Die somer is sinoniem met son­skyn, swem en lieflike lang dae – maar dit beteken ook muskiete en muggies en allerhande grillerige goggas.

‘As jy dink jy is te klein om ’n verskil te maak, probeer slaap met ’n muskiet in die kamer’
– Dalai Lama

Jy hoef egter nie na die insekweerder te gryp om van hulle ontslae te raak nie – hier is natuurlike blink planne om lastige peste van jou huis en tuin weg te hou.

Muggies en vrugtevlieë

Plaas ’n bak met appelasyn en ’n paar druppels opwasmiddel daarin buite. Die seep verander die konsistensie van die vloeistof sodat insekte wat ’n teug neem nie maklik kan wegvlieg nie, maar eerder sink. Muggies en vrugtevlieë sal dit nie kan weerstaan om in die mengsel te duik nie.

Spinnekoppe

Spuit ’n mengsel pepermentolie, water en seep om enige gebied met ’n spinnekop-­probleem. Dié goggas verpes enigiets met peperment, en die water en seep sal die area selfs minder aanloklik maak.

Goggas

Beproef dié spuitmiddel vir pesbeheer in jou tuin: Meng kruisementblare en knoffelhuisies in ’n voedselverwerker en voeg ’n knippie ca­yennepeper en opwasmiddel daarby. Laat die mengsel kookpunt bereik, laat staan oornag en giet dit in ’n spuitbottel. ’n Paar spuite en jou someraande op die patio sal goggavry wees.

Verhoed dat goggas aan jou plante knaag deur peper en meel op die grond te strooi – dit sal verhoed dat hulle eiers naby die plante lê.

Muskiete

Speel klaar met muskiete deur sitronellakerse aan te steek of sitronella-olie in ’n aroma­terapiebrander te sit – dit ruik lekker én verhoed muskietbyte.

Miere

Raak ontslae van miere deur asyn, suur­lemoensap of tafelsout gemeng met water op die gebied te spuit.

Babapoeier is nog ’n wonderlike manier om met miere weg te doen. Strooi die poeier waar jy ook al ’n mier gewaar – hulle verpes die reuk en sal wegbly.

Bye en perdebye

Beskerm jou kinders teen bye en perdebye deur ’n ou paar sykouse met motbolletjies te vul en aan ’n boom te hang. Motbolletjies kan giftig wees vir mense in ingeslote ruimtes, maar in oop dele is dit veilig en sal dit steekinsekte weghou.

Stofmyte

Maak jou eie spuitmiddel om stofmyte af te weer deur een van hierdie olies met water te meng: naeltjie-, bloekom-, laventel-, peperment- of roosmarynolie. Giet dit in ’n spuitbottel, spuit jou bed liggies daarmee en laat dit lugdroog raak.

’n Strik vir muskiete

Lok muskiete van jou huis af weg met ’n lokval wat hulle nie sal kan weerstaan nie.

Stap 1

Stap 1. Foto: YouTube-skermgreep
Stap 1. Foto: YouTube-skermgreep

Sny ’n 2 L-plastiekkoeldrankbottel in twee dele.

Stap 2

Stap 2. Foto: YouTube-skermgreep
Stap 2. Foto: YouTube-skermgreep

Giet 1 koppie warm water, ¼ koppie bruinsuiker en ¼ teelepel droë gis in die onderste deel en meng die bestanddele.

Stap 3

Stap 3. Foto: YouTube-skermgreep
Stap 3. Foto: YouTube-skermgreep

Plaas die boonste deel van die bottel binne die onderste deel (onderstebo met die bopunt wat ondertoe wys) tot dit goed inpas en sit die lokval buite jou huis. Muskiete het nie ’n kans nie!

BRONNE:  GUFF.COM, AWESOMEJELLY.COM, YOUTUBE.COM, HUFFINGTONPOST.COM, RAPIDHOMEREMEDIES.COM
ONS DOEN ONS BES OM GOEIE RAAD SAAM TE STEL, MAAR JY BEPROEF DIÉ WENKE OP JOU EIE RISIKO. HUISGENOOT AANVAAR NIE VERANTWOORDELIKHEID VIR ENIGE SKADE OF BESERING WAT DAARDEUR VEROORSAAK IS NIE.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.