Is jy skuldig daaraan om vir jou hond of kat ’n smaaklike teetydhappie of dalk ’n skelm brokkie onder die etenstafel te voer?

Hoewel jou troeteldier sekerlik vir jou lief sal wees, bewys jy sy gesondheid geen guns nie. Vetsug onder troeteldiere is ’n toenemende probleem en veroorsaak ’n hele spul ernstige gesondheidsprobleme.

Trouens, selfs ’n klein hoeveelheid ekstra gewig kan groot stremming op ’n dier se gewrigte, asemhaling- en sirkulasiestelsel plaas.

Oktober is Troeteldiervetsugmaand in Suid-Afrika, en veeartse landwyd bied gratis gewigsevaluerings en raad. Jy kan ook self ’n ondersoek by die huis doen.  

Gesondheidsgevare

’n Oorgewig troeteldier loop ’n veel groter risiko vir siekte, sê suster Cindy du Preez van die Bakenkop-dierekliniek in Centurion.

“Wanneer troeteldiere oorgewig is, veroorsaak die toename in vetweefsel algemene inflammasie in die liggaam. Dit kan baie probleme veroorsaak, onder meer vel- en urienwegkwessies.” Nog gesondheidsgevare sluit asemhalings-, gewrig- en rugprobleme, diabetes, hartsiektes, ’n groter narkose-risiko en ’n swak immuunstelsel in.

Kry ’n gratis evaluering

Besoek petslimmer.co.za om ’n veeartspraktyk of -kliniek te vind wat ’n gratis troeteldierevaluering bied.

Wat moet jy doen?

Die eerste ding wat ’n eienaar moet doen, is om sy mollige maat op ’n verslankingsprogram te sit, sê Cindy. “Praat met ’n veearts of vra raad by ’n dierekliniek oor die gepaste dieet en wanneer om ge- reelde weegsessies te skeduleer. Om die dier vir ’n program in te skryf, kan eienaars gemotiveer en doelgerig hou.”

Die volgende stap is oefening. “Net soos by mense is dit ’n belangrike aspek van enige gewigsverliesprogram,” sê die Johannesburgse veearts dr. Guy Fyvie. “Baie troeteldiereienaars meen as hulle ’n groot genoeg werf of veelvuldige troeteldiere het, sal hul diere aktief bly, maar dit is nie altyd die geval nie.

As jy nie gereeld met jou troeteldier kan gaan stap nie, oorweeg dit om ’n hondestapper te kry.” Speletjies is nog ’n moontlikheid. “Om ’n bal of speelding te vang is goeie oefening vir jou hond. Gebruik steiltes of trappe vir ’n groter uitdaging.”

Wees op die uitkyk na speelgoed wat aktiewe spel by katte aanmoedig. “Jy kan jou kat ook op nuwe plekke probeer voer en hom vir sy kos laat ‘jag’,” sê Guy.  

Waarskuwingstekens

Is jy onseker of jou hond of kat oorgewig is?

Dit is waarna jy moet oplet:

  • Ribbes kan nie meer gevoel word nie.
  • Het nie meer ’n duidelike middellyf nie.
  • Stel nie meer in speel belang nie of is nie in staat om te speel nie.
  • Het vetkussings oor heupe en basis van stert.
  • Stap of spring moeilik. Versorg hulself moeilik.
  • Halsband moet wyer gestel word.
  • Is kortasem.
  • Slaap meer as gewoonlik

Kosreëls

Dit is belangrik dat troeteldiere se kos vir hul ouderdom, grootte en leefstyl geskik is. Vra jou veearts se raad. “Een grootte pas nie almal nie,” sê Guy.  

Verhoed dat jou dier die vetjies aanpak deur die volgende reëls te volg:

  • Geen tafeloorskiet of menselekkernye nie. Dit bevat gewoonlik baie vet, suiker of sout, is voedselkundig ongebalanseerd vir diere en kan tot fiemies en bedel lei.
  • Moenie kos laat rondstaan nie. Veral honde haal soms skelmstreke uit. Party maak selfs yskaste oop. Moenie vir troeteldiere ’n dieet met baie vet of energie voer as hulle min oefening kry nie.
  • Meet die kos af; moenie “ ’n bietjie byvoeg” omdat jy jou vierpootvriend jammer kry nie.