Om ekovriendelik of “groen” te leef beteken om so te leef dat jy die natuur so min moontlik skade berokken en die durende impak op die omgewing so klein moontlik hou.

Maar al het jy goeie bedoelings, klink dit makliker gesê as gedaan en selfs oorweldigend. Hoe begin ’n mens? En sal dit regtig help?

“Vir my beteken ’n groen leefstyl om minder van die aarde se hulpbronne te gebruik,” sê Fiona Matthes, ’n omgewingsaktivis van die Hermanus Eco Project, wat mense aanmoedig om eerder omgewingsvriendelike alternatiewe te gebruik.

“Dit beteken ook ’n eenvoudiger lewe: om minder te koop, minder rommel te produseer en om produkte te koop wat plaaslik vervaardig is.”

Ja, groter ingrypings is nodig om die mensdom se koolstofvoetspoor te verklein en afval te verminder, en regerings en nywerhede moet hul gewig agter groen beginsels gooi om werklik ’n beduidende verskil te maak. Maar elkeen kan ook sy deel doen, en al is dit hoe beskeie, elke bietjie help.

As miljoene mense groener leef, sal dit ’n werklike impak maak. Boonop sal dit help om ’n nuwe ingesteldheid by owerhede en magtige maatskappye te skep, glo Fiona.

“Ons kan nie almal omgewingsprokureurs of -aktiviste wees nie, maar as miljoene mense klein leefstylveranderings aanbring, kan dit druk plaas op groot ondernemings wat besoedel om hul praktyke te verander,” sê sy. 

Jy en jou gesin kan dus ook help deur klein aanpassings in jul alledaagse lewe te maak. Hoe lui die gesegde? Die reis van duisend myl begin met ’n enkele tree.

Die wenke klink eenvoudig – byna vanselfsprekend – maar dis juis die punt: Eenvoudige, klein stappe kan op die lange duur ’n verskil maak. En dis so maklik soos dít om daardie eerste groen tree te gee en jou deel te doen.

Weg met plastiek

  • Sê altyd nee vir plastiekstrooitjies. Dra ’n strooitjie van glas, vlekvrye staal of bamboes saam as jy nie direk uit ’n glas wil drink nie. 
  • Hou materiaalwinkelsakke in jou motor en neem dit saam wanneer jy inkopies doen sodat jy nooit plastieksakke hoef te gebruik nie. Onthou om dit ná die tyd in jou motor terug te sit sodat jy nie daarvan vergeet wanneer jy weer winkels toe gaan nie. Om plastieksakke met materiaalsakke te vervang maak reeds ’n groot verskil.
  • Neem kleiner materiaalsakkies saam winkels toe om los groente en vrugte in te bêre nadat jy dit geweeg het.
  • Hou ’n herbruikbare koffiefles of -beker byderhand sodat jy nie ’n weggooibare koppie en plastiekdeksel hoef te gebruik wanneer jy wegneemkoffie koop nie. Verskeie koffierestaurante gee afslag wanneer jy jou eie beker saamneem.
  • Vervang die plastieksponsies waarmee jy skottelgoed was met ’n omgewingsvriendelike skuurder van sisal. Dis boonop meer higiënies. 
  • Vermy kleefplastiek. Gebruik bakke met deksels wat jy kan hergebruik of skaf vir jou materiaalbedekkings aan wat jy oor jou slaaibakke kan trek – jy kan dit was en weer gebruik.
  • As jy lief is vir sodawater, belê eerder in ’n SodaStream-masjien as om bottels water te koop.
  • Moenie koeldrank in glas- of plastiekbottels of blikkies koop as jy nie van plan is om dit te herwin nie. Maak dit jou nuwe reël.
  • Hou eetgerei van vlekvrye staal in jou laai by die kantoor sodat jy die plastiekeetgerei kan vermy wanneer jy wegneemkos by die werk moet bestel.
  • Kry ’n herbruikbare waterbottel van vlekvrye staal of glas en maak dit vol waar jy ook al kom. Dit sal verseker dat jy nie elke keer ’n bottel water hoef te koop nie.
  • Vervang jou plastiektandeborsel met een van bamboes. Dit werk net so goed.
  • Gebruik eerder ekovriendelike vlos van plantvesel as vlos wat gemaak is van nylon, wat 80 jaar neem om te ontbind.
  • Sanitêre ware en babadoeke is ’n groot sondaar. Gebruik lapdoekies wat jy kan was en weer gebruik of oorweeg ’n herbruikbare menstruele silikoonkoppie. Jy kan ook lapdoeke vir jou baba gebruik.
  • Gebruik ’n materiaalmasker wat jy kan was pleks van die weggooibare soort. Die seebewaringsorganisasie Oceans Asia raam dat tot 1,5 miljard gebruikte gesigmaskers verlede jaar in die see beland het. Dit kan ’n gesigmasker tot 450 jaar neem om te ontbind.
Herwinbare goedere
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Gebruik minder krag

  • Belê in sonkrag vir jou huishouding as jy dit kan bekostig. Dis veel groener as die steenkoolaangedrewe krag wat deur Eskom voorsien word.
  • Skakel toestelle en ligte wat nie gebruik word nie heeltemal af wanneer jy dit nie gebruik nie. Trek dit by die muurprop uit om seker te maak geen elektrisiteit vloei deur die toestel nie.
  • Vervang gewone gloeilampe met energiebesparende fluoorligte.
  • Gebruik jou mikrogolfoond pleks van jou oond; dit is meer energiedoeltreffend.
  • Tensy jy besig is om te bak, is dit selde nodig om die oond vooraf te verhit. Plaas jou kos dadelik in die oond en laat dit geleidelik warm word.
  • Was klere in koue water. Tot 80% van ’n wasmasjien se energieverbruik is om die water te verhit.
  • Hang wasgoed buite op ’n wasgoeddraad of droograk. Vermy die tuimeldroër. Jy bespaar krag en jou klere hou langer!
  • Lugverkoelers kan baie krag gebruik. Maak eerder jou huis se vensters, gordyne en blindings oop of toe na gelang van die temperatuur buite.
  • Gebruik herlaaibare batterye. Dit is aanvanklik duurder om te koop, maar op langtermyn werk dit goedkoper uit.
  • Stel jou geiser se termostaat laer en gebruik ’n geiserkombers om die hitte binne te hou.

Wees waterslim

  • Maak druppende krane en toilette wat lek so gou moontlik reg.
  • Plaas ’n groot waterbottel vol water binne-in jou toilet se waterbak sodat die bak minder water gebruik elke keer wanneer jy dit spoel. 
  • Dis nie nodig om die toilet te spoel elke keer wanneer iemand in die huis ’n draai loop nie.
  • Stort eerder as om te bad, en hou dit kort. Lief vir bad? Maak dit jou bederf een keer per week.
  • Plaas ’n emmer in die stort en gebruik die opvangwater om die toilet mee te spoel.
  • Oorweeg ’n gryswaterstelsel waarmee bad- en stortwater na die tuin gelei word. Onthou om bio-afbreekbare seep en sjampoe te gebruik sodat die water geskik is vir die tuin. Bestudeer die seep se etiket om seker te maak.
  • Installeer ’n reënwatertenk.
  • Vermy skoonmaakprodukte wat skadelike chemiese stowwe bevat. Baie gesondheidswinkels en sommige kleinhandelaars verkoop omgewingsvriendelike skoonmaakprodukte. Jy kan selfs jou eie middels met alledaagse bestanddele soos asyn en suurlemoensap maak; die internet bevat ’n magdom resepte.

Eet groener

  • Maak vleisvrye Maandae ’n instelling. As Maandae nie vir jul huishouding werk nie, kies ’n ander dag van die week.
  • Kies seisoenale produkte wat plaaslik gekweek of vervaardig word – dit verminder die vervoer- en bergingsvoetspoor.
  • Probeer om so min moontlik kos weg te gooi. Gebruik dieselfde produkte in verskillende geregte of vries die oorskiet en eet dit ’n volgende keer. Beplan etes vooraf om te sorg dat jy bestanddele sinvol benut.
  • Verruil papierservette vir lapservette wat jy kan was.

Reis slimmer

  • As die winkel om die draai is, stap of ry fiets as jy net ’n paar items wil koop. Jy bespaar brandstof én kry sommer ’n bietjie oefening in. 
  • Sluit aan by ’n saamryklub. Stel vas of jy kollegas het wat in dieselfde omgewing woon en maak beurte om saam werk toe te ry. So verklein jy jou koolstofspoor en jy bespaar geld.
  • Wanneer jy inkopies gaan doen of verskillende take moet afhandel, beplan jou roete sodat jy met een rit by al die nodige plekke uitkom. Dis nog beter as jy alles by een winkelsentrum afhandel.
Groter ingrypings is nodig om die mensdom se koolstofvoetspoor te verklein en afval te verminder.

Herwin en hergebruik

  • Plaas vyf groot houers langs jou vullisdrom vir plastiek, blik, papier, glas en ander kombuisafval. Sorteer jou weggooigoed daarvolgens om dit te herwin. Gaan laai die herwinbare afval een keer per week of maand af by ’n sentrale herwinningsplek of reël dat iemand dit vir jou na die herwinningspunte wegry.
  • Moedig jou kinders aan om ook op herwinning ingestel te wees. So kweek jy van kleins af by hulle groen gewoontes, en hulle sal jou boonop help om daarop ingestel te bly.
  • Maak ekobakstene. Sekere soorte plastiek, soos verpakking wat met die nommer 7 gemerk is, kan nie herwin word nie. Neem ’n 2 L-bottel en maak dit vol plastiek wat nie herwin kan word nie, byvoorbeeld ou ballonne, lekkergoedpapiere en plastiekeetgerei, tot die bottel kliphard is of ongeveer 660 g weeg. Daar is verskeie plekke reg oor die land waar jy dié “bakstene”, wat as boumateriaal gebruik kan word, kan afgee. Besoek ecobricks.org vir afsetpunte.
  • Begin ’n komposhoop in jou tuin. Gooi kosafval soos skille, eierdoppe en teesakkies en tuinafval soos blare en grassnysels daarin om kompos te maak.
  • Moenie gebreekte toestelle of ou klere sommer net weggooi nie. Herstel dit of skenk dit aan ’n liefdadigheidsorganisasie wat dit kan gebruik.
  • Gooi batterye en elektroniese toestelle reg weg. Party kleinhandelaars het spesiale dromme by hul ingang vir byvoorbeeld batterye en gloeilampe.
  • Help om papierverbruik te verminder deur te vra dat jou rekenings en selfs winkelstrokies eerder per e-pos na jou gestuur word. 
  • Wanneer jy dokumente uitdruk, druk aan albei kante van die papier en herwin die papier wat jy wil weggooi.
Ekstra bronne: greenliving.co.za, greenmatters.com, greenlivingtips.com, shopzero.co.za, glamourmagazine.co.uk, thekindbrush.com, spazastore.com, ecobricks.org, oceansasia.org