“As dit nie die vreugdevonke laat spat nie, moet dit waai!”

Dié mantra maal deur my gedagtes terwyl my huismaat neul oor al die klere wat ek nooit dra nie. Sy wil hê ek moet ’n slag my klerekas sorteer en van die ongebruikte items ontslae raak. En ’n plan maak met die skewe hoop ou tydskrifte waaraan ek vasklou.

Sy is een van die derduisende aanhangers van die ontrommelgier wat deur die Japannese opruimkenner en skrywer Marie Kondo geïnspireer is. Die KonMari-metode, soos dié gier genoem word, geniet nou ’n groot herlewing vyf jaar ná die publikasie van Marie se baanbrekersboek, The Life-Changing Magic of Tidying Up.

Marie Kondo
Sy help ’n kliënt om van haar afgestorwe man se besittings ontslae te raak. Foto: Netflix.

“Rommelvry” en “opruim” is gonswoorde, aangespoor deur Marie se reeks wat Nuwejaarsdag op Netflix begin het. “Ek’s opgewonde, want ek hou van ’n deurmekaarspul,” sê Marie in die lokprent vir haar program. “Nou wil ek vreugdevonke in die wêreld laat spat deur dinge aan die kant te maak.”

Tidying Up with Marie Kondo is ’n reeks van agt episodes. In elke aflewering word Marie by die huis van mense ingenooi wat oorweldig is deur die rommel wat om hulle ophoop.

Mense in alle fases van die lewe kry die KonMari-behandeling: van jong ouers, ouers wie se kinders die nes verlaat het en diegene wat afskaal tot studente en ’n weduwee wat nie van haar oorlede man se besittings kan afskeid neem nie.

Marie Kondo
Foto: Netflix.

Sy is dalk klein en fyn van statuur, maar Marie se metode het wêreldwyd ’n uitwerking. Die idee van “minder is meer” sal tot ’n gelukkiger en gesonder bestaan en rommelvrye lewe lei, glo sy.

Die KonMari-metode is meer as net huis aan die kant maak – dis ’n geestelike en emosionele ervaring, sê sy. Dit gaan daaroor dat jy met jou huis ’n verbintenis vorm, jou ideale ruimte visualiseer en dan jou huis “vertel” wat jy beplan en hoop. Die fokus is op die besluit wat jy wil hou en koester, nié op die verbete uitsmyt van rommel nie.

Marie Kondo
In haar Netflix-reeks besoek sy Amerikaners se huise om hulle te help om orde te skep. Foto: Netflix.

Aan die begin van elke episode stel die netjiese en deftige Marie en haar Japannese tolk, Marie Iida, hulself aan die gesin voor. Marie sit op die vloer en nooi haar kliënte om hul oë toe te maak en hul huis te groet, dit hardop te bedank dat dit hulle beskerm, en te visualiseer hoe hul ideale leefruimte sal lyk en voel.

“Dis nie net ’n kwessie van netjies maak nie. Dit gaan daaroor dat jy ’n verwelkomende en positiewe omgewing in jou huis skep.” Dit klink dalk na wollerige woorde, maar dit ontlok ’n sterk emosionele reaksie by gesinne wat beplan om moue op te rol en al hul dinge te sorteer.

Marie Kondo
Sy (links) en haar tolk, Marie Iida, gesels met Wendy en Ron, wie se kinders pas uit die huis getrek het. Foto: Netflix.

Marie gebruik ’n vyffase-stelsel van opruim deur besittings in vyf kategorieë te verdeel: klere; boeke; dokumente; allerlei gebiede soos die kombuis, garage, badkamer en speelkamer; en sentimentele items, soos foto’s, trouvideo’s en erfgoed. Sy gaan deur elke kategorie en sorteer dit voor sy die volgende een takel.

Haar toets vir wat moet bly en wat moet waai, is of die item jou vreugde verskaf. Uiteraard hou jy die dinge wat jy nodig het, maar as jy meer as een item met dieselfde nut het, hou jy net dié wat jou gelukkig maak. Die res kan waai.

Wat bedoel sy met die uitdrukking “die vreugdevonke laat spat”? “Jy sal ’n ‘aha’-oomblik hê wanneer jy besef wat dit beteken,” sê sy. “Jy voel dit wanneer jy ’n hondjie vashou of jou gunstelinguitrusting dra. Dis ’n warm, positiewe gevoel.”

Dis hoekom items met sentimentele waarde laaste aan die beurt kom, want teen daardie tyd het jy al ’n gevoel vir wat jou vreugde gee. En dan is jy al sterk genoeg om besluite te neem oor items wat gevoelens wakker maak.

Marie Kondo
Marie wys vir ’n ma in haar TV-reeks hoe om haar woelige gesinswonings in ’n plek van vrede en orde te omskep. Foto: Netflix.

Haar metode neem kliënte op ’n emosionele wipwarit. In die eerste episode begin Rachel en Kevin, ’n jong paartjie met klein kinders, deur hul klere sorteer. Marie dring aan hulle haal elke kledingstuk wat hulle besit uit en pak dit in ’n hoop.

Die daad wek ’n diep reaksie by Rachel op, wat geskok is oor die berg klere. “Ek het ongeloof, afkeer en skaamte ervaar omdat ek soveel dinge het,” sê sy. Dan sê Marie: “Voor jy ’n item uitgooi, moet jy dit vir sy diens bedank en dit óf weggooi óf vir iemand anders gee.”

Marie Kondo
Marie help ’n kliënt om te besef hoeveel klere sy het deur haar te vra om al haar kledingstukke op ’n hoop te plaas. Foto: Netflix.

Rommel is dikwels die gevolg van ’n wanordelike en stresvolle huis, volgens Joseph Ferrari, ’n sielkundeprofessor aan die DePaul-universiteit in Chicago wat die oorsake van rommel en die uitwerking daarvan op emosionele welstand bestudeer.

“Rommel is ’n oorvloed van besittings wat chaotiese en wanordelike leefruimtes skep,” het hy aan The New York Times gesê.

Marie Kondo
Marie wys vir Sehnita hoe om ’n kas op te ruim. Foto: Netflix.

In navorsing op drie groepe volwassenes – studente, volwassenes tussen 20 en 30, en ouer volwassenes meestal in hul 50’s – het Joseph ’n verband tussen alle ouderdomme en hul rommelgewoontes gevind.

In haar reeks besoek Marie kliënte van alle ouderdomme in die hoop om hul huis ’n hawe van vrede en orde te maak. “Terwyl jy opruim, kan dit voel asof goed deurmekaarder as voorheen is. Maar moenie bekommerd raak nie,” sê Marie. “Volg die proses stap vir stap; die opruim sal wel ophou.”

En wanneer dit gebeur, het jy haar einddoel bereik: In jou hart sal ’n vreugdevuur brand.

Marie gee wenke om die vreugdevonke in jou leefruimte te laat spat. Maak so

1. Betrek jong kinders by die opruimproses. Dit voel dalk moeilik, maar Marie doen dit met haar twee- en eenjarige dogters en beveel dit aan.

“Hulle is dol daaroor,” sê sy. ’n Mens is nooit te jonk om die proses te verstaan en daarby baat te vind nie, meen sy.

2. Skep afsonderlike hope speelgoed wat aan elkeen van jou kinders behoort en ’n hoop gedeelde speelgoed, en vra jou kinders watter items hulle gelukkig maak.

As hulle sê alles, vra hulle om die speelgoed te rangskik volgens die vlak van hoe gelukkig dit hulle maak. Teen die einde van die proses sal jy wel ’n goeie idee hê van watter speelgoed hulle werklik baie hou en wat hulle bereid is om prys te gee.

3. Dink na oor hoe jy herinnerings wil bêre waaraan jy wil vashou. Marie is ’n groot aanhanger van bokse en deurskynende houers. “Ek beveel nie aan jy pak goed in plastieksakke nie,” sê sy. “Dit lyk later soos vullis.”

4. Beskou die weggee van items wat aan ’n geliefde behoort het as deel van die helingsproses.

Ja, dit kan moeilik wees en amper soos om van voor af te groet, maar “deur op te ruim, kan jy die pyn van die verlede verlig,” sê Marie. “Of selfs op ’n positiewer manier oor jou toekoms begin dink.”

Die mens wat weg is, leef in jou hart voort, herinner sy haar kliënte; nie in die dinge wat hulle agtergelaat het nie.

5. Sorteer papier en dokumente in drie kategorieë: dié wat dadelik aandag nodig het, soos rekenings; dié wat jy op kort termyn sal nodig kry, soos belastingdokumente en waarborge; en ander dokumente wat jy vir altyd moet hou, soos geboorte- en huweliksertifikate en kontrakte.

6. Verander die lug as jy motivering verloor, sê Marie – en sy bedoel dit letterlik. “Deur bloot die vensters oop te maak, sal help.

Ander maniere is: Skep ’n klank wat ’n goeie vibrasie het, steek ’n kers aan, spuit ’n geur in die vertrek of brand wierook, want die skep van rook suiwer die vertrek.”

Ekstra Bronne: nytimes.com, konmari.com, netflix.com, theguardian.com, vanityfair.com