’n Koppie koffie sal jou wel opkikker en ’n gebalanseerde ontbyt sal brandstof vir die dag verskaf, maar dit is bloot tydelike oplossings. 

Ná ’n peiling is bevind 77% van deelnemende Britte kry nie ’n behoorlike nagrus nie. Holly Housby, ’n slaapdeskundige by die matrasvervaardiger Sealy, het die volgende wenke gedeel oor hoe jy snags beter kan uitrus.

Hou by jou slaappatrone

“Staan op jou gewone tyd op, maar gaan slaap ’n uur vroeër,” het Holly aan Cover Media gesê. “Wat jou biologiese klok betref, is roetine noodsaaklik – en ja, dit geld vir naweke ook!”

Kry die regte duvet 

“Dit is van uiterste belang dat jy die tog-waarde (dit meet hitteweerstand) van ’n duvet in ag neem. Hoe hoër die tog-waarde, hoe warmer sal die duvet wees,” het Holly verduidelik.

“’n Tog van 2,7-7 is perfek vir die somermaande, terwyl ’n duvet met ’n tog van 13,5-15 beter sal wees vir die winter.”

Wees drinkslim

Te veel kaffeïen voor slaaptyd sal maak dat jy heelnag rusteloos voel, maar het jy geweet alkohol verminder REM-slaap? “Altesaam 70% van deelnemende Britte het toegegee hulle sou beter werk kon lewer as hulle beter kon slaap. Miskien moet jy twee keer dink voor jy ná werk ’n paar drankies wegslaan,” is Holly se raad.

Raak fiks en gesond

Benut die warmer weer om uit te kom en te oefen. Dit sal jou deur die dag energieker laat voel en ook help dat jy teen die aand moeër is. “’n Volgehoue goeie dieet is ook belangrik om jou algehele energievlakke te bevorder; maak dus seker jy eet baie vrugte, groente en neute en drink baie water,” sê Holly.

Word ’n oggendmens

“Altesaam 76 persent van die deelnemers aan die peiling gee toe hul persoonlike lewe sal baat vind by beter slaapgehalte. Waarom nie die dag vroegoggend al met mening aanpak nie?” vra Holly. ’n Te besige verstand hou baie mense snags wakker, maar as jy die vorige aand reeds vir die volgende dag voorberei, kan jy ’n kommerlose nagrus hê en soggens minder gespanne voel. Maak ’n lysie van al jou oggendtake, kry jou werksak gereed of pak jou middagete in sodat jy voorbereid is op die onvermydelike gejaag in die oggend.

Moenie dut nie

“Dit lyk miskien voor die hand liggend, maar probeer om nie gedurende die dag te dut nie sodat jy ’n hele nag se slaap kan geniet,” sê Holly. As jy egter nie ’n middagslapie kan weerstaan nie, maak seker dit duur net 10-20 minute.

Besoek sealy.co.uk vir nog raad oor slaap.