So lui ’n ou liedjie van Tony Christie wat die treffersparade in 1976 oorheers het. En dit bly vandag ’n hartseer en onthutsende liedjie, want dit eindig met die soort tyding wat niemand oor ’n geliefde wil ontvang nie.

Ons lewensmaats, kinders, kleinkinders, ouers, dierbare vriende… Ja, dis moeilik om te ontspan wanneer mense na aan ons hart in ’n kar êrens heen op pad is. Daarom wil ’n mens hulle ook altyd vooraf aan padveiligheid herinner om hulle gesond en ongeskonde te help hou, veral voor spitsvakansietye soos nou.

Ons het gaan aanklop by ’n paar mense wat betrokke is daarby om Suid-Afrikaanse paaie veiliger te maak om te hoor watter raad hulle gewoonlik aan hul geliefdes gee voor hulle die langpad aandurf. 

Gaan jou motor na

Foto ter illustrasie: Pexels.

Maak vooraf seker jou motor is in ’n volkome padwaardige toestand, sê Grant Johnson, Suid-Afrikaanse hoof van Dekra, ’n voorste internasionale voertuiginspeksiegroep met verskeie takke in die land. 

Gaan veral die remme, bande en ligte na. Maak seker al jou bande, insluitend die noodwiel, het die korrekte banddruk. Let op die motor se vloeistowwe, in die besonder olie en water, en sorg dat jy wel al die nodige gereedskap om ’n band om te ruil in die motor het, asook ’n nooddriehoek, sê Grant.

Adv. Johan Jonck, stigter van Arrive Alive, voeg by dat jy ook moet sorg dat ook die stuurstelsel, flikkerligte en ruitveërs reg werk.

’n Mens wil nie eens dink aan die gevolge daarvan as ’n band teen 120 km/h bars nie. Daarom is dit so lewensnoodsaaklik dat jy al jou bande, insluitend die noodwiel, se loopvlak nagaan voor jy in die pad val, sê Layton Beard van die Automobiel Assosiasie.

Vir die langtermyn het hy ook dié algemene raad: As jou motor versien moet word, moet jy dit liewer ’n hele paar weke voor enige vakansietydperk reël. Anders gaan jy waarskynlik nie betyds geholpe raak nie; werktuigkundiges ondervind altyd ’n effens stormloop voor ’n vakansie.

Beplan

Beplan die roete na jou bestemming behoorlik, en laat genoeg tyd toe om dit sonder haas te bereik, sê Johan. Neem dan ook moontlike padwerk en vertragings onderweg in ag. Sorg dat jy genoeg slaap inkry en goed uitgerus is voor jy vertrek; probeer dit vermy om in die donker te ry en moenie die voertuig oorlaai nie.

Maak seker jou selfoon is gelaai en neem verkieslik ook ’n herlaaier saam, sê Grant. Maak vooraf seker jy het die noodkontakbesonderhede by jou, insluitend vir bystand as jou motor onklaar sou raak.

Hou altyd jou AA-kaart byderhand as jy ’n lid is, sê Layton – die AA is daar om jou by te staan, waar en wanneer ook al. En jy moet maar altyd vooruit beplan sodat jy nie byvoorbeeld sukkel om oorslaapverblyf te vind nie.

Afhangend van die tyd van die jaar en weervooruitsigte, moet jy dalk ook ’n warm baadjie of reënjas en sambreel saamneem. Hou altyd ’n noodhulpstel in die motor, en ’n klein brandblusser is ook ’n goeie idee, sê Layton. En sorg dat jy altyd genoeg water en ander drinkgoed en minstens ook ’n paar versnaperings inpak ingeval julle êrens gestrand raak.

Hou by die reëls

Slaan ag op padtekens, sê Grant. Hou deurgaans by die spoedgrens, sê Johan. Alle padreëls moet deur almal gehoorsaam word, sê hy. Sorg ook dat jy altyd jou rybewys byderhand het.

Gordels vas!

Foto ter illustrasie: Pexels.

Dra altyd jou veiligheidsgordel en sien ook toe dat al jou passasiers vasgegordel is, sê Johan.

Volgafstand & verbysteek

Handhaaf ’n volgafstand van minstens twee sekondes, en vergroot dit snags en in mis- en reëntoestande wanneer die pad nat is, sê Johan.

Steek slegs ander voertuie verby wanneer dit absoluut veilig is om dit te doen. As jy enigsins twyfel, moet jy dit eenvoudig nie doen nie, benadruk hy.

Vir Layton is dit ook “ ’n baie grote” as dit by wenke aan geliefdes kom: Moet nooit oor ’n sperstreep verbysteek nie, op ’n blinde hoogte of waar ook al jy nie om ’n draai kan sien nie. Moet ook nooit swig onder druk van ’n motoris agter jou om verby te steek tensy jy volkome gereed en gerus daaroor voel nie. Verminder dan eerder jou spoed effens sodat die ruimte tussen jou en die voertuig voor jou vergroot en die stertvlieg daar kan inskuif.

Moet ook nie sommer die oordeel vertrou van vragmotorbestuurders of ander motoriste voor jou wat wys jy kan verbykom nie. Steek slegs verby wanneer jy self voel dis oukei, beklemtoon Layton.

Sigbaarheid

Foto ter illustrasie: Pexels.

Wees heeltyd op die uitkyk vir roekelose en potensieel gevaarlike bestuurders asook voetgangers langs die pad, en hou ver verby hulle, sê Johan. En sorg dat jy self behoorlik sigbaar is. Ry liewer met jou ligte aangeskakel. Maar onthou om jou kopligte betyds te domp voor aankomende voertuie binne hul reikafstand kom, sê hy.

Jy moet altyd jou bestuursgedrag by padtoestande aanpas, sê Layton. So moet jy allereers in swak sig- of  ander uitdagende toestande spoed verminder, al is die spoedgrens ook 120 km/h.

Moet in vloedtoestande ook nooit ’n laagwaterbrug oorsteek as jy nie doodseker is hoe diep die water is nie. En as jou voertuig wel deur vloedwater meegesleur of daarin gestrand raak, moet jy dit liewer probeer verlaat, voeg hy by – jy is belangriker as jou motor.

Bly gefokus . . .

Grant kan dit kwalik genoeg beklemtoon: “Jy moet nóóit op jou selfoon praat terwyl jy bestuur nie.”

Hou jou hande heeltemal van jou foon af. Vermy enigiets wat jou aandag van die pad kan aftrek terwyl jy bestuur, en bly gefokus en waaksaam, sê Johan.

Moenie agter die stuur eet, ’n kledingstuk uit- of aantrek, ’n elektroniese toestel van enige aard gebruik nie, beaam Layton. Jou volle aandag moet op die pad wees. Hy moedig ook die voorste passasier aan om ook aandag te gee en die bestuurder na moontlike risiko’s te help oplet.

. . . en immer sober

Foto ter illustrasie: Pexels.

Johan, Layton en Grant benadruk voorts: “Moet nóóit drink en bestuur nie.” Geen padgebruikers moet hulle trouens onder die invloed in verkeer begewe nie, of dit nou bestuurders, motorfietsryers, fietsryers of voetgangers is, sê Johan.

Lomerigheid = lewensgevaarlik

Maak seker jy vat onderweg na jou bestemming minstens elke twee uur ’n blaaskans, sê Grant. Hou ook jou familie en vriende, wat moet weet watter roete jy volg, op die hoogte van jou vordering onderweg na jou bestemming, sê hy.

Jy kan natuurlik ook afstand as riglyn gebruik vir daardie noodsaaklike blaaskanse – dus elke 200 km, sê Johan. 

’n Bietjie bene rek, vars lug en iets te drink en te ete kan jou baie help om weer vars en met die regte perspektief agter die stuur in te skuif, sê Layton: Jy moet nooit in ’n tydren na jou bestemming gewikkel raak nie; geniet eerder die hele reiservaring.

Ingesteldheid, hoflikheid

Maak seker jy klim met die regte ingesteldheid vir die langpad in jou motor, vertel Layton. As jy oorhaastig gaan wees en baie omgekrap gaan raak as jy byvoorbeeld druk verkeer teëkom, moet jy dit dalk oorweeg om eerder op ’n ander tydstip in die pad te val.

Bestuur in die algemeen defensief, met die fokus op die veiligheid van en respek vir alle padgebruikers, is Johan se raad. Moenie aanneem dat ander net so wetsgehoorsaam soos jy gaan wees nie. En wees deurgaans hoflik teenoor medepadgebruikers. Probeer jou humeur beteuel en moenie swig voor die versoeking om mense wat jou te na gekom het “terug te betaal” nie, beklemtoon hy.

Layton sê hy vertel altyd ander mense dat padgebruik en bestuur op ons paaie ’n verantwoordelikheid is, nie ’n reg nie. Jy het jy ’n verantwoordelikheid teenoor jou passasiers (dat hulle byvoorbeeld deurentyd vasgegordel is, kinderstoeltjies inkluis) en jeens ander padgebruikers – ook om bedagsaam teenoor hulle te wees. Dis ’n verantwoordelikheid wat ons almal baie ernstig moet opneem, glo hy, “en dis ook altyd my boodskap aan my geliefdes”.

Wen tot R5 000 met Caltex
Het jy al vir ons Caltex-kompetisie ingeskryf? Dit kan die maklikste manier wees om geld vir die vakansie in die hande te kry! Staan ’n kans om elke week vir die volgende drie weke R5 000 te wen – of wen die groot prys van R10 000 in die laaste week van die kompetisie! Maak eenvoudig net seker jy gooi brandstof ter waarde van R300 of meer by Caltex in, hou jou strokie en skryf hier in. Die kompetisie is van 19 Maart tot 16 April 2018.