Om hul geliefde kat of hond te verloor is enige troeteldiereienaar se ergste nagmerrie. Baie wend hulle deesdae tot mikroskyfies as ’n permanente en betroubare metode om hul troeteldier te kan identifiseer as hulle sou wegraak.

Maar wat behels dit alles – en is daar risiko’s aan verbonde?

Hoe werk dit?

Mikroskyfies is ’n “elektroniese ID-boek” vir jou troeteldier.

’n Skyfie ongeveer die grootte van ’n ryskorrel word onder die vel in die nekarea tussen die skouers ingespuit.

“Hierdie proses hoef nie onder verdowing gedoen te word nie,” sê die veearts dr. Ingrid de Wet van Ebervet Country Animal Clinic op Somerset-Wes in die Wes-Kaap.

“Dis ’n vinnige en maklike prosedure – nie veel pynliker as ’n gewone inspuiting nie.”

Die skyfie bevat ’n unieke kode wat geskandeer en gekoppel kan word aan die databasis van die relevante mikroskyfie-onderneming waar die eienaars se besonderhede geregistreer is.

Dit berus by die eienaar om hul kontakbesonderhede bygewerk te hou.

Hoeveel kos dit?

Die prys wissel na gelang van waar jy dit laat doen. Welsynorganisasies soos die Dierebeskermingsvereniging vra R100 vir ’n kat of hond.

Veeartse se koste wissel van R200 tot R450.

Maak seker of ’n jaarlikse registrasiefooi betrokke is by die mikroskyfie-onderneming wat jy kies.

Sal dit in posisie bly?

Mikroskyfies skuif soms wel van die inspuitingplek af weg, wat dit moeiliker maak om met ’n skandeerder op te spoor.

Die beste is om jou veearts minstens een keer per jaar te vra om die skyfie te skandeer om seker te maak dit is nog waar dit moet wees.

Maar oor die algemeen is skyfies ’n veel beter opsie vir jou troeteldier as ’n halsbandnaamplaatjie, wat kan breek of afval.

Mikroskyfies maak dit vir veeartse en ­diereskuilings makliker om troeteldiere te identifiseer as hulle wegraak. Maak seker jy registreer jou skyfie en hou jou besonderhede bygewerk. Foto: Gallo Images/Getty Images

Bestaan daar ’n gevaar vir kanker?

Luidens onlangse gerugte kan mikroskyfies met kanker verbind word. Is dit iets waaroor troeteldiereienaars besorg moet wees?

“As jy in die navorsing delf, sal jy agterkom die meeste van die verslae is op laboratoriummuise en -rotte gegrond en kan nie op honde en katte toegepas word nie,” sê Ingrid.

“In die paar gevalle waar ’n hond of kat wel ’n gewas in die area van die mikroskyfie ontwikkel het, kan dit gewoonlik nie onweerlegbaar bewys word dat die mikroskyfie die oorsaak was nie. Bygesê, dit is ’n vreemde voorwerp in die lyf en party diere se liggaam kan dalk daarop reageer.

“Ek plant die afgelope 10 jaar mikroskyfies in en het nog nooit ’n dier ’n gewas daarvan sien ontwikkel nie,” sê sy.

“Vir enige prosedure moet ons die risiko-voordeel-verhouding opweeg. In dié geval is die risiko dat jou troeteldier ’n kanker weens die mikroskyfie ontwikkel uiters laag en veel kleiner as die risiko dat jy jou troeteldier verloor omdat hy of sy nie ’n mikroskyfie het nie.” 

Mikroskyfiekontrolelys

  • Nie alle mikroskyfies is van dieselfde gehalte nie – maak seker jou troeteldier se mikroskyfie is ISO-geregistreer om te verseker die meeste mikroskyfielesers kan dit lees.
  • Begroot vir ’n mikroskyfie – nes jy vir inentings sou doen – wanneer jy ’n hondjie of katjie kry.
  • Maak seker jou veearts gaan die mikroskyfie elke jaar na, want dit hou soms op met werk of beweeg uit posisie uit.
  • Sorg dat jy jou kontakbesonderhede by die mikroskyfie-onderneming bygewerk hou.
  • Mikroskyfies is ’n vereiste as jy met jou troeteldier sou emigreer.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.