“Elke voertuig wat vir 'n tyd in onbruik is, kan probleme ontwikkel wat aandag moet kry om dit weer normaal te laat funksioneer,” sê Layton Beard van die Automobiel Assosiasie. “Deur 'n bietjie ‘tuisversorging’ vir jou kar, kan jy byvoorbeeld die beslommernis daarvan vermy om 'n kar met 'n pap battery aan die gang te probeer kry, of die risiko van oneweredige bande wanneer jy weer aan die ry kom.”

Bekamp die ‘Jan Tuisbly’-effek op jou ryding so: 

  • Beskerm jou kar se verf en rubber- en plastiekafwerking teen lang blootstelling aan die son, ander elemente, en voëls. 'n Motorseil as jy dit nie in 'n garage of onder 'n afdak kan parkeer nie, is nie 'n slegte idee nie. En belangrik: Sorg eers dat jou kar behoorlik skoon is en gebruik die regte wasmiddels voor jy dit so berg. Vuilheid op die bakwerk wat net so gelos word, kan permanente skade veroorsaak.
AA/Facebook
AA/Facebook

  • Battery: As jy vir 'n taamlike ruk nie gaan ry nie, kan jy die battery ontkoppel. Wees versigtig en gebruik die regte moersleutel en liewer ook handskoene en 'n beskermende bril. Draai altyd die negatiewe terminaal eerste los, gevolg deur die positiewe terminaal. Moet nooit gelyktydig aan die twee raak nie. Jy kan daarna ook petroleumjellie aan die twee terminale smeer om roes te help keer.
  • As jy nie die battery wil ontkoppel nie, kan jy na die volgende let: Al die elektroniese bykomstighede wat motoriste deesdae gebruik, byvoorbeeld instrumentpaneelkameras, GPS’e en musiektoestelle kan, selfs op bystand, 'n motorbattery wat nie deur gereelde ritte herlaai word nie, laat afloop. Al sulke goed moet dus eerder uitgeprop of ontkoppel word. As jy 'n steeds gekoppelde battery sover moontlik gelaai wil hou, gaan dit nie regtig help om bloot die enjin gereeld vir 'n paar minute te laat luier nie. Jy moet eerder 'n taamlike ent gaan ry. Benut dus jou noodsaaklike ritte sover moontlik hiervoor. Wissel dan ook voertuie af as julle twee in die huishouding het, om albei se batterye herlaaikans te gee. Dis ook 'n goeie idee om op sulke ritte dan jou lugverkoeling vir 'n kort rukkie aan te skakel om te help keer dat duur komponente daarvan weens voortdurende onbruik verweer.

  • Handrem: Dit kan verweer en vassteek as dit vir 'n lang tyd net opgetrek staan. Verhinder dit deur die rem gereeld los te maak en weer vas te trek. As jy jou kar in 'n garage of op 'n ander gelyke oppervlak parkeer, kan jy ook die kar bloot in rat laat staan met blokke agter die wiele en die handrem los. Dit sal keer dat die handremkabel op die lange duur rek.
  • Om te keer dat klein knaagdiere, insekte of ander natuurlewe in jou voertuig intrek, kan jy ook 'n lap in die uitlaatpyp druk en luginlate toeplak. Onthou net om alles te verwyder voor jy weer die pad vat. 'n Nota op die stuurwiel om jou te herinner voor jy weer die enjin aanskakel, sal help.
  • Sit stukkies oortrekplastiek onder jou ruitveërs. Veërs is uiteraard noodsaaklik vir padveiligheid, en dit sal help keer dat hul rubber verweer en aan die ruite kleef.

Beskerm jou motor so as jy dit nog lank nie gaan gebruik nie

  • Bande-instandhouding – plat kolle kan op die bande vorm as die motor regtig lank staan. Om dit te verhinder, kan jy al die wiele van die grond af op domkrag en die motor eerder op houtblokke laat rus. Die gedagte is om die bande van die grond af te hou. Gaan dan die banddruk volgens vervaardigerspesifikasies na wanneer jy weer begin ry. Let ook op na krake in die bandwande en ander moontlike verwering. 'n Eie bandmeter en -pomp (vra jou naaste ysterwarewinkel) kan goed te pas kom, of besoek jou naaste dienshawe.

  • Dreineer eerder die olie vir lang voertuigberging. Buiten vars olie is nuwe olie- en lugfilters vir jou motor voor jy weer die pad vat ook raadsaam.
  • Jy kan ook die vonkproppe uitskroef om roes te help verhinder, of as jy dit inlos, dit minstens laat nagaan voor jy weer jou motor soos gewoonlik begin gebruik.
  • Brandstof – vul eerder jou tenk al gaan jou kar vir 'n lang ruk staan. 'n Vol tenk kan help keer dat vogtigheid die tenk binnedring en roes begin vorm. Maak dan ook seker die tenk sluit dig.

Wanneer jy eendag weer ry...

As jy jou motor ná 'n lang staantyd weer vir die eerste keer vir 'n rit aanskakel, is dit wys om voor jy laat wiel die enjin eers net 'n paar minute te laat loop om die olie weer behoorlik daardeur te laat sirkuleer.

Jou motor behoort hom nie veel anders te gedra of te klink as gewoonlik nie, maar jou remme kan aanvanklik ietwat raas. Dis normaal, want remskywe kan taamlik gou roes wanneer dit nie in gebruik is nie. Dit sal gou opklaar nadat jy weer 'n bietjie gery het. Moenie dadelik skerp begin rem nie, maar doen dit aanvanklik egalig.

Moet ook nie dadelik jou ruitveërs oor 'n droë voorruit laat swiep nie. Vuilheid en aanpaksel kan daardeur die ruit krap. Was eers die ruite of maak seker dit is goed nat voor jy veërs inspan.

Kyk dan ook of jy op enige toelaatbare rit darem so 20 minute op die pad kan inkry en deur al die ratte kan werk om die enjintemperatuur by die ideale bedryfsvlak te kry, die battery voldoende te laat herlaai, en jou kar se vloeistowwe en smeermiddels behoorlik te laat sirkuleer en versprei.

Dink ten slotte twee keer voor jy jou ongeluk- of instandhoudingversekering kanselleer. Dit kan jou byvoorbeeld duur te staan kom as jy dalk tog skielik in 'n noodgeval 'n onvoorsiene rit moet onderneem.