Grimering
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Is dit net ons of het die inperking almal se innerlike Marie Kondo na vore laat kom? Met dié dat ons die afgelope jaar meer tyd as ooit by die huis gebly het, het baie van ons ’n bietjie meer tyd gehad om by die vervelige take uit te kom wat ons voorheen so lank uitgestel het.

Dit help ons om ons in hierdie tyd rigting te gee. “Om in die inperking georganiseerd te raak sal jou ’n bietjie meer doelgerig maak in hierdie moeilike tyd,” sê Katie Light, ’n welstandsafrigter. 

“Ons moet ’n mate van beheer neem waar ons kan sodat ons minder tob oor dit wat ons nié kan beheer nie.”

En noudat jou klerekas nes jou koskas eksieperfeksie gerangskik is, is dit tyd om ook jou skoonheidsprodukte te bekyk. Dis egter moeilik om te weet waar om te begin – daar is byvoorbeeld geen maklike manier om blossers netjies op te vou nie.

Hoe moet ons ons grimeerkwaste was? En wat is die beste maniere om produkte te bêre? Rachael Cole, senior grimeerkunstenaar by NARS Cosmetics, deel ’n paar topwenke vir die organisering van skoonheidsprodukte.

Netheidsrevolusie

Die afgelope paar jaar het die Japannese netheidsghoeroe Marie Kondo baie van ons geïnspireer om ons huis te herorganiseer volgens haar KonMari-metode wat in The Life-Changing Magic of Tidying uiteengesit word.

Sy moedig ons aan om volgens kategorie te organiseer en nie volgens plek nie en sê die grootste oorweging wanneer jy wonder of jy iets moet uitgooi, is of die ding jou vreugde gee. 

‘Hou slegs die dinge wat tot jou hart spreek. Knyp dan jou oë toe en gooi die res alles uit. Deur dit te doen, kan jy ’n skoon blaadjie omslaan en ’n nuwe leefstyl aanpak’ – Marie Kondo

Maak minder

Ons het begrip as jy ’n opgaarder van skoonheidsprodukte is. As een van die lewe se opkikkers kan ’n skitterblink oogskadupalet of sielstrelende parfuum beslis vreugde bring. Maar daardie lipstiffie waaraan jy sedert die vroeë 2000’s vasklou, moet regtig nou uitgegooi word.

As jy ’n grimeerborsel goed versorg, kan jy dit waarskynlik baie lank hou. Maar met die meeste ander produkte is dit nie die geval nie. “Kyk altyd na die agterkant van die verpakking,” sê Rachael.

“Dit sal ’n klein oop fles gedruk hê met die getal maande wat jy die item kan hou sonder dat dit bederf van die oomblik dat dit oopgemaak is.”

“Maskara moet hoogstens drie maande gehou word – om higiëniese redes en omdat lug daarby sal inkom wanneer dit eers oopgemaak is wat die werking van die produk sal beïnvloed. Ek sou ook baie punteneurig met rome wees, want dit kan meer bakterieë behou en skadeliker vir die vel wees,” sê Rachael.

En as jy agterkom ’n produk het ’n sterk reuk ontwikkel, moet jy dadelik ophou om dit te gebruik.

Wanneer jy eers die oorbodige items eenkant gesit het (herwin waar moontlik), beweeg aan na dié wat jy onoopgemaak net vir die mooigeit daarvan op jou spieëlkas gehou het.

As jy dit nog nie opgetel het nie, sal jy dit waarskynlik nooit gebruik nie. Wees gedissiplineerd en oorweeg dit om dit vir iemand anders te gee. 

Grimering
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maak skoon

Steek jou hand op as jy jou grimeerkwaste die afgelope week gewas het. Sekerlik die afgelope maand? Ons gebruik dalk ons kwaste minder as tevore, maar hulpmiddels moet steeds gewas word.

“Die belangrikste dinge om skoon te hou is jou grimeerkwaste en -sponse – bakterieë pak daarop aan, en swak higiëne kan tot puisies lei en aanwending benadeel. Ek het kwaste wat al jare hou oor ek dit gereeld skoon- maak,” sê Rachael.

Moet ons ons kwaste in die wasmasjien gooi soos wat links en regs aanlyn aanbeveel word? “Ek sou sê beslis nie, want dit sal sonder twyfel jou kwaste bederf,” sê Rachael.

“Die hitte en die feit dat dit heeltemal in water gedompel sal wees, sal die gom laat afbreek wat die hare aan die handvatsel hou en die hout laat verrot as dit ’n houthandvatsel het.” Maak liewer jou kwaste elke twee weke met babasjampoe en warm water skoon.

Gebruik jou hande om sirkelbewegings teen die hare te skep tot water skoon van die kwas af loop. Laat dan jou kwaste droog word deur dit plat op ’n handdoek neer te lê, maar met so ’n hoek dat die handvatsel hoër is – dit keer dat water die gom in die handvatsel laat loskom, wat die hare kan laat uitval.

Vir sponse geld die wasmasjienwenk wel. Rachael sê jy moet jou sponse met seep afspoel, dit in ’n ou kussingsloop sit en dan teen 40 °C in die wasmasjien was.

Dit is ook die moeite werd om toilet- en grimeersakkies te was en enige ander bêreplekke waar jy jou produkte hou.

Grimering
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Skep orde

Begin deur jou produkte saam te groepeer: basisgrimering (onderlae, verbloemers en voorbereidingslae), ooggrimering (maskaras, oogskadu’s en omlyners), lipprodukte en so meer.

Doen dieselfde met groterige produkte soos haar-, lyfsorgmiddels en geurmiddels wat vir langer in groter houers weggepak kan word. Rachael hou haar alledaagse noodsaaklikhede in ’n grimeersak op haar spieëltafel en vul dit met nuwe produkte aan soos nodig.

Niedaaglikse produkte word in deursigtige plastieklaaie weggepak wat sowel prakties as mooi is. “Ek het ’n klein potloodsakkie vir my alledaagse kwaste,” sê sy.

“Bykomende kwaste bêre ek in ou kershouers met die hare na bo. Ek voel kwaste moet eintlik uit jou grimeersak gehou word om te sorg dit word apart gehou vir higiëne.”

Dis nie net in deurskynende laaie en op mooi spieëltafels waar jy jou gunstelingdinge kan hou nie. Rachael stel voor jy bêre oogroom in die yskas.

Dit sal met aanwending die oogarea help afkoel en pofferigheid verminder. Die pigmente in lipstiffie, oogskadu en blosser kan ook deur die son verbleik word.

Sorg dus dat jy dit uit direkte sonlig hou.

“Sonlig en hitte kan die tekstuur van die produk aantas, wat beteken dit sal nie so goed werk of inskakeer nie. Dit sal help om jou grimering te bewaar as jy jou produkte in ’n koel vertrek weg van sonlig hou,” sê sy.