Dit het so vreemd gelyk toe beeldmateriaal uit die Chinese stad Wu-han vroeg vanjaar wys hoe skares met gesigmaskers rondloop. Toe was die coronavirus nog iets wat net daar doer ver verwoesting gesaai het – en gesigmaskers was iets uitheems.

Maar net ’n paar maande later lyk die prentjie heeltemal anders: As jy vandag sonder ’n masker supermark toe gaan, is jy waarskynlik in die minderheid – en dit hier in Suid-Afrika.

Aanvanklik is Suid-Afrikaners gemaan om nie maskers te dra as hulle nie siek voel nie. Die kenners was bang mense sou gedurig met hul maskers vroetel en dus aan hul gesig vat en die kans op infeksie vergroot. Maar nou het die prentjie verander en stem hulle saam: Maskers speel ’n beduidende rol daarin om te keer dat die virus versprei.

In een van sy media-inligtingsessies het die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, gesê materiaalgesigmaskers word aanbeveel – saam met die ander maatreëls soos hande was en sosiale distansiëring.

“Ons beveel aan dat die algemene bevolking materiaalmaskers dra om te verseker dat N95- en chirurgiese maskers gebêre word vir werkers wat dit regtig nodig het,” sê Mkhize.

Maar al beveel die regering die gebruik van maskers sterk aan, het mense steeds ’n keuse om dit te dra of nie.

“Ons is tevrede dat daar voldoende wetenskaplike bewyse is wat wys die materiaalgesigmasker kan die hoeveelheid van die virus wat vrygestel word beduidend verminder,” voeg hy by.

Maar al beveel die regering die gebruik van maskers sterk aan, het mense steeds ’n keuse om dit te dra of nie. Nie Suid-Afrika óf die Wêreldgesondheidsorganisasie het al regulasies bekendgemaak wat sê dis verpligtend om ’n masker in die openbaar te dra nie, sê Candice Pillay, ’n paneelprokureur by ProBono.org en vennoot by die regsfirma Lawson Africa.

“Enige winkel wat ’n klant toegang belet op grond van die feit dat die klant nie ’n gesigmasker dra nie, skend die mens se waardigheid, en hul gedrag is diskriminerend,” voeg sy by.

Prof. Heather Zar, voorsitter van die departement van pediatrie en kindergesondheid aan die Universiteit van Kaapstad, sê mense het tot onlangs geglo net diegene wat siek is of hoes, kon die virus versprei.

“Ons weet nou dit is nie waar nie. Baie van die infeksies word versprei deur mense wat asimptomaties is of in die tydperk net voor hulle siek word,” sê Heather.

“Ons weet ook die virus kan verder as die aanbevole sosiale afstand van 1-2 m versprei – dis volgens onlangse studies 6-7 m.”

maskers
Ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

En dis vir baie mense onmoontlik om op ’n veilige sosiale afstand te bly in hul woonomstandighede, in openbare plekke en wanneer hulle openbare vervoer gebruik, sê sy.

Maar jy kan nie sommer enige soort materiaal vir ’n gesigmasker gebruik nie, maan Nkosinathi Lowan, stigter van die Health Zone Pharmacy & Clinic.

“As jy jou mond met iets soos ’n trui bedek, kan druppeltjies ontsnap wanneer jy nies. Jy het dus iets nodig wat toe is. As jy een sy van ’n sakdoek gebruik, kan dit maklik nat raak. Dis hoekom die minister van gesondheid aanbeveel jy vou die materiaal in drie lae,” sê Nkosinathi.

Sy onderneming het in vennootskap met die klerevervaardiger Flamicol materiaalmaskers begin maak om die tekort aan chirurgiese maskers in die land te help verlig. Hulle het ook ’n veldtog begin om maskers aan instellings vir bejaardes in Limpopo en KwaZulu-Natal te skenk.

“Ons gebruik polikatoen-keper wat gebruik word om oor- of werkpakke te maak. Dit is gevoer, en jy hoef dit nie te verdubbel of verdriedubbel nie, want die materiaal is dik genoeg.”

Hy beveel aan dat ’n mens materiaal soos sy en wol vermy omdat dit maklik nat kan word wanneer jy hoes, praat of nies. Heather sê diggeweefde materiaal, ou lakens, kussingslope en materiaal wat 100% katoen is, kan gebruik word.

“Dit moet gemaklik voel en ook wasbaar wees,” voeg sy by.

“Ons het nodig dat mense materiaalmaskers maak; ons benodig ’n groot openbare veldtog om dit vir almal te maak – en almal moet ’n masker dra! Kom ons sorg in hierdie tyd vir mekaar,” benadruk Heather.

Wie kan dit dra – en hoe was jy dit?

maskers
Ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Prof. Lucille Blumberg van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes, prof. Shaheen Mehtar, kenner van infeksie, voorkoming en beheer, dr. Warren Parker, kenner oor openbare gesondheidskommunikasie, en dr. Beth Engelbrecht van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement gee hierdie riglyne:

  • Maskers moenie op babas of kleuters gebruik word nie. Jonger kinders kan dit net onder toesig dra en ouer kinders met opleiding. Babas en kinders jonger as twee het ’n kleiner lugweg; dus kan maskers dit vir hulle moeilik maak om asem te haal. Almal anders moet ’n masker dra wanneer hulle buite is, meen die kenners.
  • Seep en water is al wat nodig is om ’n masker skoon te maak. Die water moet so warm wees as wat jy kan verduur as jy dit met die hand was. Anders kan jy kookwater oor die masker gooi, dit minstens vyf minute laat staan en dan uitspoel en droogmaak. Jy kan maskers ook in die wasmasjien met wasgoedseep was.
  • Stryk die masker wanneer dit droog is – dit help met ontsmetting. Om jou masker in die son te laat droog word help ook met ontsmetting.

Dra dit reg

Die departement van gesondheid het die volgende riglyne uitgereik om seker te maak jou materiaalmasker gee jou die beste moontlike beskerming:

  • Die masker moet jou neus en mond heeltemal bedek.
  • Moenie die masker laat sak wanneer jy praat, hoes of nies nie.
  • Moet nooit aan jou masker raak of daarmee vroetel nie. Dis belangrik om nie met jou hande aan jou gesig te raak nie – en ook nie aan die binnekant van die masker nie.
  • Was jou hande voor en nadat jy die masker aansit of verwyder.
  • Vervang jou materiaalgesigmasker as dit nat of sigbaar vuil is.

Almal kan inspring

maskers
Ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Die Suid-Afrikaanse egpaar Bruce en Kimlyn Harbottle het die projek Masks for South Africa begin, waarmee hulle almal wat ’n naaimasjien het, aanmoedig om hul eie maskers te maak.

“Maak nog en neem dit na polisiekantore, winkels, vulstasies, hospitale en plaaslike klinieke. Hang dit op straathoeke en aan boomtakke. Maak gesigmaskers tot jy nie meer gare, materiaal of energie oorhet nie,” skryf die egpaar op masks4sa.co.za.

‘Maak nog en hang dit aan boomtakke. Maak maskers tot jy nie meer materiaal, gare of energie oorhet nie’

Maak jou eie masker

1. Knip materiaal in drie 25 x 15 cm-reghoeke. Plaas dit op mekaar.

2. Vou die lang kante sowat 6 cm oor en sit ’n soom in.

3. Vou die dubbellaag materiaal 1 cm aan die kort kante oor. Werk vas.

4. Ryg ’n stuk rek met ’n lengte van 15 cm en breedte van 3 cm deur die breër soom weerskante van die masker en knoop dit vas. Dit is een van jou twee oorlusse. As jy nie rek het nie, kan jy dieselfde met haar- of rubberrekkies doen. As jy net tou of materiaal het, kan jy die bande langer maak en die masker agter jou kop vasbind.

5. Trek aan die oorlusse sodat die knope by die soom ingetrek is. Plooi die kante van die masker op die rek en verstel dit sodat die masker op jou gesig pas.

6. Werk of stik dan die rek (of materiaal) op die hoek van die masker in posisie vas om te keer dat dit afgly. 

Ektra bronne: CNN.com, businessinsider.com
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.