Die feestyd is ’n tyd vir kuier saam met vriende en familie. En hoewel dit wonderlik is om gasheer te speel, kan jou huis daaronder ly. Hier is wenke om die dinge vanjaar ’n bietjie makliker te maak.

BESKERM JOU INGANG

“ ’n Deurmatjie wat die modder vasvang, kan verhoed dat heelwat vullis oor jou vloer of mat versprei word,” sê Jamie Novak, skrywer van Keep This Toss That.

Oorweeg dit selfs om twee matte – die een voor die ander – buite jou voordeur te plaas sodat gaste daarop móét trap voor hulle instap.

PAK WAARDEVOLLE ITEMS WEG

Dis nie dat jy nie jou gaste vertrou nie, maar dis beter om versigtig wees, of hoe?

Jy kan ook slaapkamerdeure sluit (’n goeie manier om kleingoed daaruit te hou op wie jy nie gedurig ’n ogie kan hou nie), of – as jy ’n partytjie hou – span liggies of linte oor ’n deuropening of die voet van ’n trap as jy in ’n dubbelverdiepinghuis woon sodat gaste weet watter dele om te vermy.

Dis nie dat jy nie jou gaste vertrou nie, maar dis beter om versigtig wees, of hoe?

SIT EKSTRA VULLISSAKKE IN

Ekstra swartsakke in jou drom sal verseker daar is altyd een gereed wanneer jy ’n vol sak moet uitneem.

As ekstra voorsorgmaatreël kan jy die onderkant van die drom met koerant uitvoer om enige lekkasie te absorbeer.

KOOP GOEDKOOP TOILETPAPIER

Jy wil dalk graag jou gaste met duur toiletpapier beïndruk, maar onthou, dubbellaagtoiletpapier spoel nie so maklik weg soos enkellaag nie.

En dit kan rampspoedige gevolge hê wanneer die toilet gereeld gebruik word. Boonop is enkellaagtoiletpapier heelwat goedkoper. Dis immers net ’n toilet – jy kan jou gaste op vele ander maniere beïndruk.

GOOI TOE

Oorgooidekens is ’n goeie manier om jou meubels teen rooiwynvlekke, smerige kosvlekke en vuil klein voetjies te beskerm.

Dis ook ’n goeie manier om gebleikte of afgeleefde meubels beter te laat lyk – daardie donker merk waarvan jy al hoe lank ontslae wou raak, vuil kolle, nate wat uitrafel en stukkende plekke verdwyn onder ’n kleurryke en byderwetse lap.

KRY JOU BADKAMER SLAGGEREED

Wanneer jy onthaal, moet jou badkamer dikwels die meeste gastebestand wees. Skuif medikasie na die boonste rak in die kassie of sluit dit toe. Verhoed dat gaste deur jou kaste krap deur mandjies te vul met ekstra toiletpapier, handdoeke of lugverfrisser.

Hou ’n toiletdompelaar in die badkamer net ingeval – gaste sal meer geneig wees om een in privaatheid te gebruik vir verstoppings as om jou hulp te vra.

BESKERM HOUTOPPERVLAKKE

Gee die koffie- of eetkamertafel ’n lekker laag meubelpolitoer voor jy onthaal. Die ekstra laag beskerming sal veroorsaak dat gemorste water of wyn eers druppels vorm en jou meer tyd gee om dit op te vee voor dit intrek.

Maak ook seker jy plaas genoeg drupmatjies op strategiese plekke.

KRY ’N H2O-HELPER

Vul ’n spuitbottel met skoon water en gebruik dit om vinnig op enige vlekke op stoffering te spuit. As jy kans kry, klad dit met ’n lappie. Dit sal verhoed dat die vlek intrek en dit makliker maak om die vlek te verwyder wanneer die gaste huis toe gaan.

BRONNE: REALTOR.COM, GOODHOUSEKEEPING.COM, NASREALTY.COM, MAIDS.COM
  • Ons doen ons bes om goeie raad saam te stel, maar jy beproef dié wenke op jou eie risiko. Huisgenoot aanvaar nie verantwoordelikheid vir enige skade of besering wat daardeur veroorsaak is nie.