Die vrolike feestyd is hier. Die blink liggies, ge­klingel van Kersliedjies, reuk van skaapboud en gegons en gelag van ’n huis vol mense . . . Maar terwyl Kersdag nader kruip, kan dié joligheid ook spanning meebring.

Dink aan die druk om jou huis en Kers­tafel te versier, die stres van geskenke koop en inspanning om familie en vriende te onthaal terwyl jy as gasvrou of -heer jou beste voetjie voorsit en almal gelukkig probeer hou.

“Gespanne raak, mense aanjaag en te veel takies aanpak is die drie ­grootste ­redes vir chaos,” waarsku die sanger en leefstylghoeroe Nataniël.

Ons het by hom en ander kenners met ’n oog vir styl en alles wat mooi is, gaan aanklop vir hul topwenke om Kersfees vanjaar ’n besonderse ervaring vir jou en jou geliefdes te maak. Hulle het raad vir alles van tuisgemaakte geskenke en ’n feestelike Kerstafel tot hoe om jou spyskaart te beplan.

Nataniël
“Gespanne raak, mense aanjaag en te veel takies aa
“Gespanne raak, mense aanjaag en te veel takies aanpak is die drie ­grootste ­redes vir chaos,” waarsku die sanger en leefstylghoeroe Nataniël.

Sanger, etiketkenner en skepper van die kykNET-kookprogram Edik van Nantes

Die ete

Bly weg van “te ryk geregte, te swaar geregte, te veel geregte en te veel drank”, is sy raad. “Ons vier die geboorte van die Here, niks anders nie.”

Sluit ’n gunsteling by jou spyskaart in.

“Familietradisies, een van ouma se resepte. Dis ’n tyd om elke familie se eie geskiedenis en kultuur te vier en te laat groei.”

Op Nataniël se Kerstafel sal jy altyd “die een of ander vorm van koekstruif” kry, asook “verskillende bessies en druiwe, in lae voorgesit saam met dik tuisgemaak­te vla, jogurt, roomys en laventelblommetjies.

Op Nataniël se Kerstafel sal jy altyd 'die een of ander vorm van koekstruif' kry.

Drankies

“Dink feestelike geure: tuisgemaakte gemmerbier, vars pynappelsap, sjerrie op gekraakte ys en goeie sjampanje (vonkelwyn is hoofpyn in ’n bottel).”

Dekor

Maak seker jy het “iets tradisioneels, iets uit die familie, iets splinter­nuuts en iets wat kinders beto­wer,” sê hy.

“My ouma se ongelooflike vermoë om ons kindertydse Kersfeeste met papierversie­rings, Kerskaartjies, kruieruikers en stories in ’n ander wêreld te verander het my lewensuitkyk tot vandag toe beïnvloed.

“Koop ’n paar blomme en vul die res met mooi groenigheid uit jou tuin aan.

'Maak seker jy het iets tradisioneels, iets uit di
'Maak seker jy het iets tradisioneels, iets uit die familie, iets splinter­nuuts en iets wat kinders beto­wer,' sê Nataniël.

“ ’n Paar glashouers waarin skoon water sigbaar is, is noodsaaklik. Dan ook enkele blomme, takkies, blare, vrugte, kruie, enigiets wat gepluk of opgetel kan word. Groepeer dit mooi en dit stel nooit teleur nie.”

Onthou kerse, dag of nag.

“Dis die simbool van geloof, groei, geleentheid, feestelikheid, heiligheid en skoonheid.”

Die Kersboom

Nataniël versamel al jare lank versierings van oraloor.

“Met elke reis kry ek nog iets, al is dit een klokkie, engel of glasbal. Sommige jare hang ek klein foto’s van almal wat ek mis aan die boom. Ek hou ook van wit liggies; bont dinge is afskuwelik.”

Vir diegene wat nie ’n groot boom in die huis soek nie, het hy ook ’n alternatief.

“Ek tel gereeld dooie takke op. Ek bind honderde strikkies daaraan en balanseer dit in ’n groot glashouer of hang net ’n string mooi liggies aan ’n enkele tak.”

Kersgeskenke

“Ek begin al net ná my verjaardag in Augustus planne maak. So kan jy goed opspoor of maak of versamel wat nie op die nippertjie moontlik is nie.”

Hy verduidelik op dié manier gee jy ook vir iemand iets wat hulle regtig wil hê, jy kan kreatief wees en jy sal nie meer geld bestee omdat jy haastig is nie.

“Niemand het ooit gesê ’n geskenk hoef gekoop te wees nie. Ek teken kaartjies, skryf briewe, bak koekies, sit strikkies om bottels lekkergoed; niks is te klein vir ’n geskenk nie.” 

Hy meen ’n beperking op die bedrag wat jy aan ’n geskenk bestee, laat jou dikwels gemors koop.

“ ’n Paar mense kan eerder saamspan om vir iemand iets te gee wat hy of sy nodig het. Of span as familie saam om behoeftiges te help.”

Die musiek

“Ek het ’n groot versameling Kersalbums. Ella Fitzgerald, Kelly Clarkson, Whitney Houston, Frank Sinatra en Celine Dion s’n is vir my die mooiste; dit roer jou hart, maar laat jou ook ontspan. Moenie jou gaste bombardeer met histeriese kore of gillende orrels nie.

“Polsende ritmes en oorverdowende basgeluide uit klein motortjies is die straf waarmee ons ewig sal sit. Dit bly ’n fees van geloof. Anders moet jy dit los.”

Onthaal: Die moets

“Ek hou verskeie klein etes oor ’n tydperk van weke. So sien ek almal, niks oorweldig my nie, en ek nooi mense wat van mekaar hou. Kerstyd is nie vir vreemdes en ongemak nie.”

Etiket vir gaste

“Luidrugtigheid, eie drank wat gaste saambring, ongevraagde kos wat aangedra word, blomme wat nie pas by die huis nie, onge­nooide aanhangsels en troeteldiere is taboe. Jy vat niks saam wat die gasvrou se beplanning versteur nie. Gee ’n geskenk wat iemand kan geniet wanneer jy weg is.”

Hannon Bothma
Nee, geskenke wat self gemaak is en waarin tyd bel
Nee, geskenke wat self gemaak is en waarin tyd belê is, is die waardevolste, sê Hannon.

Stylghoeroe en aanbieder van die ­kykNET-program Glam Guru

Die ete

Dink vars en lig, pleks van swaar in die warm weer, stel Hannon voor.

“Moenie te veel warm, gekookte kos voorsit wat jou wil laat omkap van moegheid en jou slaperig maak van te veel eet nie.”

Drankies

“Sjerrie of port is ’n heerlike verwelkomingsdrankie. Opdienbekers met sangria vol vrugte­stukkies en yskoue vonkelwyn is altyd gepas. Vir diegene wat nie drink nie, moet jy altyd iets soos druiwesap in bekers met baie ys hê.”

Dekor

’n Kerstafel is goed versier as dit feestelik maar ook prakties is. “Die blomme op die tafel moet byvoorbeeld nie so groot wees dat gaste mekaar nie kan sien nie.”

Tafeldekor kan ’n prettige selfdoen-ak­tiwiteit wees.

“Kinders kan op A4-papiere prentjies teken wat jy kan lamineer om as plekmatjies te gebruik. Jy kan servetringe met takkies of klimop vleg. Pleks van groot blommerang­skikkings op die tafel kan jy ’n Kerskrans met groenigheid uit jou eie tuin maak.

' ’n Kerstafel is goed versier as dit feestelik ma
' ’n Kerstafel is goed versier as dit feestelik maar ook prakties is,' sê Hannon

“Druk bessies tussenin vir ’n feestelike gevoel. Of gebruik enige groenigheid uit jou tuin vir ’n vars rangskikking in ’n pot of vaas in die middel van jou tafel.”

Nog van Hannon se selfdoen-idees is om glasvase met suurlemoene of dennebolle te vul. “Gebruik kleurryke lint en maak ’n strikkie om messegoed saam te bind. Vir sprankel kan jy ook ouma se krale om ’n kersblaker drapeer.”

Die Kersboom

Die belangrikste is om jou persoonlikheid te weerspieël in hoe jy jou Kersboom versier.

“As jy kinders het, laat hulle self die versierings vir die boom maak; as jy van bak hou, versier jou boom vol tuisgemaakte Kerskoekies met interessante vorms, soos sterretjies en huisies.”

Om ’n stylvolle boom te skep wat steeds treffend is, moet jy ontslae raak van al daardie oortollige en bont versierings wat jy die afgelope dekade elke keer kort voor Kersfees uitkrap. Dink aan die string Kersliggies wat uittand brand weens al die dooie gloeilampies en die stringe goue engelhare wat al bles is.

“Hang eerder minder maar groter versierings aan die punte van die boomtakke. Hou by ’n kleurskema van drie kleure. Dit is treffend en lyk stylvol.”

Vir ’n grafiese Kersboom wat geen plek in beslag neem nie, kan jy kunsblare in die vorm van ’n Kersboom (minder blare bo en geleidelik meer na onder) teen ’n kaal muur plak.

Kersgeskenke

Die beste Kersgeskenke is nie peperduur of die jongste tegnologiese wonderwerk nie.

Nee, geskenke wat self gemaak is en waarin tyd belê is, is die waardevolste, sê Hannon.

“My pa het al vir my ’n broodbord gegee wat hy uitgesaag het, en van my suster het ek ’n fotoalbum gekry wat sy self saamgestel het.”

Hy en sy geliefdes het al ooreengekom op ’n maksimum bedrag om aan geskenke te bestee.

“Dit moet iets wees wat vir almal bruikbaar is, soos ’n koffiebeker of badsakkie. Ons het al die geskenke in ’n groot sak gegooi en almal het ’n gelukspakkie getrek.”

Die musiek

“Die musiek moet net ’n atmosfeer skep en nie te veel aandag trek nie. Daarom speel ek graag musiek in ’n ander taal. Vir agtergrondmusiek kan jy met kunstenaars soos Ella Fitzgerald en Michael Bublé nooit ’n fout maak nie.”

Onthaal: Die moenies

“Die gasheer of -vrou moenie net hul eie musiek kliphard speel en verwag almal gaan dit geniet nie. Moenie heeltyd op jou selfoon praat met vriende en familielede wat ver bly nie; maak jou oproepe klaar voor jou gaste kom en sit dan jou foon eenkant. Moenie drank afdwing op mense wat nie van alkohol hou nie.”

Etiket vir gaste

“Vra met enige uitnodiging wat jy kan saambring. En al sê die gasvrou jy hoef niks saam te bring nie, neem ten minste ’n bottel wyn saam.”

Aleit Swanepoel
'Dis Kersfees en jy kan voorsit net wat jy wil. Mo
'Dis Kersfees en jy kan voorsit net wat jy wil. Moet nou net nie vreemde geregte vir die eerste keer optower nie,' waarsku Aleit.

Geleentheidsbeplanner en aanbieder van die kykNET-program Tyd met Aleit

Die ete

“ ’n Goeie Kersmaal bevat alles wat stout is. Daardie selfbederf wat jy jou nie die res van die jaar toelaat nie,” sê Aleit.

Dink nostalgie.

“Die reuk van pypkaneel saam met regte, egte pampoen, net soos my ouma dit kon maak.

“Die reuk van naeltjies, volmaak ingedruk in helder, oorryp lemoene. Diepgebraaide aartappels, lam wat van die been af val, groenboontjies saam met saggedrukte aartappels en ’n vars tuinslaai.

“Dis Kersfees en jy kan voorsit net wat jy wil. Moet nou net nie vreemde geregte vir die eerste keer optower nie.

“Ek dink nou onmiddellik aan Hilda van 7de Laan se konkoksies. Indien jy nie van kos maak hou nie, is dit nie ’n sonde om vir klaarbereide geregte by ons goeie kettingwinkelvriende aan te klop nie.”

Dekor

Hoewel baie mense graag op ’n wit tafeldoek dek, waarsku Aleit ’n wit agtergrond maak dit maklik om flaters op te merk.

“Vir ’n elegante tafel verkies ek ’n roomkleurige tafeldoek. Jou materiaalservette kan kraakwit wees. Die kontras en speling van skakerings wat tussen wit, room en sjampanje wissel, gee ’n gevoel van rykdom en styl. Of vergeet van ’n tafeldoek en dek op rou hout.”

'Vergeet van ’n tafeldoek en dek op rou hout,' is
'Vergeet van ’n tafeldoek en dek op rou hout,' is een van Aleit se wenke.

Aleit se topwenk is om te werk met wat jy het.

“As jy groot bome in die tuin het, sny ’n paar takke af en sit dit in ’n groot glasblompot. Rond dit met kerse af.”

Gebruik items wat jy in die huis het.

“Versamel leë wynbottels vir kande­lare of blompotte. Wees kreatief en maak die houer wat gewoonlik jou blompot is ’n slaaibak. Gebruik alternatiewe vir blomme, soos pot­plante in terracotta, of dek met groente en vrugte. Gebruik teëls as plekmatjies en takkies en blare vir servet­ringe.

“Ek verkies om eerder ’n paar rand ekstra aan kos te bestee. Dit dra eindelik tot die dekor by.”

Sy taboes vir tafeldekor is “papierservette, rooi blomme op spierwit gedek, en eetgerei wat nie blink gepoets is nie”.

Sy taboes vir tafeldekor is 'papierservette, rooi
Sy taboes vir tafeldekor is 'papierservette, rooi blomme op spierwit gedek, en eetgerei wat nie blink gepoets is nie'.

Die Kersboom

“Ek het vanjaar ’n aalwyn-Kersboom. Die wonderlike ding is ek kan dit ná die feestyd net weer in die tuin plant.”

’n Opsie wat geen plek in beslag neem nie, “is om foto’s in ’n driekhoekvorm teen die muur te plak. Pak jou geskenke daaronder, en siedaar, jy het ’n Kersboom!”

Kersgeskenke

In Aleit se familie word lootjies ­getrek sodat elkeen net vir een mens ’n geskenk koop. “Sodoende kan jy jou geld aan iets met ’n duursame en bruikbare eindresultaat bestee. Ek het ’n kleintjie dood aan R10-winkel­geskenke. As jy iets doen, doen dit reg of glad nie.

“ ’n Nuwe neiging is ook om geld wat jy op ’n geskenk vir iemand sou uitgee liefs aan ’n liefdadigheidsorganisasie te skenk wat dié mens na aan die hart lê.”

Gebruik jou talente om jou geliefdes spesiaal te laat voel.

“As jy uitstekend is met woorde, skryf ’n gedig. As jy sing, skryf ’n liedjie. As jy hekel, hekel iets, en as jy ’n bobaaskok is, laat die potte prut.”

Moenie familie-erfstukke vergeet nie.

“Niks is meer spesiaal as ’n geskenk nie.”

Onthaal: Die moets

Verseker die voorbereiding is vroegtydig afgehandel.

“Die gasheer of -vrou se rol is om saam met die gaste te kuier.”

Skep ’n feestelike atmosfeer met Kers­musiek, kerslig, geure en kleure.

“Stel vooraf ’n musiekspeellys saam. Maak seker die musiek oorskadu nie die kuier, samesyn en gesels nie. Jou gaste kan selfs betrokke raak en voor die tyd elkeen hul vyf of 10 gunstelingtreffers aan jou stuur.”

As jy ’n klomp gaste onthaal, vra dat elkeen ’n gereg vir die ete saambring.

“Dié wat finansieel nie in staat is om duurder bestanddele te bekostig nie, kan sommer net ’n bak rys bring.

“Jy as gasheer of -vrou moet net duidelik maak wie wat bring sodat die spyskaart nie ’n deurmekaarspul is nie.”

Etiket vir gaste

“Dis goeie maniere om vooraf te vra wat jy kan saambring. En al is die antwoord ‘niks’, vat steeds blommetjies uit jou tuin as ’n blyk van waardering.

“Neem altyd ’n bottel wyn of twee saam, maar onthou dat dit die gasheer of -vrou se besluit is of die wyn oopgemaak word.

“Dis ’n groot taboe om die wyn wat jy saamgevat het en moontlik nie gedrink is nie terug huis toe te neem.” 

FOTO'S: PAPI MORAKE, INSTAGRAM/@NATANIELNEWS, INSTAGRAM/@TYDMETALEIT, VERSKAF