Nee, dit het niks met hoogmoedigheid of snobisme te doen nie, maar is eerder ’n manier om kinders se digitale voetspoor te verklein, om die kleingoed se identiteit te beskerm en hul kans op ontvoering te verminder.

Maar dit is nie net ’n ding wat bekendes raak nie. Al hoe meer sosialemedia-gebruikers kom vorendag met duiselingwekkende stories oor hoe ander gebruikers met vals profiele hulle op platforms soos Facebook nader in hul soeke na meer inligting oor hul kinders.

Een so 'n geval is dié van Elsabé van Wyk* wat onlangs genoop was om haar Facebook-rekening te sluit nadat vreemdelinge haar genader het oor foto’s wat sy van haar ses- en agtjarige dogtertjies op Facebook gedeel het.

Elsabé vertel aan Huisgenoot sy het in die laaste paar weke boodskappe van gebruikers ontvang met wie sy nie vriende is op Facebook nie. 

Die mees onlangse boodskappe van ’n Facebook-gebruiker het gekom nadat sy foto’s van die gesin se onlangse seevakansie op haar rekening gedeel het.

“Die boodskappe was vreesaanjaend,” vertel sy.

“Dit was die tweede keer dat ek in die sosiale media deur ’n vreemdeling genader is wat meer wou weet oor die foto’s van my kinders. Ek het in die verlede geen onraad vermoed met boodskappe nie omdat dit bloot iemand was wat die foto’s van my kinders gekomplimenteer het. Maar dié keer het ek geweet iets is fout.

“Die mens sou aan my sê: ‘Jou kind het die mooiste blou oë’ of ‘Waar het julle vakansie gehou? Sy is baie mooi’. Selfs toe ek nie daarop reageer nie, het hulle aangehou om boodskappe te stuur. Dit het gevoel asof die gebruiker op soek is na my privaat inligting, vir watter doel ook al.”

Elsabé het onmiddellik haar Facebook-rekening met al die foto’s daarop gedeaktiveer en ’n nuwe rekening geskep wat geen persoonlike inligting of foto’s bevat nie.

Later, toe sy dié verhaal met haar kollegas deel, het sy gehoor haar kollegas het al soortgelyke ervarings gehad.

“’n Mens besef nie hoe ’n ongelooflik gevaarlike plek die sosiale media is nie en dat jy met iets so eenvoudigs soos foto’s jouself en jou kind weerloos maak.”

So sê ’n kenner . . .

Carla de Beer, ’n sosialemedia-regskenner van The Digital Law Company by Emma Sadleir, sê dit is altyd beter om liewer nie foto’s van jou kinders in die sosiale media te deel nie. 

“Een van die eerste dinge wat gebeur is dat jy vir hulle ’n digitale voetspoor skep waarvoor hulle nie gevra het nie,” meen sy.

“As jy boonop vreemde mense op Facebook bevriend of enige Jan Rap en sy maat se vriendskapsversoek aanvaar, skep jy ’n groot gevaar vir jou kinders omdat jy geen kennis het van met wie jy te doen het nie.”

Sy sê die sosiale media kan ’n teelaarde vir misdadigers wees wat hul identiteit met vals profiele vermom.

“Omdat jy nie altyd bewus is van presies wie jou dophou nie, stel jy jouself bloot vir ontvoering en vir die gebruik van jou kinders se foto’s vir die mens se eie genot of om geld daardeur te maak.

“Ander meer ernstige misdade sluit onder meer identiteitsdiefstal en seksuele aanvoring in.”

Seksuele aanvoring (of “grooming”) is wanneer ’n verkragter, gewoonlik iemand in ’n gesagsposisie of ’n ouer mens as die slagoffer, wat gesaghebbend is, ’n vertrouensverhouding met ’n kind bou met die doel om hom voor te berei op die misdryf wat gaan volg.

Dié voorbereiding verwys daarna dat die misdadiger ’n veilige omgewing vir die slagoffer skep voor hy of sy later die misdrywe pleeg.

Carla meen ouers moet hul eie privaatheid en die privaatheid van hul kinders in hul eie hande neem.

“Maak altyd seker jou privaatheidstellings in die sosiale media is reg,” sê sy.

“As jou privaatheidstellings reg gestel is, kan ’n gebruiker wat nie op jou rekening is nie, nie toegang tot jou rekening kry nie. Dit is belangrik om jou privaatheidstellings minstens een keer per maand na te gaan om te verseker dit is nog in plek.”

*Skuilname