Toe ek 26 was, het ek binne ’n maand met ’n jarelange lewensmaat uitgemaak én van loopbaan verander. In daardie vier weke het ek geleer die lewe is soos ’n koek. As hy eers gebak is, kan jy nie die geur verander nie. Soms moet jy net die hele ding in die drom gooi en van voor af begin.

Verandering is moeilik en dit maak ’n mens bang, veral wanneer dit ’n groot een is wat ’n uitwerking op jou hele lewe het, soos om jou werk te verander, na die ander kant van die wêreld te trek of selfs jou huwelik te verlaat. Maar hoe spring ’n mens by die diep kant in? Ek het vir wenke aangeklop by kenners en mense wat groot lewensveranderings aangebring het.

Luister na jou intuïsie

Claudia Garland, ’n 30-jarige onderwyseres, was besig om saam met haar ma na ’n trourok te soek toe sy begin huil. “My ma het my aangekyk en gesê: ‘Jy lyk baie ongelukkig.’ ” Claudia het erken sy het bedenkinge oor die troue.

“Ek het paniekaanvalle gekry en op daardie oomblik besluit dit was beter om nie daarmee voort te gaan nie,” vertel sy. Sy het huis toe gegaan en vir haar verloofde gesê die troue is van die baan. Wat Claudia nie verwag het nie, was dat soveel mense vir haar gesê het sy begaan ’n fout. “Almal om my het gedink ek is mal,” sê sy. Maar sy het by haar besluit gebly.

“Ek het net ’n gevoel in my binneste gehad. Dit was baie moeilik, en daar was beslis oomblikke sedertdien dat ek gedink het: ‘Wat het ek aangevang?’ Maar in die geheel is dit beter vir my om daaruit te wees. Ek voel soveel vryer.”

Dink goed na

As jy met jou lewe ongelukkig is en dit oorweeg om ’n groot verandering te maak, sit noukeurig uiteen wat jy graag wil bereik deur iets te laat vaar en van voor af te begin. “Vra jouself: ‘Hardloop ek van iets weg of stap ek na iets toe?’ ” sê die loopbaanafrigter dr. Carole Pemberton.

“Wees duidelik oor hoekom jy dit doen en hoekom dit vir jou saak maak. Dít moet jou anker wees. Wanneer dinge moeilik raak en jy twyfel, het jy jou anker nodig om aan vas te hou, om jou te herinner hoekom jy dit doen.”

‘Wees bowenal optimisties. As mense is ons van nature veerkragtig’.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar moenie té veel dink nie. “Soms is kommunikasie goed,” sê Colin Brand, ’n 37-jarige bemarker. Hy en sy vrou het onlangs ná 10 jaar saam geskei.

“Maar soms los praat niks op nie. Jy praat net herhaaldelik oor dieselfde dinge.” Vir ’n groot lewensverandering soos Colin s ’n moet jy iewers van dink tot aksie oorgaan – en as jy jou voete sleep met ’n verandering wat nodig is, kan dit onnodige pyn veroorsaak.

Neem die sprong

“Die tyd net voor die besluit was die moeilikste deel,” sê Catherine Offord (30) wat haar doktorsgraadstudie opgeskop het om as ’n onderwyseres in Mikronesië, ’n eilandgroep in die Stille Oseaan, te gaan werk.

“Agterna het dit gevoel of ’n groot las van my skouers af is. Ek was nog nie een keer spyt nie.”

Catherine het aanvanklik gehuiwer omdat sy gevoel het sy misluk as sy nie haar doktorsgraad voltooi nie – al het sy die kursus nie geniet nie. Maar mettertyd het sy besef haar geluk is belangriker as om iets deur te voer net omdat sy daarmee begin het.

“Soms moet jy met jou lewe aangaan,” sê sy. Dit het gehelp om die besluit in haalbare stappe af te breek.

“Dit het regtig oorweldigend gevoel om ’n besluit te neem wat moontlik die res van my lewe sou beïnvloed. Dit het my verlam. Maar toe ek eers sê ek neem net vir die volgende jaar ’n besluit, het dit baie gehelp.”

Die vreemde gevoel sal oorwaai

Toe Colin uit sy en sy vrou se gesinshuis trek, het dit baie vreemd gevoel om ná ’n dekade van getroude lewe weer op sy eie te woon. “Dit was ’n skok toe ek die voordeur oopmaak en my in ’n nuwe huis bevind,” vertel hy. Die vreemdheid is steeds daar, maar hy is nou gewoond daaraan. Een manier om die vreemde gevoel te oorkom is om op jou nuwe lewe te fokus.

“Verdiep jou in wat jy ook al doen wat nuut is,” sê Victoria Bryan (38), ’n voormalige joernalis van Brittanje wat na Nieu-Seeland getrek het om as vlieënier opgelei te word. “Jy moet jou nuwe lewe jou alles gee,” voeg sy by.

“Moenie net na jou ou lewe verlang nie – verbind jou voluit tot jou nuwe omgewing.”

Maak vrede met die twyfel

“Selftwyfel is ’n nodige deel van enige groot lewensverandering,” sê Gurpreet Singh, ’n berader van die Britse liefdadigheidsorganisasie Relate. Party lewensveranderings voel dalk soos ’n mislukking, byvoorbeeld om te skei, te moet afskaal of iets nuuts te moet leer nadat ’n onderneming gevou het. Probeer perspektief behou.

“Baie goeie dinge kan uit foute voortspruit,” sê Gurpreet.

“Ons val 100 keer voor ons leer loop.” ’n Goeie manier om twyfel te oorkom, is om aan jou emosionele veerkragtigheid te werk. “ ’n Groot ding wat emosionele veerkragtigheid ondermyn, is om te veel te dink,” sê Carole.

“As iets skeefloop of jou visie vir hoe jou lewe moet lyk, werk nie heeltemal uit nie, moenie herhaaldelik tob oor die dinge wat jou ontstel nie. Maak jou innerlike stem stil wanneer dit sê: ‘Dis ’n ramp, ek het my lewe verwoes en ek sal nooit weer ’n verhouding hê nie.’ Dink eerder hardop: ‘Dié gevoel sal verbygaan.’ ”

Waak teen nostalgie

Dis maklik om nostalgies te wees oor jou ou lewe. Wanneer Colin by sy eksvrou se huis vir sy dogter kuier, mis hy soms die gemaklike intimiteit van die gesinslewe.

“Dis net julle drie op die rusbank besig om televisie te kyk.” In daardie oomblikke herinner hy homself hy mis die gevoel daarvan om deel van ’n gesin te wees, nie sy huwelik nie.

“Soms dink ek: ‘Ek kan net hier bly.’ Maar dan onthou ek ek mis nie my eksvrou nie.” Carole sê ons hunker dikwels terug na ’n prentjie van hoe sake voorheen was – maar dié prentjie was nie noodwendig toe die werklikheid nie. “Herinner jouself aan al die redes hoekom dit nie ’n beter lewe was nie,” sê sy.

Fokus op jou toekomstige geluk

Groot veranderings is nie sonder pyn nie. Maar wanneer dinge moeilik raak, fokus op jou langtermyngeluk. Claudia het geweet om haar troue af te stel is die regte besluit, want sy wou nie ’n dekade later in ’n ongelukkige huwelik vasgevang wees nie.

“Ek wou nie eendag wakker word en na iemand kyk vir wie ek omgee en besef ons het mekaar jare lank ongelukkig gemaak nie,” sê sy.

“Die lewe is te kort, en dit is belangrik om gelukkig te wees.” Sy het geleer dat jy soms ’n geloofsprong moet maak as jy met jou lewe ongelukkig is, sê Victoria. “Jy kan nie net daar sit en dink dinge gaan beter raak nie.”

Wees bowenal optimisties, sê Carole. “As mense is ons van nature veerkragtig. ’n Groot verandering sal ons dalk soms uitdaag, maar ons kan meestal die eise wat aan ons gestel word hanteer en vinnig herstel.”

Kopiereg Guardian News & Media Ltd 2020
Omring jou met die regte mense

Nadat Claudia Garland, ’n 30-jarige onderwyseres, haar verlowing verbreek het, het baie van haar en haar verloofde se gemeenskaplike vriende haar kil behandel.

“Soek die mense wat by jou sal bly,” sê sy. “My ma het gesê: ‘Ek stem nie saam met wat jy doen nie, maar ek respekteer jou en sal jou daardeur ondersteun.’ ”

Sulke ondersteuning is broodnodig, sê Carole Pemberton, ’n loopbaanafrigter.

“Omring jou met mense wat jou sal bystaan, maar jou ook ’n liefdevolle hupstoot kan gee as jy onseker is.”

Jy verloor dalk vriende as jy ’n verandering maak, veral as dit behels ’n verhouding wat ten einde loop, maar dis normaal. Probeer dat dit jou nie te veel pla nie.

“As daar iemand is wat glad nie ondersteunend oor jou besluit is nie, moet jy jou afvra of die mens jou belange op die hart dra,” sê Claudia.