerson is die laaste ding wat jy wil hê jeukerige muskietbyte (glo my, ek weet!).

Kyk hier na ’n paar wenke om te verseker dat Meneer Muskiet sy afstand hou.

Knoffel

Dié huishoudelike item is in elke huishouding se kombuiskas en maklik verkrygbaar. As jy wonder of dit regtig werk, sal jy maar knoffel moet beproef.

Volgens quickanddirtytips.com hou die reuk van knoffel muskiete op ’n afstand. Jy kan die knoffel deur middel van kos inneem of in water kook en in ’n spuitbottel giet.

Muskietnet

'n Mens kry deesdae die fraaiste muskietnette wat jy rondom jou bed kan drapeer om die lastige makkertjies buite te hou.

’n Net is een van die oudste, maar ook die doeltreffendste maniere om jouself teen muskiete te beskerm.

Skaf gerus een aan.

Bly weg van stilstaande water

Volgens Naturallivingideas.com lê muskiete hul eiers in water. Jy sal jouself dus ’n guns doen om nie naby stilstaande water te gaan nie.

Dit sal nie die muskiete laat weggaan nie, maar jy kan jou kontak met hulle verminder.

Op jou merke, gereed en weg met stilstaande water.

Sitronella-kerse

Sitronella-olie is al dekades lank een van die doeltreffendste natuurlike muskietafweerders. Sitronella-kerse is natuurlik en skei ’n reuk af wat muskiete laat wegbly.

Plaas oral in jou huis, op jou stoep en in jou tuin van die kerse om te verseker die olie stuit die muskiete in hul spore.

Plante wat muskiete afweer

Plant plante soos roosmaryn, laventel en basilie om muskiete hok te slaan. Baie van die plante word in muskietafweerders gebruik en is maklik verkrygbaar. Plant sommer ’n paar plantjies in jou tuin; dit sal jou besig hou en die muskiete weghou. 'n Wen-wen situasie!

Let wel: Dié wenke hou muskiete op ’n afstand. Om heeltemal van hulle ontslae te raak, sal jy na Antarktika moet verhuis.

Geniet die feestyd, muskiete of nie.

Bronne: Naturallivingideas.com, quickanddirtytips.com, ecr