Jy is dalk sonder dat jy dit besef besig om jou eie loopbaan te pootjie. Vermy hierdie loopbaanfoute tot elke prys. 

1. Onbetroubaarheid

Of dit nou is om betyds te wees vir werk, spertye te haal of e-posse soos belowe op te volg en verpligtinge na te kom, dis belangrikom betroubaar te wees, sê dr. Nelmarie Boshoff, 'n voorligtingsielkundige van Johannesburg.

“Jy kan dalk vergewe word as dit een of twee keer gebeur, maar as jy aanhou teleurstel, kan jy geleenthede misloop, want joubaas, kollegas of kliënte sal hul vertroue in jou verloor en jou van projekte of sakeooreenkomste uitsluit.”

2. Afskeepwerk

Ons is almal onder druk om take so vinnig moontlik af te handel, maar dit beteken nie jy moet kortpaaie vat nie, maan Nelmarie. “Of jy nou die verkeerde gereedskapgebruik of nie die korrekte programme of protokol volg nie, dit sal lei tot swakker gehalte en tyd en geld kos om die situasie reg te stel,” sê sy.

“Nie net sal jy as onbetroubaar onthou word nie, dit kan selfs lei tot ’n dissiplinêre verhoor en jou prestasieoorsig benadeel.”

3. Jy maak verskonings

As jy 'n fout gemaak het, moet jy dit erken, sê die Kaapstadse kliniese en bedryfsielkundige dr. Richard Oxtoby. “Aanvaardadelik verantwoordelikheid vir enige foutwat jy gemaak het.

Vra almal verskoning wat negatief geraak is deur jou fout en sê vir hulle jy probeer uit jou fout leer. Moenie net die situasie probeer ignoreer nie.”

Moenie jok om jouself te beskerm nie, sê Nelmarie. “Die waarheid kom altyd op ’n manier uit en wanneer jy uitgevang word, kan jou kollegas, veral jou toesighouers, jouintegriteit en betroubaarheid betwyfel.”

Moet ook nie die skuld op iemand anders probeer plaas nie, voeg sy by. “Aanvaar verantwoordelikheid vir jou dade en foute. Nie net sal jy dan jou foute kan regstel nie, dit sal ook sorg dat ander jou integriteit erken.

Die skuldspeletjie is 'n teken van onvolwassenheid, nie 'n kenmerk waarmee jy verbind wil word nie, veral as jy 'n bestuurspos in die oog het.”

4. Seksuele teistering

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Enige vorm van seksuele teistering kan veroorsaak dat jy afgedank word. “Selfs as jy dink dit was net ’n grap om 'n gebaar of aanmerking te maak of ’n spesifieke e-pos te stuur, kan dit jou in die moeilikheid laat beland,” maan Nelmarie. 

“Let op verskillende kulture en gelowe. Wat vir jou aanvaarbaar is, is dalk nie vir ander aanvaarbaar nie. Selfs 'n omhelsing kan as onvanpas beskou word.

"As jy onseker is, praat met jou bestuurder of die menslike hulpbronneafdeling. Elke onderneming behoort 'n beleid oor seksuele teistering te hê,” sê Nelmarie.

5. Die verbreking van die vertroulikheidsbeleid

Sorg dat jy jou werkplek se vertroulikheidsbeleid ken en verstaan, sê Khanya Matlala, 'n loopbaanafrigter van Johannesburg.

“Mense wat met ander oor hul werkgewer praat, besef blykbaar nie dat hulle dalk vertroulike inligting deel wat hulle in ’n dissiplinêre verhoor kan laat beland nie,” sê sy.

“As jy die werkgewer se vertroue skend, is dit gronde om jou te ontslaan.” 

6. Verbrand brûe

“Die gesegde ‘dis nie wat jy weet nie; dis wie jy ken,’ is baie waar. Netwerkvorming is 'n baie belangrike hulpmiddel vir jou loopbaan en dis jou verbintenisse wat vir jou kan deure oopmaak. Deur brûe te verbrand kan jy wonderlike geleenthede misloop,” sê Nelmarie.

Met ander woorde, moenie jou werkplek, kollegas of bestuurders slegsê nie. Dit kan jul verhouding permanent laat versuur as hulle daarvan te hore kom. Jy weet ooknie of die student wat jy voor almal verneder het, eendag ’n bestuurder by jou onderneming gaan word nie.

7. Wees slim oor sosiale media

Moenie onvanpaste materiaal op sosialemediawebtuistes plaas nie, maan Joslyn Manuel, 'n bedryfsielkundige van Kaapstad.

“Dit sal jou reputasie skend en dit sal moeilik wees om toekomstige loopbaanvooruitsigte te vind, want werwers kyk na sosiale webtuistes.” 

Gebruik die veiligheidsverstellings op webtuistes soos LinkedIn, Facebook, Twitter en Instagram en maak seker jou digitale self lyk professioneel.

Moet nooit jou baas, kollegas of werkplek op sosiale media slegsê nie. “Dit wat op sosiale media gesê word, kan en sal teen jou gehou word. Daar is al te veel voorbeelde van mense wat afgedank is vir ’n onvanpaste twiet of statusbywerking,” sê Nelmarie.

Jy sal ook in die pekel beland as jy omstrede kommentaar plaas of iets kwytraak wat teen jou werkplek se doelwitte en waardes indruis.

8. Die misbruik van hulpbronne

Jou werkgewer gee nie om dat jy kolwyntjies bak en vir 'n ekstra inkomste verkoop nie, maar dit beteken nie jy kan die onderneming se hulpbronne gebruik om jou buitesaak te bedryf nie.

“As jy ekstra werk gaan doen, moet jy eerder toesien dat jou werkgewer jou nie vang dat jy sagteware van hul internet aflaai of hul skootrekenaar gebruik om jou onderneming in hul tyd te bedryf nie,” sê Khanya.

Moenie terwyl jy by die werk is elders werk soek of jou profiele op sosiale media bywerk nie; jou werkgewer sal agterkom jy is nie op jou werk ingestel nie.

9. 'n Negatiewe houding

Jou houding kan jou loopbaan laat ontspoor as jou kollegas jou as arrogant, veeleisend, manipulerend, onsensitief, afsydig of oorkrities ervaar. 

“Sulke soort gedrag sal jou verhouding met jou kollegas vernietig,” sê Elmarie Bessinger, 'n bedryfsielkundige van Kaapstad.

“Vra terugvoer by diegene wat jy vertrou oor jou gedrag by die werk en doen stappe na aanleiding van hul terugvoer.”

Richard stem saam. “Mense geniet nie die geselskap van of werk nie graag saam met iemand wat altyd kla of pessimisties is en ander mense blameer wanneer iets skeefloopnie.”

10. Die klant is altyd reg

Om met klante onbeskof te wees of hul bekommernisse of klagtes as onbelangrik af te maak, is 'n groot loopbaanfout, sê Khanya. 

“Mense vergeet dat die onderneming of jou werk nie sonder klante sou bestaan het nie.” 

Sy beveel aan jy bly kalm met klante, al voel jy lus om te stry. Vind maniere om jou kommunikasie- en klantediensvaardighedete verbeter.

Neem dieselfde houding aan met jou baasen kollegas.

“Bestuur jou emosies intelligent. Ons emosies kan ons soms mislei en die verkeerde koers laat inslaan of ons goed laat doen wat ons later sal berou,” sê Elmarie. 

As jy byvoorbeeld die skuld kry vir jou kollega se fout, moet jy sterk staan en jou saak stel. So moeilik as wat dit dalk is, moet jy kalm bly en nie ontplof of in trane uitbars nie. 

Loopbaanwenke
  • Jy moet 'n loopbaanplan hê, sê die voorligtingsielkundige dr. Nelmarie Boshoff. “As jy nie een het nie, plaas jy iemand anders in beheer van jou loopbaan. Kies ’n visie vir jouself en gebruik dit om kort- en langtermyndoelwitte vir jou loopbaan te stel.”
  • Wees sigbaar vir jou base, sê Joslyn Manuel, 'n bedryfsielkundige van Kaapstad. “Bied aan om slypskole en vergaderings by te woon en toon jou talente en vermoëns.” George Clarke, 'n menslikehulpbronkonsultant van Heidelberg, Gauteng, stem saam. “Bied aan om dinge te doen. Daardeur kry jy blootstelling wat ander nie kry nie en dit gee jou die voorsprong.”
  • Harde werk sal jou ver bring, maar sorg dat jy gereeld blaaskanse en vakansies neem. “ ’n Oorwerkte en uitgebrande werknemer is nie 'n mooi prentjie nie,” sê Nelmarie. “Wanneer jy te moeg is, sal jy minder waarskynlik goeie loopbaanbesluite kan neem, en jy sal ook nie op jou beste kan presteer nie. Neem gereeld 'n blaaskans, moenie middagete by jou lessenaar eet nie, neem aan stokperdjies deel en bestee tyd saam met jou geliefdes.”
  • Belê in jouself deur kursusse, slypskole en ander leergeleenthede te benut. “Moet nooit ophou leer nie,” sê George. “Jy kan net so ver in jou loopbaan groei as wat jou kennis strek.” Die loopbaanafrigter Khanya Matlala sê jy moet op die hoogte bly van ontwikkelings in jou veld. “Moenie tegnologie of veranderinge en vooruitgang ignoreer wat vir jou rol of onderneming belangrik is nie. Hou jou vaardighede skerp, anders vervang ’n app jou.”
  • Pas by verandering aan, sê die bedryfsielkundige Elmarie Bessinger. “Oordrewe afhanklikheid van ’n enkele vaardigheid kan veroorsaak dat jy jou eie loopbaan ondermyn.”
  • Leer wanneer om nee te sê. Jou werkgewer sal beïndruk wees as jy bereid is om ekstra moeite te doen, maar stel grense. “As jy gedurig vir iemand anders instaan, kan jy oormoeg raak en dit kan ’n negatiewe uitwerking op jou ingesteldheid hê,” maan Nelmarie.
  • “Doen navraag oor geleenthede vir posrotasie om ervaring in die volle spektrum van jou afdeling op te doen,” sê Joslyn. As jy byvoorbeeld in menslike hulpbronne werk, kan jy vra om deur werwing en keuring, die betaalstaatafdeling en arbeidsverhoudinge te roteer. Dit kan ook nuwe loopbaanmoontlikhede vir jou ontsluit.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.