Onthou, jy is vir die onderhoud genooi omdat daar ’n vakante pos is; nie omdat die onderhoudvoerder jou probeer uitvang nie. Probeer dus ontspan. 

Die doel van die onderhoud is om jou kwalifikasies en vaardighede uit te klaar, te sien of jy die vlak van volwassenheid, intellek en motivering het wat die pos vereis en te besluit of jy goed by die maatskappy sal inpas. 

Ons het by kenners gaan vasstel hoe jy moet maak om jou beste voetjie voor te sit. 

Voorbereiding vir die onderhoud

Baie navorsing is noodsaaklik, meen kenners. Hulle beveel aan jy leer soveel moontlik oor die maatskappy en die mens wat die onderhoud voer. 

“Daar is so baie inligting aanlyn beskikbaar dat daar geen verskonings is om onvoorbereid op te daag nie,” sê Lorna O’Brien van O’Brien Recruitment in Kaapstad.

As julle van aangesig tot aangesig ontmoet, moet jy weet waarheen jy gaan – om laat te kom skep nie ’n goeie indruk nie, maan Tamara Wolpert van Viv Gordon Placements in Kaapstad.

“Sorg dat jy die roete na die plek ken en laat genoeg tyd toe om vroeg daar aan te kom.” 

As dit aanlyn is, stel jou toestelle lank genoeg voor die tyd op. Lees voor die onderhoud die posbeskrywing en jou CV weer deur sodat jy presies weet waarna die onderhoudvoerder sal kyk, sê Lorna.

Dis ’n goeie idee om ’n gedrukte pak van die dokumente wat jy ingelewer het na die onderhoud saam te neem, sê Celeste Stewart, direkteur van Bold Curiosity, ’n leer- en ontwikkelingsagentskap.

“Sodoende sal jy ’n kopie byderhand hê, sou daar enige vrae wees en jy na die dokument moet verwys wat jy maande gelede ingedien het,” verduidelik sy.

Leidende vrae

Die algemeenste vraag is die immergroen ysbreker: “Vertel ons meer oor jouself . . .”

Die geheim tot die beantwoording van hierdie vraag is om te onthou die onderhoudvoerder stel minder in die inhoud van jou antwoord belang as hoe jy dit beantwoord, sê Alexis Kitchen van Afrizan Personnel in Johannesburg.

Hulle het reeds jou CV, maar hulle wil jou selfvertroue, geesdrif en passie beoordeel uit hoe jy die vraag beantwoord. 

“Onderhoudvoerders wil sien hoe welsprekend jy is en watter soort indruk jy sou maak op die mense met wie jy by die werk in aanraking kom,” sê Alexis.

 “Die grootste fout wat jy kan maak, is om aan die begin van jou antwoord te verpoos, verstar of stamel, wat op ’n gebrek aan selfvertroue kan dui.”

Formuleer jou antwoorde voor die tyd, sê Celeste.

“Vrae soos: ‘Vertel my van ’n keer toe jy ’n baie ingewikkelde probleem opgelos het. Wat het gebeur? Wat was die uiteinde?’ sal beslis gevra word.”

Baie mense sukkel met sulke vra, nie omdat hulle nie die antwoord het nie, maar omdat hulle onverhoeds betrap word, sê sy. Oefen dus jou antwoorde. 

Nog algemene vrae sluit in:

  • Wat is jou beste eienskap?
  • Wat sou jy as ’n area vir ontwikkeling beskou?
  • Hoekom wil jy jou huidige werk verlaat?
  • Op watter maniere kan jy ’n bydrae tot die maatskappy lewer?
  • Verduidelik jou verantwoordelikhede in jou huidige rol.
  • Vertel my van ’n keer toe jy saam met ’n moeilike kollega gewerk het.
  • Wat het gebeur en wat was die uiteinde?
  • Hoe hanteer jy druk?
  • Vertel vir my van ’n keer toe jy ’n spertyd oorskry het. Wat het gebeur en wat sal jy volgende keer anders doen?

Om sulke vrae doeltreffend te beantwoord, sê Alexis jy moet dink oor die terugvoering wat jy in die loop van jou loopbaan gekry het sodat jy jou antwoorde met werklike voorbeelde kan staaf.

“Wanneer onderhoudvoerders hierdie vrae vra, kyk hulle hoe jy hierdie eienskappe met jou werk in verband bring en of jy verantwoordelikheid vir jou eie ontwikkeling aanvaar,” sê sy.

Wat jy nie moet sê nie

Dis is wonderlik as jy en die onderhoudvoerder goed oor die weg kom, maar hou die gesprek professioneel en op die pos ingestel. Bo-aan die lys is moenie jou huidige of vorige werkgewers slegmaak nie – moet dit net nooit doen nie. 

“Selfs al voel jy jy het goeie rede om dit te doen,” sê Alexis. Die onderhoudvoerder “sal waarskynlik nie die risiko wil loop om die volgende mens te wees wat jy slegsê nie”.

As ’n slegte ervaring by die werk die rede is waarom jy ’n nuwe werk soek, is dit gewoonlik voldoende om vir die onderhoudvoerder te sê: “Ons waardes het nie ooreengestem nie" of "Ek voel dit is tyd om aan te beweeg,” sê Alexis.

Nog belangrike moenies:

  • Moenie sê jy sou eerder iets wou doen wat glad nie verband hou met die werk waarvoor jy aansoek doen nie.
  • Moenie sê jy hou nie van moeilike mense nie – daar is moeilike mense in elke organisasie.
  • Moenie sê jy hou nie daarvan om in ’n span te werk nie – spanwerk is belangrik en ’n werklikheid in elke organisasie.
  • Moenie godsdiens en politiek ophaal nie. Die meeste werkplekke streef na diversiteit en verdraagsaamheid en ’n onderhoud is gewoonlik nie die beste forum om dit te bespreek nie.
  • Moenie vra wat die maatskappy doen nie.
  • Moenie in die eerste onderhoud oor salaris, verlof en voordele vra nie. Dit steek werkgewers dwars in die krop as jy hierop fokus of desperaat lyk.

Persoonlike inligting

Die algemene reël is om vrae te beantwoord wat gevra word, maar nie te veel te deel nie. “Soms wanneer ons senuagtig raak en begin babbel, sê ons goed wat ons nie bedoel om te sê nie. Wees dus bedag op wat jy sê,” maan Tamara.

“Volg die onderhoudvoerder se leiding,” sê Celeste. Hulle sal vir jou sê as hulle nog inligting nodig het.

“Jou familie en persoonlike omstandighede sal ’n impak op jou werk hê. Moet dus nie daarvan wegskram om dit in hierdie opsig te deel nie,” sê Alexis. Maar sy wys daarop: “Jy is daar om vir geskiktheid vir ’n pos beoordeel te word. Moet dus nie die gesprek met ontoepaslike besonderhede oorheers nie.”

Het jy enige vrae?

Die doel van die onderhoud is nie net vir die maatskappy om jou te beoordeel nie; dis ook vir jou om te besluit of jy daar sal inpas.

Dit is dus ’n goeie idee om vooraf ’n paar vrae voor te brei wat jy vir die onderhoudvoerder kan vra wanneer hulle jou die kans gee. As jy vrae aan die einde van die onderhoud vra, wys dit jy stel in die maatskappy belang en het jou navorsing gedoen, sê Lorna.

Voorgestelde vrae sluit in:

  • Hoekom is die pos beskikbaar?
  • Wat is die belangrikste uitdagings?
  • Wat is die maatskappy se beleid oor loopbaanontwikkeling?
  • Watter geleenthede is daar om by vrywilligersgroepe in die maatskappy betrokke te raak?
  • Hoe bestuur julle talent in die organisasie?
  • Wat is jul prestasiebestuurstelsel?
  • Watter vorme van induksie is daar vir nuwe werknemers?
  • Watter steunstelsels of mentorprogramme het julle in plek vir nuwe werknemers?
  • Vertel my meer oor die kultuur in die organisasie.

En laastens, sê Alexis: “As jy die pos wil hê, vra daarvoor!”

Wat moet ek dra?

Of dit in persoon of aanlyn is, trek reg aan. Kenners meen dit is beter om eerder oorversigtig te wees. Kies ’n konserwatiewer voorkoms al is die pos waarvoor jy ’n onderhoud bywoon bekend vir ’n informele benadering tot werkdrag.

As jy om ’n korporatiewe pos aansoek doen, “dra ’n sakepak en hakskoene,” sê Tamara. Lae halslyne, kort rompe, kortbroeke en slordige jeans is taboe, sê sy.

Dis die beste om jou uitrusting die vorige dag te beplan, sê Celeste. En stryk dit ook ingeval daar ’n kragonderbreking op die oggend van die onderhoud is.

Gekreukelde klere sal nie ’n goeie indruk skep nie. As jy onseker is hoe formeel of informeel jou uitrusting moet wees, laat jou lei deur die maatskappy se webtuiste of deur mense wat daar werk om vas te stel hoe formeel die kultuur is, raai Celeste aan.

Maar as jy steeds onseker is, “trek altyd deftig aan”, sê sy, want dit is beter om agterna te hoor dit is in die haak om informeler aan te trek as om nie vir nog ’n onderhoud teruggeroep te word nie. 

Gebruik jou gesonde verstand. “As jy ’n uitrusting na ’n klub kan dra, moenie dit na ’n onderhoud dra nie,” sê Alexis. Juweliersware moet onderbeklemtoon wees.

Ons kenners raai ook aan jy verwyder enige sigbare gaatjies soos neusringe en dat jy tatoes verbloem.