Dis tienuur. Sy gaan bed toe en tel haar foon op om Instagram, Twitter en Facebook om die beurt oop te maak. Toe sy weer op die horlosie kyk, is dit drie uur later.

Sy het begin blaai en blaai, en toe sy weer sien, is sy deur ’n klomp artikels en video’s met samesweringsteorieë oor COVID-19 ingesuig.

Dit gebeur byna elke aand sedert die inperking drie maande gelede begin het, erken die Kaapse onderwyseres Karin Pieterse (’n skuilnaam). As sy weer sien, is dit lank ná middernag.

“Dis snaaks – elke oggend wanneer ek doodmoeg wakker word, sê ek vir myself ek gaan nie weer in dieselfde slaggat trap nie. Maar dan oortuig ek myself keer op keer saans dat ek net gou gaan loer wat in die sosiale media aangaan voor ek gaan slaap. En dan gebeur dit weer,” vertel sy.

‘Ek oortuig my ek gaan net vinnig loer’

Sy het al voor die inperking saans tyd op sosiale media deurgebring, sê Karin, maar kon dit toe makliker regkry om gedissiplineerd te wees wanneer sy vaak word.

“Deesdae is dit nuus oor die coronavirus wat my aanlyn hou. Ek kyk wat mense deel oor die pandemie en die inperkingsreëls. Ek doen dit om op die hoogte te bly van wat almal sê, maar baie van die dinge wat mense deel, maak my eintlik kwaad – en soms reageer ek selfs daarop,” sê sy.

Sy is nie alleen nie.

’n Onlangse studie in Indië het gewys die inperking beteken jong mense bring meer tyd op sosiale media deur, wat by byna die helfte van hulle hoër stresvlakke veroorsaak.

Die studie, deur professors van Delhi se Lady Shri Ram-kollege en die All India Institute of Medical Sciences, het ’n peiling onder meer as 300 jong mense tussen 18 en 25 jaar oud gedoen en gesien hulle bring gemiddeld tot ses en ’n half uur per dag op sosiale media deur.

Boonop het 44% van die deelnemers saamgestem dat die sosiale media hul stresvlakke verhoog het. Die uitslae verbaas haar nie, sê Tamara Sosa, ’n sielkundige van Johannesburg.

“Baie studies wys daar is ’n skakel tussen depressie en angsvlakke en die uitermatige gebruik van sosiale media.”

Dit was al voor die pandemie waar. Maar noudat mense meer tuis is en minder met ander aktiwiteite besig is, het hulle selfs nog meer tyd om aanlyn deur te bring, sê sy. Die sosiale media kan nuttig wees om ingelig te bly en in kontak met jou vriende en familie te hou, maar jy moet bewustelik daarmee omgaan, sê Tamara.

“As jy weet dat die lees van ’n klomp negatiewe nuus of menings jou beïnvloed en oorweldig laat voel, moet jy jouself daaraan herinner jy het beheer oor waaraan jy blootgestel word.”

Volg dié wenke wanneer jy die sosiale media in hierdie onsekere tye gebruik om seker te maak jy hou kop.

Dink twee keer voor jy reageer

Daar gaan mense wees wat nie al die regte feite het nie en verkeerde inligting versprei – en dis nie altyd jou plig om hulle reg te help nie. Neem in ag wat op die oomblik in die wêreld aan die gang is en wees mense ’n bietjie genadig, sê Sarah Britten, ’n sosialemediakenner by die digitale bemarkingsagentskap Brand Factor.

“Mense is tuis vasgevang – dalk vir die eerste keer ooit – tydens ’n ongekende wêreldwye krisis en verwerk ’n klomp emosies. Wees dus minder veroordelend.

“Tensy wat iemand sê ’n ander persoon skade berokken, probeer die versoeking weerstaan om polisieman te speel.”

Conrad David, stigter van die Johannesburgse maatskappy Hashtag South Africa, stem saam. Om elke keer ook ’n eiertjie te lê oor alles wat jy aanlyn sien, is nie altyd die beste benadering nie, maan hy.

“As jy voel iets wat jy aanlyn sien, gee aanstoot, dink ’n oomblik na voor jy daarop reageer. Nes met video’s wat op die internet versprei waarin mense uit hul beurt praat, kan jy ook daarvan beskuldig word dat jy ander beledig.”

As jy voel jy moet reageer, is sy raad dat jy nie kommentaar lewer wat op ’n mening gegrond is nie; fokus eerder op feite, sê Conrad.

“Dink mooi voor jy die stuur-knoppie druk. As iets wat jy deel, begin versprei, moet jy jou standpunt kan staaf.”

‘Wees mense ’n bietjie genadig’

Wees kieskeurig

Dink mooi oor watter soort inhoud jy lees en kyk. Dis belangrik om op die hoogte van die nuus te bly, maar dis net so belangrik om jou nuus by ’n betroubare bron te kry.

Wees dus kieskeurig oor watter webtuistes se berigte jy lees. Beperk verder hoeveel tyd jy hieraan bestee, sê Tamara. “Kry die balans tussen ingelig wees en oorweldig voel met inligting.”

Wees net so kieskeurig oor wie jy in die sosiale media volg, voeg sy by. “Hou profiele en mense dop wat positief en bemagtigend is.”

Bestee meer tyd aan profiele of groepe wat gewy is aan jou stokperdjies of die dinge waarvan jy hou, sê Sarah, of dit nou kos maak, fotografie of kuns is.

En as jy skerp woordewisselings raaksien of negatiewe kommentaar jou onderkry, skep ’n bietjie asem, gee Conrad raad.

“Dis maklik om net saam met die swerm te vlieg met dit wat ons in die sosiale media lees,” sê hy. “Maar ons het almal belangstellings en dinge wat ons inspireer en vermaak. Ons moet dit toepas wat betref die soort inhoud wat ons aanlyn lees en sien.”

selfoon
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hou ’n knippie sout byderhand

Neem dit wat mense in die sosiale media skryf met ’n knippie sout.

“Ons moet onthou dat baie van die mense wat hul gedagtes en gevoelens in die sosiale media verkondig dit doen omdat hulle bang, kwaad of hulpeloos voel,” sê dr. Louise Olivier, ’n kliniese sielkundige van Pretoria.

“Vermy mense in die sosiale media wat ’n eiertjie wil lê deur uitlokkende of negatiewe kommentaar te plaas. Dis hul reg om dit te doen, maar hulle weet dalk nie hoe die hele prentjie lyk nie. Trouens, hulle weet dalk nie eens hoe ’n derde van die hele prentjie lyk nie.”

Oppas vir samesweringsteorieë

Dis soms leesstof wat ’n mens laat bespiegel, maar dis beter om die samesweringsteorieë oor COVID-19 te vermy wat tans aanlyn die rondtes doen, sê Tamara.

“Die teorieë is interessant, want dit gee mense ’n vals sin van beheer oor ’n situasie wat nie beheer kan word nie,” sê sy.

Maar samesweringsteorieë verskuif dikwels die blaam en neem die fokus weg van hoe om ’n probleem op te los. Maar hoe sien ’n mens ’n samesweringsteorie raak?

Die een benadering is om bloot op jou gesonde verstand staat te maak, sê Jovan Byford, ’n senior dosent in sielkunde aan The Open University in Engeland.

En onthou dat dit net teorieë is, voeg hy by. Mense wat sulke teorieë versprei, sien dikwels geheime sameswerings oral in die samelewing en glo dit is ’n groot krag in die wêreldgeskiedenis, sê Jovan.

“Hulle verkoop ’n illusie,” sê hy. “Hulle bied ’n mate van troos wat dit aanloklik maak. Maar dit lei keer op keer na ’n doodloopstraat – weg van ware oplossings vir die samelewing se probleme.”

Sit jou selfoon neer

Om kieskeuriger te wees sal die tyd wat jy aanlyn deurbring meer bevredigend maak. Maar die kenners is dit eens dat jy ook dié tyd moet probeer beperk.

  • “As jy sien die sosiale media verminder jou produktiwiteit, moet jy weet jy het ’n probleem,” sê Sarah Bitten van Brand Factor. “As jy reëls maak, maar jy kom agter slegte gewoontes suig jou steeds in, het jy ’n blaaskans van die sosiale media nodig.”
  • As jy minder van ’n verbintenis met jou geliefdes ervaar weens die hoeveelheid tyd wat jy op sosiale media deurbring, moet jy dit verander en meer tyd aan jou verhoudings bestee, sê die sielkundige berader Tamara Sosa. Beperk jouself tot sekere tydgleuwe wanneer jy kyk wat in die nuus en die sosiale media aangaan.
  • “As jou geblaai deur die sosiale media verhoed dat jy ’n goeie nagrus kry, moet jy dadelik ingryp,” sê die sielkundige dr. Louise Olivier. “Versteurde slaappatrone kan tot slapeloosheid lei.” Sit jou foon saans in ’n ander vertrek pleks van op jou bedkassie. 
Ekstra bronne: hindustantimes.com, open.ac.uk